Droogtehulp-projek bring hoop vir boere

‘n Vrag bale is gereed om vervoer te word (Foto: Facebook)

Die Droogtehulp-projek, onder leiding van Burre Burger, gaan Donderdag hul 600ste vrag voer aflewer vir boere in droogtegeteisterde gebiede. Die projek het in Maart 2017 begin en sedertdien is ʼn groot aantal boere al daardeur gehelp.

Volgens die projek se amptelik Facebook-blad het die projek begin om aan Calvinia-boere hulp te verleen en het dit uitgebrei na ander omgewings waar mense ook hulp nodig het. Die projek word deur Burre Burger bestuur en deur die algemene publiek en ondernemings befonds.

Burger het Dinsdag aan Maroela Media gesê hoewel hulle dié week die 600ste vrag voer sal aflewer, is die nood vir water en voer steeds baie groot.

“ʼn Gemiddelde vrag is sowat 30 ton. As ons die vrag op ʼn Saterdag aflewer, vra die boere weer Maandag of ons nie nog voer het nie. Dit is maar baie rof, ʼn sak mielies hou ʼn boer net ʼn halwe oggend.”

Burger, wat op Vredendal in die Wes-Kaap boer, het gesê hulle het eers die Noord-Kaap gehelp, maar toe uitgebrei na ander dele van die land toe.

(Foto: Facebook)

“Ek het gesien hoe swaar die boere op my eie voorstoep, in die Wes-Kaap, ook kry. Ons het toe hier ook begin help. Maar elke keer sien ons nog mense wat swaarkry, nou lewer ons in die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Oos-Kaap én Suid-Kaap af.”

Burger het gesê hy doen hierdie projek om weer hoop vir die boere te gee, omdat hy weet hoe swaar dit met hulle gaan. “Vir baie van die boere is die plaas alles wat hulle het. As die plaas ondergaan, het hulle alle hoop verloor en is hulle op straat,” sê hy.

“Ek het ook verlede jaar Oktober nie meer hoop gehad nie – nie vir my huwelik nie, nie vir my kinders, nie vir my besigheid nie en nie vir my land nie. Jy lê en bid snags dat die Here jou moet kom haal, want jy is te bang vir selfmoord pleeg. Jy smeek die Here vir iets soos ‘n hartaanval of iets erger. Jy wil net nie meer nie,” het hy gesê.

“Jy tel die pen op en skryf vir jou vrou. Jy skryf vir jou kinders. Jy skryf vir jou familie. Jy skryf elke wagwoord neer vir in geval hulle dit mag nodig kry. En eintlik besef jy nie in daardie stadium nie – wat hulle eintlik nodig het, is vir jou.”

Burger sê op 3 Maart 2017 het die Here met hom gepraat en vir hom gesê dit is nou die tyd dat hy die boere moet help.

Hy sê hy het aanvanklik beplan om net vyf vragte voer aan behoeftige boere af te lewer, maar lewer Donderdag die 600ste vrag af.

“Ek glo die projek sal maar net aanhou en aanhou. Dit is regtig sleg daar buite, en mense besef nie altyd wat op die plase aangaan nie,” sê hy.

Volgens Burger is die vervoer van die voer die duurste aspek van die projek, omdat hulle gereeld bale en mielies geskenk kry. Een vrag voer kos gemiddeld R18 000 om by die boere uit te kry.

“Ons het ʼn rekening in April geskep en het tot in Desember sowat R21 miljoen op vervoer spandeer,” het Burger gesê.

Rantsoene word in sakke gepak vir plaaswerkers (Foto: Facebook)

Burger en sy vrou het ook droë rantsoene bymekaargemaak, en maak pakkies vir plaaswerkers wat as gevolg van die droogte hul werk verloor het. “Die 10 kg-pakke word op Kersdag na plase toe gevat. Baie werkers moes afgelê word as gevolg van die droogte. Hulle bly nog op die plase, maar daar is nie werk nie,” het Burger gesê.

Burger wil hê dat dié projek boere en plaaswerkers moet help en weer hoop gee. “Die droogte ken nie kleur en geur nie, die droogte maak baie mense seer. Ons moet nie vaskyk in enigiets nie, elke mens moet lewe onder die droogte. Ons moet hande vat en in die Here vertrou,” sê hy.

“Dis so droog daar buite dat die skape al uit die boere se hande uit eet, maar ons mense is nog nie so mak om uit die Here se hande te eet nie. Sáám kan ons die droogte oorkom.”

Vir meer inligting oor die Droogtehulp-projek, besoek www.droogtehulp.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fj ·

Jy doen goed vir die boere Burre,voorspoed met dit waarmee jy besig is. Baie dankie.

Wilhelm Schoombee ·

Burre ons wil net vir jou en jou mede helpers baie dankie sê. Julle het vir hierdie land bewys dat saamstaan die antwoord is. Met die hulp van die Groot Vader sal hierdie droogte oorwin word.
Baie mooi en Geseënde Kersfees aan almal en ‘n nat 2018

Eish ·

Pragtige storie. Ek dink bitter baie van ons voel soos hy gevoel het.

Pikkewyn ·

Burre Burger jy en jou helpers is engele gestuur van Bo. Dankie vir wat julle doen vir so baie boere wat al duskant moedverloor is. God seën julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.