‘Dros-verkragting’: Ontsteltenis ná saak uitgestel word

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n sewejarige dogtertjie in ‘n Dros in Pretoria verkrag het (Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Verskeie politieke organisasies en burgerlike groepe het hul misnoeë uitgespreek dat die saak teen ʼn jong man, wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn sewejarige meisie by ʼn Dros-restaurant verkrag het, uitgestel is.

Die 20-jarige beskuldigde het Woensdag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Lede van die EFF het voor die hof betoog. Een van die EFF-lede, Asemahle Zilindile, het gesê dié saak het haar van die begin af al baie kwaad gemaak. “Ek het ʼn jonger sussie wat dieselfde ouderdom is [as die slagoffer]. Om te dink dat ons jonger sussies en vroue oor die algemeen nie veilig is in plekke waar hulle veronderstel is om veilig te wees nie… ons is nie veilig in ons eie land nie. Ons is nêrens veilig nie. Hierdie [saak] het regtig my hart geraak, oor dit wat die familie moet deurgaan.”

Amos Ndlovu (18), ʼn inwoner van Pretoria, het gesê hy het spesiaal die dag af gevat om by die betogers aan te sluit. “As ons nie hiernatoe kom en standpunt inneem nie, wie sal vir die klein dogtertjie opstaan?” Hy het lewenslange tronkstraf vir die beskuldigde bepleit.

Refiloe Nt’sekhe, skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling van die DA, het gesê dié saak het verskille in politieke ideologieë oortref en mense saamgebring. “Dis een van die gevalle waar jy sal sien dit gaan nie oor politieke partye nie. Wanneer ʼn kind verkrag word, dan kom ma’s saam, want ʼn kind is ʼn kind vir die hele land, en nie net vir een politieke party nie,” het sy gesê. “Hierdie het niks met politieke partye te doen nie. Hier staan ons saam as ma’s. Een van ons kinders is aangeval.”

Maroela Media het vroeër berig landdros Ignatius du Preez het Woensdag die saak tot 15 Januarie uitgestel op voorwaarde dat die saak vroeër sal voorkom as ʼn bed beskikbaar raak by Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria-Wes.

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n sewejarige dogtertjie in ‘n Dros in Pretoria verkrag het (Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die man staan tereg op aanklag van verkragting, die besit van dwelmmiddels, aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie. Die staat beweer die beskuldigde het in September vanjaar die slagoffer in die Dros-restaurant agtervolg toe sy toilet toe gegaan het en haar daar verkrag. Die dogtertjie se ma het hom na bewering op heterdaad betrap toe sy na haar kind gaan soek het.

Die hof het gehoor die beskuldigde het sielkundige probleme en het vantevore ʼn paar keer sy lewe probeer neem.

Die burgerregtegroep #NotInMyName het Woensdag gesê hy is teleurgesteld dat die saak weereens uitgestel is. “[Die beskuldigde] gebruik sy bipolêre gemoedstoestand as ʼn verskoning vir sy gedrag. Dit is ʼn belediging vir persone wat met dié toestand leef. Ons sal nie rus totdat hy agter tralies is nie,” het Themba Masango, sekretaris-generaal van die organisasie, gesê. “Ons sal tydens elke hofverskyning hier wees om seker te maak dat hy vir ʼn baie lang tyd tronk toe gaan.”

Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, het gesê haar organisasie sal ook bly veg vir die regte van die slagoffers van mishandeling. “Ons staan altyd saam met die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld. Dit is deel van die verantwoordelikhede van die ANC-vroueliga, om vir vroueregte op te staan. Ons struggles is dieselfde, ongeag ons [verskillende] politieke affiliasies. Ons is ma’s, ons is mense, ons is vroue en uiteindelik kry ons seer. As ʼn ander vrou ʼn probleem het, dan moet ons daar wees.”

Paseka “Mboro” Motsoeneng van die Incredible Happenings Ministries Church het ʼn beroep op kerkleiers gedoen om by die stryd aan te sluit om ʼn einde te bring aan geweld en mishandeling teen vroue. “Wat met hierdie kind gebeur het, het my, as ʼn pa, geraak. Ek is hier om die familie te ondersteun. Ek is hier om die kind te ondersteun. Ek is hier om seker te maak dié jong man word verhoed om dit weer te doen.”

