Droogte nasionaal tot ramp verklaar

(Foto: Yolandi Kruger)

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het nou die droogte in Suid-Afrika tot nasionale ramp verklaar.

Die afkondiging is Woensdag in die Staatskoerant gedoen.

ʼn Moordende droogte heers in sommige gevalle al jare lank in sekere streke en rampe is reeds in verskeie provinsies verklaar.

Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê die afkondiging moes lankal gedoen gewees het. Hy sê die belangrike vrae is nou hoe gehelp gaan word, hoeveel geld beskikbaar is vir hulp en wanneer die droogtehulp uitgerol gaan word. “Die sukses daarvan hang van dié drie faktore af.

“Dit gaan beslis help, maar ons moenie naïef wees en dink dit gaan dadelik alle boere se probleme oplos nie,” het hy gesê.

Meintjes sê selfs in gebiede waar dit wel gereën het, gaan dit jare duur voordat weiding en watervlakke weer herstel het. “My bekommernis is dat die regering die neiging het om hulp aan opkomende boere en nie kommersiële boere nie, te gee. Ons gaan nie voedselsekerheid red as ons nie kommersiële boere op hul plase hou nie.”

Andrea Campher, die landbouorganisasie Agri SA se ramprisikobestuurder, het gesê dit is onduidelik hoekom Dlamini-Zuma ʼn nasionale ramp verklaar het, veral omdat goeie reën in verskeie provinsies geval het en die produksievooruitsigte daar goed lyk.

(Argieffoto)

“Maar ons verwelkom beslis die afkondiging omdat daar nog verskeie streke – veral in die Noord-Kaap, dele van die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en Limpopo – is wat nog baie swaar kry,” het Campher gesê.

Sy het gesê Agri SA het ook meer duidelikheid nodig oor waarvoor die geld aangewend gaan word en presies hoeveel geld bewillig is. Die organisasie het ʼn beroep op die minister gedoen om met die bedryf te vergader sodat dié kwessies so spoedig moontlik uitgestryk kan word.

Die organisasie sê die kostedoeltreffendheid en uitwerking van die noodverligtingspogings moet ook fyn dopgehou word.

Wanneer ʼn ramp afgekondig word, moet die regering alle hulpbronne beskikbaar stel om die lot van diegene betrokke te verlig. In praktyk beteken dit die nasionale rampbestuursplan moet in werking gestel word en winkels, toerusting, voertuie, fasiliteite en personeel moet beskikbaar gestel word om die plan doeltreffend uit te voer – veral in provinsies waar die droogte nou al tussen en vier en vyf jaar lank duur.

Die proses is in die verlede egter al skerp gekritiseer omdat dit groot skuiwergate vir korrupsie skep.

Agri SA het hom verbind om sy kundigheid en netwerk beskikbaar te stel om die regering te help om die plan behoorlik uit te voer.

Annette Steyn, die DA-woordvoerder oor landbou, het ook gesê die afkondiging moes lankal gedoen gewees het, maar het die besluit nietemin ook verwelkom.

(Argieffoto: Elaine Krige)

Die DA vra nou dat ʼn tydelike werksfonds op die been gebring word vir werkers in van die provinsies wat die ergste geraak is. Steyn het gesê só ʼn fonds sal nie net help om verdere werksverliese te bekamp nie, maar kan ook broodnodige geld beskikbaar stel vir voer, waterinfrastruktuur, die sink van boorgate, ontsouting en die koste van aanplantings.

Sy het gesê ʼn interdepartementele taakspan bestaande uit die nasionale tesourie, die departemente van water en sanitasie, samewerkende regering en landbou, moet ook byeen geroep word om ʼn strategie vir die afhandeling van duur waterinfrastruktuurprojekte te ontwikkel.

Volgens haar het die regering se onvermoë om projekte met groot begrotings behoorlik te bestuur, die droogtekrisis vererger.

“In die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Limpopo het mense in stilte gely terwyl droogtes hul gemeenskappe lamgelê het,” het Steyn gesê.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het verlede jaar gehoor minstens R1,3 miljard is nodig om die uitwerking van die droogte op die landbousektor te versag.

Steyn sê die afkondiging van ʼn nasionale droogteramp beteken broodnodige geld word beskikbaar gestel. “Landelike gemeenskappe is swaar getref deur hierdie droogte en die ANC-regering het hulle lot met onverskilligheid begroet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Venter ·

Org Potgieter het mos vandag in ‘n artikel van Siener van Rensburg geskryf wat daardie tyd ook groot droogte voorspel het.

marius ·

Hulle kan vanaand R100 biljoen se note in die lee damme gooi . Dit gaan nie gedrink kan word nie . Waar is die damme wat hulle moes bou ? In hul kele en karre af . Dis die realiteit .

Jaco ·

iewers in 2017 het n ANC-raadslid vanaf iewers in die binneland gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar sonde doen deur DA stem
so nou wonder ek maar net: vanwaar dan die droogte in die res van die land, as dit dan blykbaar binne die Here se wil is en dus nie sonde nie om te stem vir n party wat glo in korrupsie, staatskaping, swak of geen dienslewering, swak onderwys, swak gesondheidsorg???

Gert ·

Hou die een maar dop… Stap 1: Fondse word beskikbaar gestel onder die mantel van ramp/droogte en sodoende word die geleentheid en kanaal geskep vir plundery. Stap 2: Die minister dek die tafel en maak dit amptelik bekend. Stap 3: Op kreatiewe en slinkse metodes word baie miljoene verduister. Stap 4: Iemand kom dit agter en ‘n kommissie word geskep. Stap 5: ‘n Uitgerekte proses wat niks oplewer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.