Droogte moet weer tot ramp verklaar word – DA

(Argieffoto: Dept. van landbou: Wes-Kaap)

Tydens ʼn onlangse besoek van raadslede van die Demokratiese Alliansie (DA) aan die Sentraal-Karoo-distrik, het hulle bevind dat die onlangse reënval die droogte wat die streek die afgelope sewe jaar geteister het, nie verlig het nie, en dat boere op die rand van wanhoop is.

Ná afloop van die besoek deur DA-LP Noko Masipa en Daylin Mitchell doen die party ʼn beroep op Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA), om die klassifikasie van die droogte weer in te stel as ʼn ramptoestand wat die hoof van die nasionale rampbestuursentrum, Mmaphaka Tau, in middel Julie vanjaar herroep het.

Tau het op 16 Julie vanjaar in die Staatskoerant aangekondig die klassifisering van die droogte as ramptoestand word opgehef en dat landbouers maniere moet vind om hulle teen droogtes te beskerm. Die besluit het groot kritiek ontlok omdat ʼn droogte nog in talle gebiede heers. Verskeie gebiede het die afgelope agt jaar ondergemiddelde reënval en soms van die droogste jare nóg ondervind.

“Ek en Mitchell het boere besoek wie se vee van dors en honger gesterf het. Plase in die Noord-Kaap en Sentraal-Karoo is veral swaar deur die droogte getref en ly onder die ekstra las van groot roofdiere wat die verswakte vee teiken,” vertel Masipa.

Die DA versoek ook dat alle gebiede wat steeds deur droogte in alle dele van die land geraak word, amptelik tot rampgebiede verklaar word. Masipa sê sodra dié gebiede onder die loep geneem word, moet die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, toesien dat skuldverligtingspakkette deur die Land Bank en handelsbanke beskikbaar gestel word om die finansiële druk van boere, wat onder die dreigende droogte gebuk gaan, te verlig.

Die DA doen verder ʼn beroep op Didiza om ʼn dringende landbouklimaatberaad byeen te roep om langtermynoplossings te vind vir die gebiede van Suid-Afrika wat kwesbaar is vir droogte.

Masipa sê boere het gekoördineerde ondersteuning nodig.

“Boere se skuld styg en word ondraaglik om te dra.”

Masipa sê die nasionale tesourie was grotendeels afwesig van ondersteuning as dit in die landbousektor benodig word. “Vantevore sou die Land Bank droogtehulpfondse aanbied wat in die vorm van goedkoper lenings deur die Bank gekanaliseer sou word. Vir die Land Bank om hierdie droogtehulpfondse te voorsien, moet die gebiede eers tot rampgebiede verklaar word.”

(Argieffoto: Marydale Droogtehulp/Facebook)

Masipa sê hoewel die Covid-19-pandemie ʼn groot uitwerking op die meeste boere gehad het, moes sommige boere toesien dat hul hulp wegkwyn, aangesien droogtehulp van R466 miljoen herlei is vir Covid-19-verligting vir die landbousektor. Van dié boere kon nie van dié hulppakket eis nie.

“Hierdie boere het ʼn dubbele slag gekry: Hul droogtehulp is deur ʼn ander ramp verswelg en hulle mag nie hulp eis vir hierdie tweede ramp wat hulle moes beleef nie.”

Talle plaaswerkers het ook intussen hul werk verloor weens die finansiële druk wat die Covid-19-pandemie en droogte op boere plaas. “As die regering nie hierdie krisis ernstig begin opneem nie, gaan nog meer werkers hul werk verloor en nie vir hul gesinne kan sorg nie.

“Boere het nie oneindige hulpbronne of planne nie. Hulle kan nie voortdurend die storm alleen deurstaan nie. Hulle kan nie alleen droogte, veediefstal en plaasaanvalle die hoof bied nie.”

Masipa meen die departement moes lankal reeds ʼn solidariteitsfonds vir droogtehulp gestig het.

“Suid-Afrikaanse boere sou dan nie die stryd moes voer om om hulp te pleit terwyl hulle probeer om voedselsekerheid te verseker nie.”

Die DA wil ook weet waarvoor die geld vir die ramptoestand gebruik word.

In 2017 het Agri SA gevra vir ʼn ondersoek na hoe die R2,5 miljard vir droogtehulp bestee is nadat talle kommersiële plase geen staatshulp gekry het nie. Die kwessie is nooit opgelos nie.

Willie Aucamp van die DA en Fanie du Toit van die VF Plus het reeds einde Augustus die minister uitgevra oor droogtehulp, veral met dié dat die droogte in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat nog nie gebreek is nie.

Didiza het gevolglik gesê die grootste probleem met droogtehulp is dat verskeie provinsies nie in staat is om die droogtehulp suksesvol te administreer nie, maar haar departement sal hulle bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Die ANC kommuniste gee nie eers om vir mense se lewens nie wat nog vir die diere se lewens.

Kokerboom ·

Die droogtehulp moet deur die verskeie kooperasies in droogtegeteisterde gebiede ge-administreer word.NIE Staat of Provinsies

Anel ·

Nou wil ek graag weet, wat se ander planne moet boere maak om die droogte die hoof te bied? Toe, slim minister. Vertel jy vir ons. Is dit nie reën nie, dan reën dit nie. Reën kom uit die hemel. Daar is nie ‘n aan en af knoppie of’ n kraantjie wat oopgedraai kan word nie. Water moet spaarsamug deur ALMAL gebruik word en nie net sekeres nie, in elke geval. Al wat ins kan doen is om tot die Here te bid vir uitkoms.

Nozi ·

Kokerboom, dit word so gedoen maar niemand is bereid om te help met donasies nie. Gaan kyk bietjie op faceboek, Boerehulp SA, hul doen als in hul vermoee om die boere te help en ry voer aan vanaf Limpopo tot in die Khalahari met groot gesukkel aan. Daar is baie skenkings vir a baal of twee voer maar weinig min vir brandstof om die voer tot by die boere te kan kry. Ons eie mense gee nie eers meer om vir die boere wat swaar kry gedurende hiedie groot droogde nie. As elke persoon net R100 skenk sal hul baie meer na die boere toe kan uitreik, maar nee, R100 gaan almal mos baie armer maak. Gaan besoek hul fb blad asb en kom ons maak ‘n verskil en help die boere. Hul is ‘n wettige geregistreerde nie winsgewende organisasie. Asb mense kom ons staan saam en help hierdie mense om die boere van SA te kan help en by te staan gedurende hierdie tyd van swaarkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.