Droogte in Limpopo ‘raak nou lelik’

Foto: Verskaf

Talle boere in Limpopo doen aansoek vir voerskenkings in ’n desperate poging om hul vee aan die lewe te hou te midde van knellende droogte in dié provinsie.

“My telefoon hou nooit op met lui nie,” vertel Tommie Klopper, koördineerder van die Boere in Nood-organisasie.

Klopper het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê dat Boere in Nood talle aansoeke uit droogtegeteisterde gebiede soos Alldays, Baltimore, Lephalale, Tshipise, Vivo en Maasstroom ontvang. Dié gebiede se weiding lyk beroerd en diere is besig om te vrek.

Klopper vertel van ’n boer in Limpopo wat net in Oktober sowat 70 diere weens die droogte verloor het. “Dit raak lelik,” sê hy.

Limpopo het die afgelope drie jaar min reënval ontvang, maar dis veral die laaste twee maande wat boere in dié omgewing ’n laagtepunt bereik het. “Hulle het vasgebyt tot nou, maar dit gaan nou baie sleg.”

Klopper verduidelik dat daar min voer in dié omgewings beskikbaar is en die voer wat wel beskikbaar is, is vir baie boere onbekostigbaar omdat die tekort die prys van voer die hoogte in laat skiet het. Boere in Nood het gevolglik in die afgelope drie maande reeds 71 vragte afgelewer – van grasbale tot soja- en mieliereste. “Eintlik enigiets wat ons kry. ’n Honger dier eet enigiets.”

Volgens Klopper kom die meeste voerskenkings uit Mpumalanga.

Hy vertel dat die vervoerkoste om die voer op die betrokke plase te kry ʼn al groter uitdaging is weens die stygende brandstofpryse. Hy beskryf die afgelope tyd as ’n moeilike tyd vir almal in die landbousektor.

Die organisasie ontvang ook nie juis kontantskenkings nie aangesien almal maar swaar trek. Klopper verduidelik verder dat die droogte nie net sy tol op plase eis nie, maar ook in die omliggende dorpe. “Ek sien dit raak,” sê hy.

Hy meen dat die droogte ’n impak op die dorpe se ekonomie het, asook werksgeleenthede knou, aangesien daar bloot nie meer geld is om werkers op plase te hou nie.

Die organisasie is juis daarom vasbeslote om vir boere in nood bystand te gee. “Ons wil boere op hul plase hou en hulle in staat stel om hul diere te behou. As ’n plaas nie meer diere op het nie, kan jy net sowel sy hek sluit.”

Klopper verduidelik dat Limpopo gewoonlik reënval in die somermaande ontvang, maar dat dit onmoontlik is om te sê wanneer uitkoms gaan kom. “Dit reën, maar dit reën in sulke strepe en kolle. Een boer kan reg wees oor drie weke, maar ’n ander boer kan niks [reën] kry nie,” verduidelik hy.

“Dit reën ook nie gras nie – dit sal tyd neem om van die droogte te herstel.”

Besoek Boere in Nood se Facebook-blad om voerskenkings of finansiële bydrae te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ellisras ·

In Ellisras is ‘n komitee wat die Droogtehulp koordineer. Daar is baie voer beskikbaar maar geen vervoer. En geen van die boere kan bekostig om dit self aan te ry nie. Die droogte het ons almal op ons knieë. Ons vra groot asb, help ons. Ons kan nie meer nie.

Nossob ·

Die foto van die bees en die wildebees by een voerbak maak my baie bekommerd. Snotsiekte in Limpopo is n werklikheid en soos dit tans lyk gaan entstof teen Snotsiek vir nog tenminste 2 jaar nie beskikbaar wees nie.
Asb mede boere, die droogte is alreeds n groot problem. Moenie jou diere in die stadium van swak kondisie nog blootstel aan siektes ook nie.

Tom Burke ·

Die is hartverskeerend. Ek kry swaar om deur die plaas te ry en te sien hoe lyk dit. Ons boere en diere kry bitter swaar. @ Ellisras ja als die regering se skuld dat vervoer onbekostigbaar is.

Ellisras ·

En dan vra ons. Moet asb nie op individue versoeke reageer nie. BOERE IN NOOD en AfriForum is die enigste betroubare kanale. Daar is ongelukkig individue wat die situasie uitbuit.

