Droogtehulp ‘hopeloos’ te min vir omvang van krisis

Pres. Cyril Ramaphosa.

Die regering het vroeër vanjaar R260 miljoen beskikbaar gestel vir droogtehulp, ʼn bedrag wat pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief sê “hopeloos te min” is.

Ramaphosa het die Waterberg-streek in Limpopo verlede week besoek. Hy sê inwoners van die streek het water – as ʼn manier om hul inkomste te verseker, ondernemings aan te dryf, landbou aan die gang te hou en selfs om Medupi, die wêreld se vierde grootste steenkoolaangedrewe kragsentrale in bedryf te hou – deurlopend as ʼn groot bron van kommer geopper.

Ramaphosa sê in sy nuusbrief Suid-Afrika se gemiddelde reënval van 500 mm per jaar, in vergelyking met die internasionale gemiddeld van 860 mm, plaas die land in die 30ste posisie van droogte lande ter wêreld.

“ʼn Dekade lange droogte het ongelooflike druk op ons waterstelsel geplaas en het ʼn verwoestende uitwerking op landbou en gemeenskappe, veral in die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga, gehad.

“Damvlakke is tans op 58%, in vergelyking met die 69% waarop dit ʼn jaar gelede gestaan het.

“Ons bestaande waterstelsel is reeds oorbenut, terwyl gebruik toeneem weens ʼn groeiende bevolking en al hoe meer huishoudings wat van water voorsien word. Saam met die verslegtende uitwerking van klimaatsverandering staar ʼn moeilike situasie ons in die gesig,” het Ramaphosa gesê.

“Tensy ons ingrypende stappe doen om water spaarsaam te gebruik en doeltreffende gebruik aan te moedig, gaan wateronsekerheid die grootste ontwikkeling- en ekonomiese hindernis nóg in die land word. Dit gaan ons huidige kraguitdaging soos ʼn vulletjie laat lyk.”

Die president het gesê hoewel groot vordering die afgelope 25 jaar gemaak is om water aan Suid-Afrikaners te voorsien, is die verslegtende gehalte daarvan ʼn groot bron van diensleweringsoproer. “Ons moet toegang tot water vir gemeenskappe verbeter, infrastruktuur opgradeer en water beter bestuur, of burgerlike onrus gaan volg.”

Ramaphosa sê water is nie net broodnodig vir mense om te oorleef nie, dit is ook uiters belangrik om die ekonomie aan te dryf.

(Foto: Jimmy Chang/Unsplash)

Die president sê tydens sy besoek aan Lephalale het die sakegemeenskap herhaaldelik gesê dat ekonomiese vooruitgang gestrem word deur die droogte, swak water-infrastruktuur en vertragings met die verkryging van waterlisensies. Ramaphosa sê die wagtydperk het reeds beduidend verminder.

Die Nasionale Rampbestuursentrum koördineer ook maatreëls om die uitwerking van die droogte te probeer versag. Projekte, soos die sink van boorgate en die voorsiening van watertenks, is aan die gang, terwyl aanvraag deur waterbeperkings en rantsoenering bestuur word.

Hy sê munisipaliteite installeer ook grootmaatmeters by reservoirs, herstel lekplekke, verlaag waterdruk en gradeer bestaande infrastruktuur op. Op lang termyn, en as die droogte voortduur, gaan nuwe tegnologie ingespan moet word om die uitwerking daarvan teen te werk.

“Om watersekerheid in die toekoms te verseker, gaan ons nagenoeg R126 miljard vir infrastruktuur benodig. Varswaterbronne raak al hoe minder en ons gaan fokus op projekte wat ons hulpbronmengsel kan uitbrei.”

Ramaphosa gee ook toe dat wanbestuur van waterbronne en korrupsie ʼn groot rol gespeel het in die benarde situasie waarin die land hom tans bevind.

(Argieffoto: Pierre Brink)

Net verlede week het die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) toegeslaan op die Lepelle Noordelike Waterraad in Polokwane, ʼn R2 miljard-projek wat deur bewerings van grootskaalse bedrog geteister word en toe tot stilstand gekom het.

“Verantwoordbaarheid gaan afgedwing word as deel van die plan om integriteit in die sektor te herstel.”

Die president het ook gewone Suid-Afrikaners gevra om water spaarsaam te gebruik. “Indien ons versuim om dit te doen, gaan ons binnekort in ʼn erger situasie wees as Samuel Taylor Coleridge se antieke seevaarder in die ‘Rime of the Ancient Mariner’, toe dié geween het: ‘Water, water everywhere, nor any drop to drink’*.

“Tensy ons nóú optree, gaan ons dalk nie enige water oorhê nie.”

*Die antieke seevaarder was omring deur soutwater wat hy nie kon drink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marous ·

Hy moet maar weer sy groot vriend stortkop gaan oplaai en vir die reenkoninging gaan buig soos wat hulle gedoen het op 7 April 2018 ….op die belasting betaler se koste .

