Droogte knou wildboerdery

WAARSKUWING: Die foto in die berig kan sensitiewe kykers ontstel.

Die droogte in noordelike provinsies van die land het ʼn dramatiese effek op wildboerdery.

As gevolg van die voortslepende droogte het dit in sekere gebiede noodsaaklik geword om selfs sebras vankant te maak eerder as om die diere toe te laat om van honger te vrek.

ʼn Foto van ʼn bakkievrag karkasse van sebras wat die afgelope paar dae in die Baltimore-omgewing vankant gemaak moes word weens die droogte en gebrek aan weiding, bring die boodskap van dié desperate situasie tuis.

Volgens dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildlife Ranching South Africa (WRSA), voorspel weerprofete niks goed vir die meeste dele van die land nie. “Die voorkoms van die El Nino-weerverskynsel gaan vir die volgende twee jaar in die meeste dele van die land die droogtetoestande vererger,” het Oberem gesê.

Sebras word in die noordelike provinsies vankant gemaak omdat daar nie meer weiding oor is nie. Foto: Jean-Pierre (JP) Steyn

Sebras word in die noordelike provinsies vankant gemaak omdat daar nie meer weiding oor is nie. Foto: Jean-Pierre (JP) Steyn

“Noordwes en die Vrystaat is die afgelope twee, drie jaar reeds onderworpe aan ʼn knellende droogte en volgens weervoorspellings lê daar ʼn bittere droogte voor vir die volgende twee jaar.”

Oberem se raad aan wildboere is om vooruit te beplan en seker te maak dat daar nie te veel wild op hul plase is nie en dat hulle betyds voer aankoop.

Volgens Oberem gaan die situasie erger word namate die droogte in felheid toeneem. “Dit is beter vir wildboere om wild vroegtydig van die hand te sit, al is dit vir die rooivleismark, maar eerder vroeër as later.”

Die wildbedryf is egter steeds beter bestand teen die droogte as die veebedryf, meen Oberem. “Wild is beter aangepas by ekstreme toestande omdat dit meer gehard is as vee, maar dit is steeds nie immuun teen droogte nie.”

Hy stel voor dat wildboere hul wild gewoond maak aan voer. “Die meeste wildspesies pas redelik goed aan by addisionele voer. In 2008 was dit bitter droog vir etlike maande voordat dit op 1 November begin reën het. Die addisionele voer het die wild deurgedra totdat die veld ná die reën herstel het.”

Volgens Oberem behoort die goeie pryse wat wild die afgelope tyd op veilings behaal het wildboere te help om die droogte te oorleef. “Baie van die wildplase het genoeg wins gemaak deur die goeie seisoen om hulle deur te dra.”

Volgens dr. Gert Dry, vorige voorsitter van WRSA, is vee meer kwesbaar vir droogte omdat hulle spesialisvreters is. “Wild soos koedoes, elande en njalas het ʼn beter kans op oorlewing omdat hulle blaar- en grasvreters is. Sebras het ʼn besondere uithouvermoë omdat hulle die gras tot in die wortels onder die grond afwei. Wanneer sebras begin swaarkry is dit ʼn teken dat die weiding uitgeput en die situasie benard is.”

Volgens Dry is die feit dat wildboerdery in Suid-Afrika nie onder die definisie van veeboerdery val nie, ʼn groot nadeel vir wildboere onder sulke haglike droogtetoestande. “Wildboere kan nie aanspraak maak op droogtehulp nie en moet die las self dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BoereBikerBaby ·

shame dis sad. maar ek stem eerder dit as honger lei.

Berhalet Beukes ·

Ons kan miljoene aan optogte spandeer maar nie ‘n sent uithaal om die diere te verplaas na ander areas nie? Ag nee regtig!

Mandy ·

Ek stem saam Berhalet Beukes, julle kon die diere nie maar net verhuis nie???

Susan ·

Stem saam. Hierdie is regtig baie drasties. Kon hulle nie boere elders gekontak het om die diere oor te neem nie??????

Thomas ·

Mandy & Berhalet waarna toe moet die diere geskuif word as die hele land droog is. 99% van ons boere wys nou wild aan die hand want ons almal se weiding is op en as jy by R2mil per jaar kom met voer kostes dan begin mens maar ander plan maak. So kry eers bietjie kennis van die onderwerp voor julle begin teem.

Geleentheidsjagter ·

Stuur die foto’s aan vir al die anti- jag tannies !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.