Droogtehulp-groepe groei vinnigste ter wêreld

Meer as 7 000 voerbale is aan die Vrystaat geskenk. Foto: Facebook via Boere in Nood Groep

Meer as 7 000 voerbale is aan die Vrystaat geskenk. Foto: Facebook via Boere in Nood Groep

Suid-Afrikaners het behoorlik hande gevat in die droogtetoestande met die Facebook-groepe “Boere in nood” en “Water Shortage South Africa” wat tans die twee Facebook-gemeenskappe is wat die vinnigste ter wêreld groei.

Volgens ʼn verklaring uitgereik deur Dirk du Plooy, die woordvoerder van Boere in nood, is die Boere in nood-groep tans die groep wat die vinnigste ter wêreld groei. Dié groep is gestig om boere te ondersteun wat swaar getref word deur die droogte in Suid-Afrika.

Die direkteure van dié nie-winsgewende organisasie, NC Schoombee, Nico Gerber en Carina Swartz, het die nood op voetsoolvlak raakgesien en het besluit om in te spring en werk te maak van die situasie. Hiervoor het hulle sosiale media ingespan om ʼn noodroep te begin na die burgers van Suid-Afrika. Die blad het binne tien weke meer as 45 000 lede bereik en geld het van so ver as die VSA, Brittanje, Europa en Kanada begin instroom.

Du Plooy sê in die verklaring Caroline van Saasen, die stigter van die groep Water Shortage South Africa, het gesê die LA Times en Facebook het haar gekontak met dié nuus. Sy het die nuus van die sukses op Facebook met hom gedeel.

Schoombee sê dié projek is so suksesvol omdat dit ʼn visie is van die Here. “Die mense op die grond is dié wat die verskil maak en ons is dankbaar teenoor al die lede van ons blad wat hande uitgesteek het om te help.”

Die groep het onlangs meer as 7 000 voerbale aan boere in die Vrystaat gegee wat oorspronklik aan hulle geskenk was deur vrywilligers.

Die Water Shortage South Africa-groep, wat die tweede vinnigste gegroei het, het ook reeds groot suksesse bereik. Die groep het meer as 2 miljoen liter water regoor die land versprei binne sy eerste bestaansmaand.

Water Shortage South Africa werk op vrywilligersbasis vir skenkings en aflewering van die water.

Die groep het reeds meer as 20 000 lede.

As jy betrokke wil raak by enige van die projekte, besoek Boere in nood en Water Shortage South Africa op Facebook.

Boere in nood kan ook gekontak word by [email protected].

Jakaranda FM het ook sy eie projek van stapel gestuur. Dié radiostasie het vyf trokke beskikbaar wat water na die Vrystaat kan vervoer. Die versamelpunt vir die water is 14de Straat 89, Erand Gardens in Midrand. Vir meer inligting besoek die Facebook-skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ursa ·

Is dit nie fantasties nie. Ons Suid Afrikaners kan hul medemens help in nood. So trots op julle.

Kobus ·

Ek voel so trots en baie dankbaar. Dis die resultate wat ons sien van krag in gebed en hoe God se Hand werk, hoeveel te meer sal Hy nie vir ons doen nie!

Kaydee ·

Prys die Here!!!! Vandag, as Suid Afrikaner staan ek trots en uiters nederig, dankie aan almal wat ‘n ongelooflike bydrae lewer, julle is voorwaarlik die rede hoekom ons nog in die land kan opstaan met hernude hoop elke oggend en jubel oor die seeninge wat die Vader aans ons gee deur julle en natuurlik eerstens, Sy hande werk! BAIE DANKIE!

HEVW ·

anc neem kennis. Ons kan n minderheidsgroep wees maar beslis n gedugte een. Met kaal hande sal jy ons nie kan aanpak nie!!!

Liewe heksie ·

Amen en God se rykste seën sal oor julle almal wees Baie baie dankie

Arie ·

Prys die HERE vir die omgee vir ons medemense aan mekaar! Dankie ABBA VADER vir die reen wat al geval het! Seën ons land Suid Afrika

Berhalet Beukes ·

En dít is hoe ons dit doen! Knibbel maar lekker aan die enetjie ANC. Kyk hoe maak ons boertjies stil-stil naam terwyl julle julself met die rassisme kaart besig hou om ‘n stemme te kry! “Can’t keep a good man down!” Ons boere weet hoe!

Johannes Meintjes ·

Pragtige voorbeeld van gefokusde samewerking in die aangesig van onvoldoende regering en klimaatsfaktore. Jammer dat die kerke nie lankal reeds soortgelyks saamwerk om armoede in SA pertinent en doelmatig aan te spreek nie.

GES ·

Centurion huisbewoners word gevra om hulle grassnysels na die Lewende Woord kerk te bring. Dit gaan saamgepers word en aan droogtegetysterde boere versprei word.

Kerneels ·

Ongelooflik!! Die Landbou-unies moet bietjie by dié mense gaan leer om iets vinnig te reel !!
So maak mens !! Jy doen ‘n ding en kry klaar. Nie vergadering op vergadering en dan weet jy nog steeds nie hoe nie!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.