Droogtehulp: Organisasies snoer kragte saam

(vlnr): Dirk Herman Bestuurshoof  van Solidariteit, Henk Maree, Afriforum se Nasionale Woordvoerder, Bennie van Zyl , Hoofbestuurder van TLU SA en Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. Foto: Reint Dykema

(vlnr): Dirk Herman, Bestuurshoof van Solidariteit, Henk Maree, Afriforum se Nasionale Woordvoerder, Bennie van Zyl , Hoofbestuurder van TLU SA en Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. Foto: Reint Dykema

Die organisasies AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en TLU SA het Donderdag hul planne bekend gemaak om droogtegeteisterde boere by te staan. Dié samehangende projek is daarop gemik om verligting te bring in droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het tydens die mediakonferensie in Centurion gesê hy stel R200 000 aan TLU SA beskikbaar om die samewerkingsooreenkoms aan die gang te kry.

Solidariteit Helpende Hand het ook aangekondig dat dié organisasie R625 000 beskikbaar gemaak het vir droogtehulp regoor Suid-Afrika. Helpende Hand se bydrae bestaan uit R100 000 in die vorm van koopbewyse vir voedselaankope en R525 000 wat in die rampgebied-studiefonds beskikbaar gestel is.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het gesê dié organisasie beywer hom om boere in die droogtekrisis by te staan. “Helpende Hand is diep besorg oor die humanitêre krisis wat onder ons boere op die platteland ontstaan het. Die Helpende Hand- studiefondssentrum het ook reeds R221 000 in studielenings aan boere se kinders uitbetaal vir studiehulp vir die 2016 akademiese jaar, en ons verwerk nou aansoeke om boere se families verder te ondersteun uit die oorblywende fondse,” het hy gesê.

Brink het gesê die boere het voorheen Helpende Hand ondersteun met die stakings in Rustenburg. “Boere is ’n steunpilaar in Suid-Afrika, hulle maak ’n integrale deel uit van ons land se ekonomie en speel die belangrikste rol vir voedselsekerheid. Uit die aard van hulle natuur is hulle van die eerste groepe mense wat inspring en help wanneer iemand hulp nodig het,” het hy gesê.

Organisasies wil egter hul betrokkenheid verhoog. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan Solidariteit meer betrokke raak by die droogtekrisis. “Ons gaan betrokke raak nie net omdat ons besondere simpatie met die landbougemeenskap het nie, maar ook omdat die droogtekrisis na elkeen van ons se kaste gaan oorspoel. Suid-Afrika onderskat die rimpeleffek van die krisis.”

Solidariteit het reeds projekte vir droogtehulp van stapel gestuur. “Ons het vier fotograwe aangestel om die droogte in verskillende dele van die land te dokumenteer. Die fotoreeks gaan op Donderdag 28 Januarie bekend gestel word. Die foto’s gaan ook opgeveil word en die opbrengs gaan vir die verligting van armoede aangewend word,” het Hermann gesê.

Hermann het op Twitter individue aangemoedig om betrokke te raak. “Daar kan nie genoeg hulp wees nie. Elke instelling en individu se bydrae is ʼn druppel wat ʼn stroom kan skep om ʼn groot droogte te breek,” het hy geskryf.

Ander instansies word ook aangemoedig om bydraes te maak aangesien die krisis drastiese gevolge vir die land se voedselvoorraad inhou en later ook die sakke van verbruikers gaan raak.

As jy ʼn bydrae wil maak SMS “BOER” na 38969 en skenk R10 vir die fonds. Jy kan ook ’n direkte betaling maak. Die bankbesonderhede is:

Solidariteit Helpende Hand

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62 331 445 503

Tak: Centurion (takkode: 250 655)

Verwysing: Boer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

HEVW ·

Waar is die banke wat stewige winste in die vorm van rente al die jare van die boere tap. Baie groot deel van hul bestaan is aan die boere te danke. Boere hou hierdie banke dop en neem in die toekoms kennis.

m ·

Die kamstige opkomende boere kry seker weer al die hulp en die boere wat regtig bydra tot die kosvoorrade van die land kry seker die minimum, indien enige hulp.

DPJ ·

Ja nee dit is nou tyd om ons boere te help om op hulle op plase te behou sodat koskaste nie leeg raak nie.
Ons as volk dink aan ons boere in ons gebede en vra vir die Here vir uikoms. Sonder Sy seën is niks moontlik nie.

alida ·

WONDERLIKE WERK – BAIE DANKIE !!!! Waar is die banke, versekeringsmaatskappye groot winkels, Makro, Game en so kan jy aangaan. Hulle spandeer 1000e rande op nuttelose partytjies en spanbounaweke vir die personeel. Komaan ons daag julle uit om ook te help.

Christine ·

My hart gaan uit na die boere wat soveel al verloor het deur vee vrektes. Tussen Piet Retief en Ermelo staan die gras knie hoogte al in saad langs die pad vir nagenoeg 100 km. Iemand het tog sekerlik grassny en baal toerusting wat daardie diere kan voer.

Magrietha ·

Dit is vreeslik mooi as jy nie n boer is nie en nie daar is waar ons boerre vandag is nie verstaan ń mens dit nie so lekker nie glo my maar ek ken 1van die boerre en glo my mense die boerre kry swaar daai boer het nie geld gehat om teplant nie ń tannie van 70 wat nog glo het hom R10.000.00 gegee om mee te plant dis 2sakkies saad daai boer hou aan glo en bid want dis droog en dit gaan swaar sy vrou en kinders is tans weg by hom oor die droogte

Magrietha ·

Dit is vreeslik mooi as jy nie n boer is nie en nie daar is waar ons boerre vandag is nie verstaan ń mens dit nie so lekker nie glo my maar ek ken 1van die boerre en glo my mense die boerre kry swaar daai boer het nie geld gehat om teplant nie ń tannie van 70 wat nog glo het hom R10.000.00 gegee om mee te plant dis 2sakkies saad daai boer hou aan glo en bid want dis droog en dit gaan swaar sy vrou en kinders is tans weg by hom oor die droogte hy verkoop elke maand iets net om sy werkers tebetaal en sy payamente hy kan nie op die oomblik vir sy gesin sorg nie.

Reinard ·

Ons besef nie waardeur die boere gaan nie. Dis rof!
Baie dankie vir wat julle doen om die boere by te staan!

Dawie ·

Ek stem saam. Die boere gaan deur ‘n baie rowwe tyd. Vandag kan ons sien hoe Suid-Afrikan hande vat om die boere te help. Doen so voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.