Droogte: Noord-Kaap kry eerste reën in 5 jaar

Reën in Vanwyksvlei. (Foto: Facebook)

Die eerste behoorlike reën in vyf jaar het gister in dele van die droogtegeteisterde Noord-Kaap uitgesak.

Volgens inligting deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens het dit Donderdag in en om Vanwyksvlei tot soveel as 40 mm gereën. Griekwastad het Maandag op plekke tot meer as 25 mm reën gekry en in Kimberley is 10 mm reën Maandagmiddag gemeet.

Maroela Media het dié gebiede verlede week besoek as deel van ʼn droogtetoer. Toe het boere aan Maroela Media vertel hulle moes meer as die helfte van hul kudde afstaan weens die droogte en dat boervroue hul mans se wapens wegsteek uit vrees dat hul donker gemoed die oorhand kry.

Deon Oberholzer, ’n inwoner van Vanwyksvlei, sê die mense op die dorp sien die reën as ʼn positiewe teken. “Die inwoners se gemoed is baie beter. Hierdie is ʼn begin wat ons hoop sal aanhou. Ons hoop en bid vir opvolgreën, nie net op die plase nie, maar in die hele omgewing.”

Volgens nog ʼn inwoner van Vanwyksvlei is daar plase wat ongeveer 25 mm reën gekry het. “Sommige gedeeltes is nog net stofnat, ander gedeeltes is al lekker modder. Die wolke lyk nog belowend. Dit gee ʼn mens weer hoop”

Droogte in Vanwyksvlei. Foto: Elaine Krige

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hulle is net so dankbaar vir die eerste reën wat in die Vanwyksvlei-distrik en ander dele geval het, veral omdat hy ook presies ʼn week gelede daar was en so intens bewus geword het van die enorme nood weens die rampdroogte. “Ons het egter nog ʼn baie ver pad om te stap om by die gemiddelde reënval van 180 mm per jaar uit te kom om die nodige verligting te bring. Dit is ook broodnodig vir die veld om te kan herstel. Ons sal steeds doen wat ons moet en voortgaan om droogtehulp in daardie omgewings te voorsien totdat daar weer genoeg natuurlike weiding in die veld is,” sê Jansen.

Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê produsente is baie dankbaar vir die reën. Die wydverspreide reën in die noorde van die land behoort druk op die markte te verlig, terwyl sekere droogtegeteisterde gebiede ook reën gehad het. Hy sê sommige van die plase in dié omgewing het egter steeds nie ʼn druppel reën ontvang nie.

“Droogtehulp en -ondersteuning bly noodsaaklik in die droogtegebiede waar dit nog baie tyd gaan neem om te herstel en nog baie reën broodnodig is.”

Hy sê nóg positiewe nuus vir die vleisbedryf is dat daar in die afgelope week nie nuwe uitbrake van bek-en-klouseer was nie. “Die volgende 21 dae sal bepalend wees om beheermaatreëls te heroorweeg. Ten spyte van bek-en-klouseer kon ons handelsvennote oortuig word dat die siekte se verspreiding onder beheer is, en dat uitvoere onverstoord kan voortgaan,” sê Van der Ryst.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Z ·

Innig dankbaar. Ons bid saam met die boere vir oorvloedige reën en ons Vader se seën op elke droë stuk grond. Mag julle oeste groot wees.

Cecilia ·

Dankie Heer, U het geantwoord! Stuur vir hulle nog meer sodat hulle weer moed kan skep vir die toekoms”

Petrus ·

Watter wonderlike gesig – kan dink hoe dankbaar Boere moet wees. Hartverskeurend om saans op Nuus te sien hoe maer en swak die Diere is. Amen.

Marietjie ·

So dankbaar vir die wat reën gekry het. Sal nog bly bid vir almal en sommer nog baie reën.

jaco ·

Voordat almal nou te bly raak: onthou net onteiening sonder vergoeding lê nog voor en kan so gou as oor 1 jaar begin.

Stokkies du Toit ·

Kan ek net iets sê sonder om asb as negatief uitgekryt te word. Ek is saam bitter dankbaar vir die reën, maar dit reën nie gras nie. Ek hoop eerlikwaar dat daar nog genoeg sal kom sodat die veld deurlopend water kry om kans te kry om genoegsaam te herstel en ook dat ondergrondse are genoegsaam gevoed en aangevul word

Nicolene ·

Inderdaad! Ek was gister in die Winton-omgewing, so 60 km anderkant Kathu. Dit het nog nie daar gereën nie, en dit gaan jare neem voordat die veld herstel, selfs al sou dit nou goed reën. Ek het beleef hoe opgewonde ‘n bottel kitskoffie ‘n gesin kan maak. Ons moet aanhou help want die mense in daardie gebied kry bitter swaar!

Tilla ·

Stokkies snaaks ek sit nou net en dink behalwe voer moet daar nie ook saad gegee word om meer saad in die grond te kry so as dit reen daar meer gras ens kan wees nie
Weet net nie waar en hoe
hierdie wys ons meer net weer die Here sal ons nie verlaat en sy hand is orals Sterkte aan al die boere die wat al reen gekry het en die wat nog elke dag die horison dophou

Anni ·

Wonderlik, ek het geweet my droogte pakkie gan iewers reën heen vat. Dankie LIEWE HEER.⛈️????

Von ·

Dankie Here Jesus vir die genade water….seen die mens en aarde met deurdringende reen waar dit so bitter nodig is….versterk elke boer en sy gesin U Heilige Naam ter Ere

Honey bee ·

Baie dankie Here, stuur asb nog reent vir hierdie droe streke. Hou U beskeremde hand oor hier die mooi land van ons. Amen

Dankbaar ·

Ek is so dankbaar vir die reën maar daar is boere van Griekwastad wat nie eers kon meet so min was dit gewees. Ek bid dat die Liewe Vader vir ons nog reën kan stuur.

Chantelle ·

Kan my net indink hoe daai diere bok spring van vreugde
Dankie Here

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.