Motsoeneng het gesê dit is onregverdig dat die saak weer uitgestel is, omdat geregtigheid uitgestel word vir die dogtertjie. “Die bewyse is daar. Die man gebruik bloot verskillende taktieke om alles uit te stel. Ek glo uiteindelik sal geregtigheid geskied.”

Die ANC in Pretoria het gesê hy is “besorg oor ʼn paar verwikkelinge in die saak”. “Hulle het van landdros verander en nou het hulle ʼn wit landdros. Ons verstaan nie hoekom vat dit so lank nie. Tydens die man se vorige verskyning [in die hof] sou hy vir sielkundige waarneming gestuur word. Nou het byna ʼn maand reeds verstryk,” het Lesego Makhubela, koukuswoordvoerder van die ANC in Pretoria, gesê. “Vandag is ons by die hof en hulle kon nog steeds nie vir hom ʼn bed kry nie. Daar is baie ander instansies waarheen hulle hom kon stuur. Ons is nie tevrede met dit wat gebeur het nie, want dit wil voorkom of ons regstelsel tegnies die saak onbepaald gaan uitstel.”

Lees alle vorige berigte oor die “Dros-verkragting” op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Selektiewe huigelaars. As hul maar net oor alle misdaad só kan galbraak.

Thinus Erasmus ·

Ja Pieter, by die hofsaak waar SEWE mense vermoor is, waarvan DRIE kinders was, en van of die vroue en kinders eers verkrag was, is daar nie enige van hierdie “menseregte” organisies nie.
Alles gaan net oor ras,ras, ras…………

De Villiers ·

Ek doen weer ‘n beroep op Maroela Media om nie Dros se naam met hierdie saak te noem nie, want onwetend rig julle skade aan hierdie restaurant-groep wat niks met die misdaad eintlik te doen het nie. Hierdie verkragter kon dit in enige ander winkel of plek gedoen het waar hy ‘n geleentheid kon kry. Ongelukkig was dit in hierdie geval die Dros. Boonop het die Dros-groep die slagoffer en haar gesin bygestaan, ondersteun en hulp aangebied waar moontlik. Die naam ‘Dros-verkragter’ skep die indruk dat die Dros ‘n aandeel het in hierdie saak. Kry asseblief ‘n ander naam vir hierdie verkragter. Hierdie versoek is al op ‘n vorige geleentheid aan Maroela Media genoem, maar julle neem dit nie ernstig op nie, en dit veroorsaak onnodig skade aan ‘n onskuldige restaurant-groep.

Sune van Heerden ·

Dagsê De Villiers

Ons stem saam dat hierdie voorval nie Dros se skuld is nie, maar ongelukkig het dit nou daar gebeur en is dit die aspek wat die voorval van ander verkragtingsake onderskei. Net soos Susan Rohde se moord die “Spier-moord” geword het of die Van Breda-gesin se moorde die “De Zalze-moorde”. Om te verwys na die “Dros-verkragting” is identifiserend vir hierdie spesifieke saak sodat lesers weet na watter saak verwys word – daar is geen groter agenda daar agter of ‘n poging om Dros se naam skade te doen nie. Sodra ons die beskuldigde se naam mag bekend maak, dan kan ons sy naam in die berigte gebruik, maar tot dan is dit ongelukkig nie moontlik om op ‘n ander manier na dié saak te verwys nie, omdat nie die slagoffer of beskuldigde se name in hierdie stadium bekend gemaak mag word nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Geregtigheid ·

Die persoon is positief getoets vir kokaine. Hoekom moet die saak uitgestel word? Stuur hom 25 jaar tronk toe effektief. Hy het n lewe verwoes en moet rekenskap gee vr sy dade.

