Droogte-ramptoestand verleng

‘n Droogte-geteisterde gebied in die Noord-Kaap. (Foto: Elaine Krige)

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Donderdag aangekondig dat die droogte-ramptoestand met ʼn maand verleng word. Verskeie organisasies het dié aankondiging verwelkom, maar het gesê dis nou noodsaaklik dat die boere die nodige hulp van die regering kry. Die aanvanklike ramptoestand is op 4 Maart aangekondig en sou op 4 Junie tot ʼn einde kom.

Dié ramptoestand moet nie verwar word met die nasionale ramptoestand na aanleiding van die Covid-19-pandemie nie. In effek is twee amptelike nasionale ramptoestande tans in Suid-Afrika verklaar.

Die landbouorganisasie AgriSA het in reaksie hierop gesê die besluit is verblydend, maar dat boere dringend bygestaan moet word. Willem Symington, hoof van rampbestuur by AgriSA, sê die somerreënvalseisoen het verbygegaan sonder enige merkwaardige toename in reënvalsyfers. “Die talmende droogte het reeds verreikende gevolge vir die landbou gehad en is veral katastrofies vir die plaaslike ekonomie in droogtegeteisterde gebiede,” sê Symington.

Foto: Elaine Krige

Hy sê sedert die aankondiging van die nasionale droogte-ramptoestand in Maart het regering nog geen noemenswaardige stappe gedoen om die gevolge van die droogte te verlig nie.

Die VF Plus het dit ook verwelkom dat die regering erken dat boere bygestaan moet word in langdurige droogtetoestande. “Dit is egter teleurstellend dat daar nie tot dusver stappe gedoen is om die nodige hulp aan boere te verskaf nie,” sê Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder vir landbou. “Dit is betreurenswaardig dat boere nie verligting in die eerste drie maande van die droogtetoestand ontvang het nie as gevolg van wat die departement beskryf as vertraging weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie.”

Die departement van landbou het skriftelik op ʼn vraag van die VF Plus geantwoord dat sowat R139 miljoen vir die verligting van droogte goedgekeur is. “Dit is egter ʼn druppel aan die emmer, aangesien daar ʼn behoefte van sowat R1 miljard ontstaan het as gevolg van langdurige droogtetoestande,” sê Breedt.

In sekere gevalle waarvan die VF Plus bewus is, is droogtehulp wat in 2013 aangevra en goedgekeur is, eers in 2018 uitbetaal. “In die belang van al die boere van Suid-Afrika en van voedselsekerheid kan hierdie patroon nie herhaal word nie.”

Tito Mboweni, minster van finansies, het Vrydag aangekondig dat ʼn bykomende R446 miljoen beskikbaar gestel sal word vir die rampverligtingsfonds. Dit is egter nie seker of dié geld vir Covid-19 of die verligting van die droogte-ramptoestand aangewend sal word nie.

Breedt sê Suid-Afrika kan nie bekostig om nog regeringsprojekte te laat sloer weens Covid-19 nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Termiet ·

Ongelukkig gaan daar geen hulp van die regering kom vir die blanke boere nie.

Magriet ·

Die regering help net klein boere. Ons boere sal self moet planne maak. Ons moet ons boere direk help deur organisasies soos Afriforum. As ons ons bydraes net van belasting kon aftrek.

JohanR ·

NDZ kondig aan dat tandepasta nou net in geel, rooi en groen beskibaar sal wees. NDZ kondig aan dat wit verf nie meer beskibaar is nie, en paaie sal nou net swart streepe kry. NDZ kondig aan dat almal somer en winter rooi missies en rooi T-Hemde mag dra. NDZ kondig aan dat SA nou op die regter kant gaan bestuur, en nie meer die linkerkant. NDZ kondig aan dat jy mag rook maar net op Dinsdag en Donderdag. NDZ kondig aan dat nog 5 miljoen Kubane doctors volgende week in vlieg om met Covid-19 te hulp. NDZ kondig aan dat 25 miljoen Chinese sal in die Wes-Kaap gehuisves word om te hulp met die druiwe oes. NDZ kondig aan…..jammr mense maar soe bietjie vlou, maar ek dink julle kry die prentjie. Sterkte aan die boere. Ek hoop die geldlike hulp kom by julle uit

Cherokee ·

Tipies van die ANC… om die droogte-ramptoestand te verleng! (gelukkig kan hulle nie al wil hulle!)

J ·

DAAI VROU het ‘n STAATSGREEP gedoen … soos haar man JZ in 2009 gedoen het.

G.d behoed ZA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.