‘Dros-verkragting’: Beskuldigde terug in hof

Die beskuldigde in die hof. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die 20-jarige man wat glo ʼn sewejarige meisie in ʼn Dros-restaurant in Silverton verkrag het, moet Donderdag weer in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Groot groepe betogers word soos met die beskuldigde se vorige hofverskyning by die hof verwag. Die meisie is na bewering in September in die manstoilette van die Dros-restaurant in Silverton in die ooste van Pretoria verkrag.

Die vermeende verkragter het op 3 Oktober vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn, waar sy borgtogverhoor tot 1 November uitgestel is. Die beskuldigde, wie se hare sedert sy inhegtenisneming afgeskeer is, het tydens sy vorige hofverskyning ʼn sweetpaktop se kappie laag oor sy gesig getrek om teen die talle flitsende kameras in die hof te skuil.

Talle politici, onder wie Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, Kgosi Maepa, die ANC se streeksvoorsitter in Tshwane, en Sizakele Nkosi-Malobane, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, was almal in die openbare galery toe die saak verlede maand aangehoor is.

Buite die hof het lede van die DA, die ANC Vroueliga, EFF, Black First Land First, en African Democratic Change almal betoog ter ondersteuning van swaarder vonnisse vir kindermolesteerders. Polisiebeamptes is in groot getalle binne en buite die hof ontplooi en die gewoonlik besige Francis Baardstraat is vir verkeer afgesper.

Die Dros-restaurant in Silverton. Foto: Oupa Mokoena/ANA

Intussen is daar al meer as R140 000 ingesamel vir die beweerde slagoffer danksy skarefinansiering. Besorgde Suid-Afrikaners het ʼn skarefinansieringsprojek op die aanlyn platform BackaBuddy begin, maar gevra hulle wil anoniem bly.

Vanweë die sensitiewe aard van die hoëprofielsaak het Catherine du Plooy, BackaBuddy se bedryfshoof, met Kiniel Muthray, woordvoerder van die slagoffer se gesin, in verbinding getree.

“Die gesin probeer nog die skok en liggaamlike en emosionele trauma van die voorval verwerk,” sê Muthray.

BackaBuddy bestuur alle geld wat ingesamel word. Dit sal eindelik direk aan die gesin oorbetaal word of aan praktisyns wat hulle benoem om hulle te help met enige moontlike behoeftes.

Die beskuldigde word ook aangekla van die besit van dwelmmiddels, intimidasie en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ai ·

Ek stem glad nie wat hy gedoen het nie, dit is ‘n gruwel, maar om so ‘n ophef te maak, Wat van ons boervrouens op die plase wat verkrag word. Dubbele standaarde beslis.

christa ·

dankie vir die fondsinsameling van die slagoffer, maar is die bedrag nie nou genoeg nie? Ek weet die kind moes deur helse trauma gaan, maar geld gaan nooit daarvoor kan verged nie. Stig liewer ‘n trust vir sulke gevalle.

Johann ·

Manage maar eerder daai goed bedoelde geldjies direk met betalings aan profesionele persone of dienste. So n meevallerjie uit n kind se trauma mag dalk net ooeindig waar die “gesin” dit voor allokeer en nie ten bate van die arme kind nie.

Michelle ·

Ek voel hulle moet nie die man die kans gee om sy gesig weg te steek nie. ALMAL moet sien wie hy is! Hy was nie skaam om sy gesig weg te steek toe hy die verskriklike ding gedoen het nie, maar nou wil hy kamstig skaam kry…wegkruip??? Daardie dogtertjie is geskend vir die res van haar lewe…

Petro ·

Sy is net een geval in meer as 41% en het die nuus gehaal. Daar is alreeds R140 000 net vir haar behoeftes ingesamel. Mense ek help TUTELA..
Weet julle hoeveel ander kinders het ook hulp nodig? Ons het laas jaar tussen 700 en 800 kindertjies gehelp wat in haglike omstandigehede moes leef en vrees. Dis regtig hartseer

GP ·

Hierdie hele storie is belaglik. Wat hy gedoen het was verkeerd maar hoekom so uit verband ruk?
Wat hy gedoen het is niks erger nie as wat die ander 47 daaglikse kinder verkragters per dag in SA doen nie. As hy so behandel moet word, behandel ander sake ook so.

Vergal ·

Ons almal weet mos waarom daar so ‘n ophef gemaak word? Ras het ongelukkig nou hierdie saak net verder vergal.

REGTIG? ·

Regtig. Moet hoog geplaasde politici in die gallery sit? Hoekom sien ons hulle nie in ander verkragting sake ook daar sit nie? Oja ekt vergeet….. dis mos ‘n ras gedrewe insident en moenie vergeet nie, ons koop nou gesig voor die verkiesing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.