ʼn Droom het waar geword vir talle kinders en ouers toe George-hospitaal vandeesweek die lint gesny het voor sy eie droomkamer.
Die Reach For A Dream-stigting en die Federate Employers Mutual Assurance Company (FEM) het ʼn televisie, PS4-toestel met speletjies, speelgoed en ʼn knus boekhoekie geborg sodat kinders se verbeelding vrye teuels kan kry. Die kamer is Donderdag onthul.
“Kinders in die saal sal nie net verras word deur die droomkamer nie, maar ook ʼn veilige plek waar hulle buite kan speel – toeganklik vir alle siek kinders,” sê Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Tuinroete- en Sentrale Karoo-distrikte. “Dit is ʼn plek wat sonnig en helder is met ʼn balkon waar die ouers sal kan sit en kyk hoe hulle kinders die geriewe geniet.”
Johan la Grange, pediater by die George-hospitaal, sê in ʼn hartseer en siek tyd in ʼn kind se lewe, sal die Droomkamer help dat hulle presies die teenoorgestelde voel. “Dit is vol lewe en hoop en is ʼn veilige hawe waar hulle gelukkige herinneringe kan skep en kan droom. Ons wil klein bietjie lig in ʼn baie donker wêreld bring. ʼn Droomkamer kan dieselfde rol in ʼn kind se lewe speel.”
Die pediatriese kliniek by die George-hospitaal hanteer gemiddeld tussen 20 en 40 buitepasiënte per dag. “Dit sluit nie die getal kinders in ons saal, hoësorgeenheid, neonatale eenheid en ongevalle in nie waar die getalle styg tot tussen 40 en 50 kinders per dag en meer,” voeg La Grange by.
As hy terugdink oor sy 12 jaar by die George-hospitaal as ʼn pediater, was daar al talle gevalle waar kinders hul lewens verloor het weens ʼn ongeneeslike of chroniese siekte. “As ʼn pediater wat na dié pasiënte omsien, weet mens dat baie van hierdie kinders drome gehad het. Die Reach For A Dream-stigting maak hierdie drome moontlik.”
Suster Cynthia Korthom, bedryfsbestuurder C-Grond by die George-hospitaal, sê vir haar is die doel om aan die kwesbare, soms minderbevoorregte kinders wat na die hospitaal toe kom, die geleentheid te bied om ʼn dag van pret te geniet wat die uitdagings wat hulle in die hospitaal beleef, kan verlig. “Hierdie baie siek kinders met ongeneeslike siektes het een dag waar hulle vrolik is en glimlag. Nie net inspireer die Reach For A Dream-stigting hierdie kinders nie, maar hulle raak ook die harte en lewens aan van die ouers en mediese personeel.”
La Grange benadruk hoe meeste van hierdie siek kinders eenvoudige wense het: om lamtjoppies te geniet of ʼn Spiderman-partytjie te hê. “Dit raak mens as ʼn volwassene as mens sien hoe eenvoudig hul wense is en wat hulle gelukkig maak in ʼn plek waar hulle baie siek is.”
Die Droomkamer is ook ʼn herinnering vir die personeel by George-hospitaal dat daar baie dinge is wat hulle kan doen om die kinders gelukkig te maak, selfs al is daar nie baie wat hulle medies kan doen nie.
Die Wes-Kaap gee om, ja.