Droogtehulp vir Noord-Kaap verwelkom; ‘veel meer nodig’

‘n Gemsbok in die droogtegeteisterde Kleinbegin wat besig is om te vrek van die honger. (Foto: Chris van Beljon)

Die regering se belofte van R30 miljoen staatshulp aan die droogtegeteisterde Noord-Kaap word verwelkom, maar die DA waarsku dit is veels te min om wydverspreide verligting te bring aan dié provinsie waarvan die landboubedryf op sy knieë gebring is.

“Die R30 miljoen, wat minder is as 5% van die minimum bedrag van R612 miljoen wat nodig is vir verligting aan die vyf jaar lange droogte, is ook te min om die gevolglike bedreiging van 62 000 direkte en indirekte werksverliese in die landboubedryf die hoof te bied,” het Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer, gesê.

Die DA sê hy hoop die R30 miljoen is net die begin van ʼn veel groter toewysing aan die provinsie.

“Die DA hoop ook die betroubare koeponstelsel, wat deur klein- en kommersiële boere verkies word, word weer ingespan sodat nie een sent op die gebruik van agente gemors word nie.”

Adj.pres. David Mabuza, vergesel deur ʼn hoëvlakafvaardiging, het Vrydag ʼn oorsigbesoek aan die streek gebring. “Ons glo hy moes dit baie vroeër al gedoen het. Die droogte het duisende boere laat steier, sommige het opgehou boer, kinders is uit die skool gehaal en sommige boere het selfs selfmoord gepleeg. Alle vlakke van regering moes dit as ʼn noodgeval hanteer het, nie as ʼn nagedagte nie,” het Aucamp gesê.

“Ons verwag dat Mabuza, wat oënskynlik onbewus was van die erge graad van die droogte, ʼn belangrike les geleer het en sal toesien dat die regering nooit weer die lyding en skade weens natuurrampe sal onderskat nie.

“Ons verwag ook dat premier Zemani Saul sy regering gaan regruk om enige verdere vertragings te voorkom ten einde provinsiale rampe so spoedig moontlik in die staatskoerant te laat afkondig.”

Aucamp het gesê hy hoop die regering werk saam met alle betrokkenes om te verseker die hulp bereik diegene wat dit die nodigste het so gou en doeltreffend moontlik.

“Die DA moedig ook die nasionale en provinsiale regerings aan om alle rolspelers in samesprekings oor die droogte te betrek. Die DA was die dryfveer om die droogte tot provinsiale ramp te laat verklaar.”

DA-leier Mmusi Maimane het in Julie reeds die noodlottige uitwerking van die droogte en die invloed daarvan op die ekonomie geopper. Die party het ook al ʼn petisie begin om die droogte tot ramp te laat verklaar.

“Gegewe ons kommer oor die Noord-Kaapse boere, was ons teleurgesteld om nie saam met Mabuza op die oorsigbesoek genooi te word nie. Ons wil hom ook maan om nie die droogte vir politieke speletjies te misbruik nie.

“Mense se lewe en hul inkomste is op die spel. Dít, asook die spoedige toewysing van geld vir droogteverligting, moet voorrang geniet bo die welstand van politieke partye,” het Aucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JV ·

Hoop dit is nie weer valse hoop deur die regering. Mag hulle dit vinnig deurvoer, die mense is in n verskriklike nood en het hulp nou nodig, nie oor n maand of twee nie

daniel ·

As die regering biljoene kan gee aan instansies wat dit benodig weens swak bestuur en korrupsie, kan hulle sekerlik die boere wat voedsel produseer te hulp kom. Maar 30 miljoen vir n hele provinsie is eerder n belediging as n hulp.
Dis tog in elk geval nie die regering se geld nie, maar die belastingbetalers se geld.

leser ·

mabusa wat onbeweus was van die droogte se maaltye was in oorvloed, dit is waarom hy nie die droogte raakgesien het nie
hy sit in ‘n lekker lugversorgde kantoor en speel op sy rekenaar, om te kyk waar hy iemand kan kry om in te doen

KP ·

Dankie, sal eers moet sien hoeveel kom by die boere uit?? Politieke punte!!!