LD ·

Ek bly op n plaas in Limpopo en die reen is verskriklik skaars hier. Die arme bosbokkies en vlakvarkies kom al tot by my huis se deur vir kos. Die plaas dam is al die afgelope 2jaar kirkdroog? en net n klein geboude dammetjie wat ons vol probeer hou sodat daar darem water is om te drink maar dit raak ook al moeiliker omdat die ondergrondse water al minder raak…. dis so verskriklik hartseer? asb mense kom ons bid saam vir elke provinsie wat droogte ervaar?

Anelle Minnaar ·

Ai tog, mense, en in die noordelike halfrond spoel die mense weg, en dit sneeu!!!!!

Anoniem ·

Bid, koördineer ‘n biddag vir reën, en vra met ontvanklike harte ! ????????

Beplanner ·

Hoe verlang hulle nou weer aan die ondersteuning van die doodgewone ou biltongjagter…

julius ·

Beplanner ek het jou boodskap gesnap. Hoekom moet ons ten duurste betaal vir ‘n stukkie wildsvleis vir biltong? Net oorseese jagters kan dit bekostig.

Daan ·

Biltong jagter. Almal wat wil goedkoop jag. Koop vir jou ‘n plaas. Plase is nou goedkoop. Dan loop jy die gevaar dat plaas onteien gaan word. En leef saam met ‘n minimum loon. En ‘n Eskom rek wat R1000 is voor jy krag gebruik. Dan nooi jy my vir ‘n goedkoop jag.

Netso ·

Jy sien diere dood langs die lyndrade lê maar dis vir die wildboer beter as om sy pryslys en horinglengtes bietjie eenkant te skuif! Ek kyk na die hartseer videos van uitgeteerde diere en vra myself hoe kry jy dit oor jou hart om dit waaroor jy moet heers so te straf asof dit sy skuld is hoekom hy ingehok moet wag om van die honger te vrêk?

Johnnie ·

As ek mag vra hoekom vra hulle nie dat dit op sauk nuus uitgesaai word nie dat gift of the givers dit sien en miskien sal help met vervoer of dat ander groot vervoer matskappye dit dalk sien en die nodige vervoer sal verskaf nie. Op die staduim moet n mens enige iets probeer selfs om mense met bakkies en sleepwaens te vra om te help om die voer by die boere te kry verder kan ons maar net bid dat die Here vir hulle die nodige reen sal stuur.

kallie ·

Om honger en dors te wees,dis dan hoe enige lewende wese kan voort bestaan ,deur te drink en te eet. Dit is ‘n verskrikking om niks te hê nie en die stomme diere verstaan nie. En later gaan ons as mens ook onder en vir my ‘n groter ellende: ons regering verkwis geld asof dit nooit gaan ophou nie. Sien hulle nie wat besig is om te gebur nie? Ons ekonomie sink,die landbou is reeds besig om te gaan….

Jan ·

Ek het vir jare die boere en inwoners van die noordeloke dele aangemoedug om meer damme en minder kerke tw bou maar lyk my afrikaners kan maar net nie logies dink nie.groot damme verhoog die reenval omdat die water wat verdamp weer op ander plekke uitreen.maar die boere kan dit maar net nie verstaan nie…

Joseph ·

Jan lyk my jys n profeet en n weer profeet ook! Jyt jou beroep gemis.?

jaco ·

vreemd dat dit droog is in Limpopo. n ANC raadslid van iewers in die binneland het dan in 2017 gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar ANC stem.
So nou wonder ek maar net: as die ANC se korrupsie en swak regering dan alles BINNE die Here se wil en dis nie sonde is nie en aangesien Limpopo wel onder die ANC se beheer is, waarom is dit dan droog daar? Watse sonde het die meeste kiersers daar dan gedoen om met droogte gestraf te word, as net DA stem met droogte gestraf word???

Net 'n Voorstel ·

As almal wat Desember in Limpopo gaan vakansie hou 1 of 2 bale lusern oplaai en op ‘n sentrale punt kan aflaai sal dit baie help, dit kos tussen R95 en R100 in Gauteng vir ‘n baal en ek is seker daar sal plek wees erens om dit op te laai. Tolgeld is meer as dit en ten minste sal dit vir ‘n goeie doel wees.

Anoniem ·

As jy sien hier kom probleme jou streek bly droog en jou weiding raak min is dit dan nie n beter opsie om van jou vee/ wild te verkoop sodoende is daar meer weiding vir die wat oorbly en het jy n paar rand om voer te kan aankoop. Nou laat jy 70 diere doodgaan van die honger en dan pleit jy by ander vir hulp. Maak jie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.