Droogteramp: ‘Waarvoor is geld gebruik?’

(Argieffoto: Marydale Droogtehulp/Facebook)

Die ouditeur-generaal moet ondersoek instel na hoe die geld bestee is wat vir die droogteramp in Suid-Afrika toegewys is, sê Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou.

Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, het Donderdag in die Staatskoerant aangekondig die klassifisering van die droogte as ramptoestand word opgehef en dat landbouers maniere moet vind om hulle teen droogtes te beskerm.

Die besluit het groot kritiek ontlok omdat ʼn droogte nog in talle gebiede heers. Self in gebiede waar dit gereën het, gaan dit nog jare duur voor die veld behoorlik herstel het.

Die DA wil nou weet waarvoor die geld vir die ramptoestand gebruik is.

“Dit is hoog tyd dat droogtehulp en die bestuur daarvan na die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oorgedra word. Die departement het minstens ʼn mate van begrip vir hoe boerdery werk en kan behoorlike oorsig oor droogtehulpgeld doen,” het Steyn gesê.

Volgens Steyn is die geleentheid om droogtehulp te plunder boonop baie groot.

“Die regering ignoreer nou al jare lank boere se lot. Beloofde droogtehulp het in talle gevalle nooit die bedoelde bestemming bereik nie en daar is nooit duidelikheid oor wat presies met die geld gebeur nie. Die skuldiges moet aan die pen ry.”

Steyn het gesê landbouorganisasies en boere kla al hoe lank dat die regering se optrede hulle op hul knieë dwing, maar steeds verkies die regering om hom blind en doof vir die probleme te hou.

“In 2017 het Agri SA gevra vir ʼn ondersoek na hoe die R2,5 miljard vir droogtehulp bestee is nadat talle kommersiële plase geen staatshulp gekry het nie. Die kwessie is nooit opgelos nie.”

Steyn het gesê dit lyk of die regering boere as niks minder sien as iets wat gemelk kan word nie. Volgens haar is die landbougemeenskap reeds onder groot druk om kos vir ʼn hele land te voorsien, sonder dat die regering ʼn vinger lig om te help.

“Pleks daarvan om boere te help wanneer hulle dit die meeste nodig het, plaas die regering bykomende druk deur te dreig met oneiening sonder vergoeding, terwyl hy van sy eie kant nooit beloftes oor hulp of restitusie nakom nie.

“Daar gaan geen voedselsekerheid in Suid-Afrika wees as boere sink nie.”

Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou, het die opheffing van die ramptoestand as ʼn “genadelose klap in die gesig” van boere én voedselsekerheid bestempel.

“ʼn Tweede golf van ontwrigting in Suid-Afrika is aan die kom deurdat boere weens die meerjarige droogte nie kos kan produseer nie en ook nie kan staatmaak op ʼn regering wat ʼn meerjarige droogte en moontlike voedselkrisis afmaak as onbelangrik nie,” het Breedt gesê.

“Die ANC-regering beskou die landbougemeenskap as vanselfsprekend en besef nie die bedreiging vir voedselsekerheid indien landbouers nie die nodige droogtehulp en ondersteuning van die regering ontvang nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Niks, maar NIKS wat die ANC doen of NIE doen nie is terloops nie. Hulle is besig om absolute mag en pag te bewerk vir hulle eie gewin om die RSA in n permanente staat van anargie te kry. En die huidige krises agv n virus infeksie maak dit net nog makliker vir hulle om met dit weg te kom.

Prikkie ·

Dit is net iemand, soos die regering van die dag, wat sal sê dat jy jou teen droogtes moet beskerm. ‘n Mens met verstand sal weet dat reën en die gawe van water nie in mensehande is nie.

Stem 100% saam met jou Johann, hulle is besig met fyn en sluwe uitgewerkte planne.

Jerry ·

Hoef nie ver te soek nie, vra net die anc comrades hulle weet waar dit is. Die boere het dit beslis nie gesien nie…

Prikkie ·

Daar is nie meer ‘n wet nodig om grond te onteien sonder vergoeding nie.

Dwing die boere op hulle knieë dan stap die grond grypers (lees regering) in en vat net die grond, selfs al weet hulle nie wat om daarmee te maak nie.

Doreen ·

Die fondse gaan aan die nuwe opkomende boere, die woord in ons area tans, die plaas langs ons is deur die regering aan hulle gegee met R30miljoen om te Boer. Weet nie of dit waar is nie, maar soos hulle sê, waar daar ‘n rokie trek is daar defnitief n vuurtjie.

Chris ·

Die beleid van die die regime laat my dink aan die Engelse beleid wat tydens die Boereoorlog implimenteer/ingestel is. Daardie tyd was die verskroeide aarde beleid van krag. Tans het die droogte daartoe bygedra , maar in stede van konsentrasiekampe word die boer nog verder deur die regime verguis. Deur niks te doen berokken in baie gevalle groter skade.

Elmarie ·

Sal mens ooit die waarheid uitvind? En sou mens wel, wat gaan met skuldiges gebeur? Ek wed jou niks! En hoe sou dit die arme boere in elk geval help?! En natuurlik weet die spul dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.