Alida ·

Sy naam is bekend was nou net op die nuus. Lagwekkend almal weet wie hy is.

humor ·

Hierdie man se lyftaal spreek van pyn in berou. Stem saam hy moet die regmatige straf kry wat hy verdien. Maar daar is tog ook n groot uikoms vir hom. “As ons ons sondes bely dan is God getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en te reinig van al ons ongeregtigheid.” Mag hy hierdie geleentheid aangryp.

tamboti ·

Sune’ ek wil net graag weet wie muilband julle om nie die beskuldigde se naam te noem nie? Sy naam is lankal bekend en op die radio het hul dit hierdie week nog genoem.
Dit staan jul ook vry om van die Pretoria verkragter of kinder verkragter te gebruik. dink maar mooi na oor die argument, daar is nie ‘n Spier of De Zalze vergelyking nie want dit is ook spesifieke plek verwysings.

Thinus Erasmus ·

Nee Humor, jy lees sy gedrag toetaal verkeerd. Hy probeer wegkruip en die gevolge van sy daad systap.
‘n Regte en ware berou sou wees: Onmiddelike en volledige skulderkentenis van die oortreding, met “ek is skuldig” pleit voor die hof , en dan, net dan kan jy versagting en genade vra.
En daarmee saam ‘n openbare en mondelikse verskoning aan die slagoffer – dan kan jy praat van berou!

Ouma ·

WAT DINK ‘n persoon wat só ‘n allerwreedste dwaasheid gaan aanvang? Het hy gedink hy gaan daarmee wegkom? Wat doen hy aan haar, haar familie, sy eie familie, almal wat hom ken, lewenslank? Watter voorbeeld stel hy (veral as jong blanke man) vir alle ander jongmense? En nou huil hy trane. En hy kruip weg. Want almal weet. En dwelms is geen verskoning nie. Alles begin by die gedagtes…dalk by pornografie…internet…en en en…. Waarmee is ons jongmense, veral jongmanne, besig? Jy dink nog jou bose speletjies is verborge in jou kop en die volgende oomblik weet die ganse wêreld wie jy is! Vir altyd. Vir altyd is jou naam daarmeeheen. Die Bybel gebruik ‘n hartseer, maar treffende woord: deugniet. Mag alle ware manne leer uit die dwaasheid van hierdie persoon wat ‘n tere lewetjie verwoes het en sy eie lewe só weggegooi het. Dink waaroor jy dink! Voor jy doen! En tog, selfs vir hom is daar genade by die kruis. As hy net daarvoor sou vra… Dis juis waarom Jesus vir ons kom sterf het.

Rupert Ashford ·

Die spul van die rooi oorpakke huigel lekker. Jy kan nie een soort misdaad verkondig en goedpraat, en dan ander tipes wil uitwis nie. Die Bose werk nie so nie – as dit vastrapplek kry in mense se psige gaan dit op loop. Soos die aanstigters van die Franse revolusie ook geleer het, kan jy nie hierdie tipe ding beheer nie – dit bestuur ditself as jy dit toelaat om wortel te skiet en kort voor lank is jy wat die dinge begin het ook ‘n slagoffer en dan waai jou kop ook. Cry my beloved country.

GM ·

“Hulle het van landdros verander, en nou het hulle ‘n wit landdros”.
Is hulle nie al moeg vir die raskaart nie?

Hoe ‘noble’ is die ANC-vroueliga nie ook nie – dat hul so opstaan vir vroue. Net jammer hulle is so selektief nè?

christa ·

die mense is so braaf om sulke dinge aan te vang maar as dit kom waar hulle dade onthul word, kruip hulle weg agter sluiers. As hulle so braaf is, hoekom dan nou wegkruip. Die sake word gereeld uitgestel met alle verskonings. Hoekom die saak nie afhandel met of sonder die uitstaande punte

Melt Olckers ·

Die regsproses is maar langsaam. Tog is hy reeds in aanhouding, en sal nie maklik borg kry nie. Dit is so goed soos hy is reeds opgesluit,

Koos ·

Ek verhuur enkelkamers in 2 huise. ek het lankal, na groot skade en baie probleme, geleer dat verhuring aan wit Afrikaanse mans jonger as 30 absoluut taboe is. drank, dwelms, lawaai en saakbeskadiging was maar net ‘n deel van wat hulle verkeerd gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.