Droogte: Veel meer as net ‘boere se probleem’ – TLU

droogte-riaan

(Argieffoto: Riaan Roux)

Die landbou-organisasie TLU SA wil hernieude druk op die regering plaas om “droogtehulp sonder voorbehoud” aan boere te verskaf. Daarom het die organisasie Maandag ʼn droogteveldtog van stapel gestuur.

“In gebiede soos Fraserburg in die Karoo (Noord-Kaap), waar die droogte al drie jaar lank knel, is die situasie reeds by kritiek verby. Uit die Graaff-Reinet-, Murraysburg‑ en Aberdeen-omgewing kry ons boodskappe wat smeek vir weiding vir beeste, skape en bokke. Daar is so te sê geen weiding in die veld oor nie,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.

“Ons verneem elke dag persoonlik hoe verskriklik swaar dit met ons boere gaan – sommige boere is so moedeloos dat hulle hul eie lewens neem. Die droogte dwing boere om hulle brandmaer vee te slag omdat hulle eenvoudig nie meer vir hulle voer het nie en die diere ly. Saaiboere sit met opgehoopte skuld en finansierders wat in hulle nekke blaas, omdat hulle in sekere streke die afgelope vyf jaar geen noemenswaardige oeste kon maak nie. Implemente moet verkoop word om net aan die lewe te bly.

“Maar steeds word daar nie rampgebiede verklaar nie en word droogtehulp net selektief, meestal aan opkomende boere, gebied. Dit is onaanvaarbaar en wreed.”

(Argieffoto)

Meintjes het gesê Suid-Afrikaners moet besef die land se hele ekonomie ly onder die droogte. “Mense moet besef droogte is nie iets wat net boere raak nie, dit is iets wat elkeen in die land raak.”

Hy het gesê die staat het ʼn plig om ramphulp te verskaf en die krisis behoorlik te bestuur. Hulp kan ook nie net aan opkomende boere gegee word nie. “Dis nie die kleinboere wat die land gaan red nie, maar die kommersiële boere,” het hy gesê.

Meintjes het gesê nagenoeg 800 000 mense werk permanent in die landbousektor en hulle onderhou weer gemiddeld vier afhanklikes. Teen ʼn minimum loon van R4 000 per maand, is dit nagenoeg R3,2 miljard wat maandeliks in die plattelandse ekonomie teruggeploeg word. As die landboubedryf vou, is die gevolge verreikend, het hy gewaarsku.

TLU SA moedig verbruikers aan om plaaslike produkte te koop en boere ook op dié manier te ondersteun. In talle gebiede landwyd is ondergemiddelde reënval al etlike jare lank aangemeld en Meintjes sê boere moet gehelp word om dié tye te oorleef, sodat, wanneer die reën kom, hulle nie reeds heeltemal geknak is nie.

Op ʼn vraag oor óf die reën gaan kom, antwoord Meintjes: “Ons het nie ʼn keuse nie, ons moet hoop. As ons hoop verloor, is alles verlore. Dit moet een of ander tyd draai.”

Volgens hom was daar die afgelope 16 jaar drie jare wat gemiddelde reënval gehad het, met 2015 die droogste jaar. Meintjes het gesê boere kan moontlik ʼn jaar se droogte oorkom, maar byvoorbeeld nie sewe jaar sʼn nie.

Meintjes sê TLU SA wil met sy veldtog die regering versoek om – soos die droogte – nie te diskrimineer wanneer dit by droogtehulp kom nie. Suid-Afrikaners kan self ook ʼn bydra tot die droogtefonds lewer.

(Argieffoto: Bennie van Zyl)

Die organisasie sê hy tree op as middelman om verskaffers in die waardeketting te vra om die risiko – veral in droogtetye – te versprei sodat boere die mas kan opkom. TLU SA verskaf ook fondse aan onder meer koöperasies om droogtepille direk aan boere te verskaf, sodat daar nie nog bykomende geld aan vervoer en logistiek uitgegee hoef te word nie. Plaaslike boere-unies onder TLU SA se vaandel span kragte saam om voer en selfs kos aan die boeregemeenskappe te lewer.

“Die naweek het ons by Williston in die Noord-Kaap gesien hoe boere kilometers ver staan en wag om voer en kos wat vir hulle gesinne en werkers geskenk is, te ontvang,” het Meintjes gesê.

“Groot boere staan en huil van dankbaarheid en mismoedigheid. Ons sal aanhou help soos wat ons kan, maar ons het hulp van buite die tradisionele landboustrukture nodig.”

Kliek hier om TLU SA se veldtog te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lou ·

Die staat het miljarde rande om aanhoudend in SAL, Eskom ens te stort maar die boere wat die kos produseer en ‘n groot bydrae tot die land se ekonomie maak word eenvoudig vir die wolwe gegooi.
Mega-boere, privaat sektor en die publiek sal nou moet help om die boere wat swaarkry te help. Ek is bereid om my deeltjie by te dra maar dan wil ek weet dit gaan nie vir een of ander “opkomende boer” wat ‘n paar mielies in sy agterplaas plant gegee word nie, maar vir ‘n boer wat regtig dringend hulp nodig het.

Arie ·

Hulle sal nie die blankes help nie want die regering soek hulle plase en dan gaan ons almal vrek van die honger

M ·

Dis hartverskeurend ! Ons moet op ons knieë bly. Ek bid dat di Here di sluise van di Hemel sal oopmaak en dat dit sal reën soos nog nooit tevore ni

Sonja ·

Boere moet begin ander afsette kry vir hul produkte wanneer hul weer goeie oeste het. Leer hierdie regering n les, vermy die markte en verkoop direk aan die publiek. Laat ons sien of hierdie stupid inhalige regering en dom onnosel mense nog hulle kos by Supermarkte kan kry. As boere nie uitvoer nie, begin verkoop aan die publiek. Laat slim, of eerder dom onnosel hul baas vang.

an ·

Sonja is reg!

Skakel die middelman (en belasting) uit deur direkte verkope van produkte direk aan die verbruiker!

Die produsent WEN en die verbruiker WEN!

Feite ·

Hoekom sal die ANC staat die boere help as die staat die boere se grond wil onteien sonder vergoeding om die grond aan opkomende boere te oorhandig? Dit maak dus geensins sin nie dat die TLU vir staatshulp pleit nie. Al wat die boere moes gedoen het, was om hulle grond, eiendom en besittings te verkoop het en geemigreer het, toe dit hulle nog beskore was, maar nee, die boere luister mos vir slimjanne wat n sakeryk uit die boere bou. n Sakeryk wat die boere toe nou nie help nie!

Charlie ·

Die Afrikaanse literatuur van ouds (Mikro, F.A. Venter, C M van den Heever en ander Afrikana) het baie verhale geskryf oor die droogte van 1933 en daarna.
As ons terugkyk was dit vrywel dieselfde omstandighede as nou.
Hartverskeurend toe en nou ook.

Al Tirah ·

Kyk gerus na die verenigde nasies se Agenda 21 en Agenda 30 op Youtube. Alles wat in Suid Afrika gebeur is deel van hulle euwel plan.

Marlene ·

Sit ons ons vertroue op die mens wat dwaas is of op God wat n nasie (die boere) kan red. Kom ons staan saam, bid vir reen, vra God om mense in hoe posisies te plaas wat werklik sal optree en die te verwyder wat skade aanrig. God verhoor gebede. Ons kan nie op die staat staatmaak nie. Hulle stel ons teleur. Ons moet bid vir verlossing en as ons as n nasie agteroorsit en beskuldiging slinger bring dit ons nerens. Bid en tree op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.