Kokkie ·

Ou Helen moet liewer leer om te brei en te hekel. Dan moet sy na Robbeneiland verban word om haar laaste jare daar te slyt. Haar kop is so vol muisneste. Sy weet self nie waarvoor sy staan nie. Maar steeds verlang sy na die kalklig. Vat jou net weg, ou Helen. Jou party is lankal op die planke.

Leonardo ·

Die ANC se kommentaar op die noodsaak van die privaatsektor se betrokkenheid by ekonomiese groei is inderdaad verrassend. Of dit werklik koersveranderend is en of dit blote lippediens aan die internasionale kredietgraderingagentskappe is, sal weldra duidelik word. Nietemin, die omvang van die benarde stand van die land se ekonomie en die noodsaaklikheid van sinvolle remedieërende optrede moes een of ander tyd by die ANC insink. Ongelukkig kan ek nie opgewonde raak oor die politieke wil om werklik gestalte daaraan te gee nie, en nog minder oor die beskikbaarheid van burokratiese vaardighede om betekenisvol saam met die privaatsektor te werk nie. Tyd sal leer.

Irene ·

As elke werkend persoon maandeliks R5 van salaris miet afstaan sal daar a groot hupstoot wees. Almal eet van die R5 daagliks

JD ·

En daar is so baie ander boere wat kan help wat verkies om ander pad te kyk .

BOER ·

Watter boere kyk anderkant toe. Te veel mense praat met ‘n mond vol kos as hulle oor die “boere” kla. Die meeste boere in die meeste bedrywe trek swaar. Baie swaar. Maar jy is welkom om ‘n lys van name te gee.

Lynette ·

Ek is so bly dat ek nie familie is van party van julle wat sulke lelike kommentaar lewer nie. Ek skaam my vir julle as mede Afrikaners. As julle niks goeds van n persoon kan se nie, bly liewer stil. Daar is niks met Helen verkeerd nie, sy het net die waarheid gepraat en ek is nie skaam vir die waarheid nie maar vir idiote!!!!

Jeremia ·

Waar is die miljarde rande se belastinggeld wat weens korrupsie in die sand verdwyn het?
Ja, dit is nou dringend nodig om mens en dier te laat oorleef. Om die landbou en ekonomie van die land te red!

Sarel ·

Kry solank ‘n kommisie om die geld op te spoor. 20% gaan by noodhulp van die boere land, die res word opgeslurp deur die sekondêre bedrywe wat skep. Die vorige kommisie van droogtehulp geld wat gerdwyn het het soos mis voor die son verdwyn….. want boere het gevra waar is ons geld aangewend. Ek ken nie een boer wat meer as 6 sakke lusern korrels ontvang het nie. 6 SAKKE sedert 2015

JohanR ·

Hoe lank en hoeveel jare het dit nie gevat om R30m by die boere te kry? Hulle moes eers op hulle geskeurde en bebloede knee wees, voordat die bietjie geld aankom. Eskom, SAA, Transnet, Denel, Prasa, SAUK ens was voor in die ry. Belangriker vir hulle om eers geld te kry, voor die mense wat die kos op SA tafels sit. Maar dankie ou ANC in allegeval vir die R30m. Die SAUK het nou net R3.2 biljoen gekry, en wat sit hulle op die tafels van SA???

Wilma ·

Geen boer GEEN VOEDSEL… Dink maar daaraan wanneer jy ‘n broodjie smeer met iets eenvoudig soos kaassmeer.
Hierdie regering van ons voel ‘n V E E R vir die boer daar buite. Wat is R30m? Waar is die ander MILJARDE RANDE heen wat ons BOERE lankal kon gehelp het? Ek is BITTER vir hierdie regerende party se SLAPGAT houding teenoor ons boere.

SjN ·

Daar is twee aangrensende plase in die droog gesteirde Noordkaap omgewing so paar maande gelede aangekoop deur die staat teen n bo gemiddelde prys vir opkomende boere, daar is geen vee tot op hede op die grond nie maar daar is reeds twee interlinks voer afgelaai deur die staat, hoe werk dit?

Essie ·

Dit is absoluut n skande dat n plek wat nie enige lewensvoordeel inhou miljarde kry maar die boere wat kos op die tafel voorsien moet maar met R30miljoen te vrede wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.