Droogte in SA ‘nie meer ʼn ramp’

(Argieffoto: Yolandi Kruger)

Die droogte in Suid-Afrika is nié meer ʼn ramp nie.

Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, het Donderdag in die Staatskoerant aangekondig die klassifisering van die droogte as ramptoestand word opgehef. Die besluit is geneem in oorleg met provinsiale rampbestuursentrums en nadat die omvang en erns van droogtetoestande landwyd ondersoek is, lui die aankondiging.

Die verklaring van die droogte tot ramp is sedert 4 Julie nie meer van toepassing nie.

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê die ramptoestand het in praktyk weinig beteken vir talle boere wat onder die droogte steier.

“ʼn Droogte of ramptoestand is nie verby net omdat ʼn bui reën geval het nie. Groot dele van byvoorbeeld die Noord-Kaap is steeds baie droog. Sommige gebiede het reën gehad, maar die veld kan nie binne ʼn jaar herstel nie. Jy het nodig om die veld te laat rus en jou diere steeds te voer,” het hy gesê.

Meintjes het gesê sommige boere het hul kuddes met tussen 50% en 60% verminder en moet dit nou weer begin opbou, voer en op ʼn ekonomies haalbare vlak kry.

“Dít is waarvoor hulle hulp nodig het,” het hy gesê.

Meintjes sê verskeie gebiede het die afgelope agt jaar ondergemiddelde reënval en soms van die droogste jare nóg ondervind.

“Dit beteken net een ding en dit is dat die regering nie weet hoe landbou werk of wat nodig is om suksesvol te boer nie.”

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hulle is uiters teleurgesteld in die aankondiging.

“Wat verder ontstellend is, is die bewoording wat daarmee saamgaan: Dat landbouers ʼn toleransie moet ontwikkel teen droogtes omdat droogtes die uitvloeisel van klimaatsverandering is en dat die staat nie verder daarvoor hulp kan verleen nie.

“Rampdroogte is net so ʼn ramp soos wat ʼn groot brand, of ʼn oorstroming of ʼn aardbewing is. Dis buite die beheer van ʼn mens en daar kan nie voorsiening voor gemaak word nie. Daarom is dit die verantwoordelikheid van die staat om só ʼn ramp te stabiliseer om dan te help dat die sektor, of omgewing of gemeenskap weer op hul voete kan kom.”

Jansen sê dit is onverantwoordelik om droogte van ramptoestande uit te sluit en dat daar geen bewyse is dat die huidige droogte uitsluitlik die gevolg van klimaatsverandering is nie.

“Die staat voer in hierdie stadium aan dat hy die koste van droogtehulp nie kan bekostig nie, maar het nog nie verreken wat die koste gaan wees as die land nie meer voedselsekerheid het nie. Daardie koste is veel hoër.”

Jansen sê Agri Noord-Kaap sal in samewerking met Agri SA met die regering vergader om die weg vorentoe te bepaal.

Hy sê nagenoeg 50% van die Noord-Kaap verkeer steeds in ʼn rampdroogtetoestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Se dankie dat die droogte in SA bietjie gebreek en verlig is. Is nou net nog die ANC wat ‘n ramp is!

Kokerboom ·

Verskil is Johan die ANC ramp kry deurgaans volle rampvergoedig dus die idiotiese uitsprake…

Piet ·

Baie goeie nuus, maar eks bevrees nou dat dit verby is gaan dit vinnig vergeet word dat die klimaat drasties verander en ons dringend iets aan dit moet doen. Hou op stry oor watse taal vookeur kry en watter standbeelde mag bly staan. Die planeet is nie gesond nie. Die volgende droogte mag dalk erger wees as die een en dan gaan dit nie saak maak in watter taal jou kind sy klank inginieur diploma doen nie.

SomeOne ·

Ambulans-motorfietse ‘apartheid se skuld’ – minister, se Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, nie ook so nie

IQMaps ·

Tau moet net bietjie herinner word waar sy kos vandaan kom en sy water

Piet ·

Die regering dink seker dit reën gras. Hulle doen minder ver die boere as bv Burrie Burger om maar net een te noem. Daar is baie ander organisasies wat in stilte hulp verleen

Cheryl ·

As stupidity ‘n kolletjie was het ons ‘n plaag tarentale gehad. Waar kom die mense aan die klomp snert? Dis skrikwekkend om te sien hoe hulle hierdie eens voorspoedige land tot in die diepste afgrond ingewerk het en dit heeltemal op hulle eie. Dis die boere wat op hulle knieë nog hierdie land aan die gang hou. Dankie boere. Julle is absolute sterre en ons bid vir julle.

Boortor ·

Die ramp gaan kom as die kos opdroog. Dan gaan jy n gekerm en kla hoor. Dit gaan apartheid die skuld kry.

Deon ·

Die minister moet ook maar n toleransie teen eet ontwikkel. Mens kan duidelik sien die regering het nie die vaagste benul hoe boerdery werk nie.. Of miskien is dit ook maar n kwessie van bewei tot daar absoluut niks oor is nie..

marius ·

Weet hy waar is limpopo ? Vrek van die dors is on die draai , glo dit maar.

Jack ·

Ek vind dit vreemd dat die besluite van voor 1994 besef het dit gaan oor voedselsekerheid en nie die oorlewing van wit boere direk nie terwyl die besluitnemers van vandag dink dit gaan oor die wit boere en vergeet van die hordes wat moet eet. China kan nie vir almal sorg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.