Pieter ·

Wonder wat het geword van die 200milj wat met die laaste droogte hulp spoor loos verdwyn het die land is siek verby waar is die blankes wat gese het ou CR gaan die land om draai

Ruiklont ·

En aan wie is al die gevolglike skade te danke? -die ANC. Dit is goed om te sien dat CR se raadgewers hom ingelig het. Die vraag en bewyse is egter wat het CR en sy “bestuurspan” daaraan gedoen? weinig tot niks, met korrupsie wat daarmee gepaard gaan. Ons is gewoond aan die gepraat. Die vraag is of die ANC kan begin optree en uitvoer waarvoor die massas hul verkies het? In 25 jaar sukkel hul geweldig. Miskien het hul al hul kanse wat hul verbrou het gehad en moet ‘n ander party die kans gegun word wat die mense dien en nie die party soos die ANC nie

Mb ·

Nou, vir hoeveel jare vertel ons vir julle dat daar instandhouding moet wees. Aan al die opgaardamme en staats instellings soos kantore, hospitale, koshuise en skole waar lekkende krane miljoene liters water vermors. O ja, en die gratis krane wat water in die informele kampe so vrylik laat vloei. Vra ons vir wateropvoeding in hierdie kampe. Vertel ons julle om nie riool in die riviere te stort nie. Maar nee, nou is dit nuwe nuus vir jou. Alles het goed gewerk toe julle dit oorgevat het. Ek skud my kop in ongeloof.

Waterfiskaal ·

Wag vir waterlisensies…as daar nie water beskikbaar is nie kan ‘n waterlisensie moeilik toegestaan word. Dit gaan oor waterhoeveelheid en watergehalte. Met riool wat oral in die land in riviere vloei kan skoon water ook nie meer gewaarborg word nie. Om water te suiwer is weer elektrisiteit-intensief, dus dit gebruik ook water en help aardverwarming aan. Soos Homer Simpson dit stel Cyril: You are between a rock and a hard place.

Dit sal ‘n stap in die regte rigting wees om bestaande ekonomiese modelle en stellings te verander. Water in Suid-Afrika is nie ‘n allemans artikel nie, maar ‘n skaars hulpbron en moet sodanig geprys word.

Anni ·

………”toeneem weens n groeiende bevolking…….” ???? Daar word dan die “grants” betaal, natuurlike SAL die bevolking groei. Eish!!

Pampoen ·

Doen ‘n daadwerklike poging om julle aanwas te beperk. En kry die geld terug van die diewe dan mag daar dalk ‘n klein liggie in die donker tonnel skyn

Woestyn ·

Met die huidige bevolkingaanwas verdubbel die bevolking in minder as dertig jaar! Hoop die ANC het n plan om almal water, kos, werk en n huis te kan gee!

Jan ·

Waterbesparing is nie net die regering se verantwoordelikheid nie. Hierdie probleem is al in 1982 ge-identifiseer en sedert daardie tyd het min mense in die land dit ernstig opgeneem. Kritiseer is een ding, Om self niks te doen nie, is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Antjie ·

Onder die regering van die afgelpoe 25 jaar is geen infrastrukture instand gehou nie.
Hulle het seker gedink dit sal vir ewig hou. Nou moet daat skielik aandag aan gegee word want riool, olie, bloed, noem dit, loop in ons riviere in.
Sal wil sien of daar iets van sy planne kom. Twyfel sterk

Schalk ·

as jy nie weet dat jy nie weet nie.Hoeveel vir droogtehulp.MILJARDE vir ESKOM SAL PRAZA JACOB ZUMA SKANDAAL OP SKANDAAL.Sies jul kry toekenning vir die vinnigste n land bankrot maak van leier tot rommel status.Foei tog dan moet julle nog steeds wittes marginaliseer.Hoe meer jul dit doen hoe slegter gaan dit in die land.

Blikke ·

n 2 Miljard – projek wat deur bedrog geteister word en tot stilstand gekom het…..I rest my case!!!
Dis mos die norm en standaard ….. VIVA – VIVA

John ·

Wat het die antieke seevaarders met die prys van eiers uit te waai? Miljarde word glo spandeer om onwettige uitlanders uit te land te neem, maar ‘n paar miljoen is al wat vir droogtehulp beskikbaar is. Minister Sizulu praat van R900 miijard vir waterbestuur en CR van R126 miljard. Wat is nou waar? Hoe kom die minister by die syfer uit? Waarom word die damme wat eintlik deesdae net panne is nie skoongeskrop nie. ‘n Dam waarvan 95% nie meer water kan hou hou nie, dien geen doel nie. Bogrondse opgaartenks moet dringend opgerig word waarheen reèn water gekanaliseer kan word. Reèn water wat in die see loop is verlore vir menslike benutting. Die hergebruik van water is ‘n lekker geldmaakplan maar sulke water is nooit werklik higiènies op standaard nie met al die vreemde middels en siektes wat rioolwater bevat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.