Druk laai op om ambassadeur te herroep

Ambassadeur Bruce Koloane (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Druk laai op om die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, Bruce Koloane, uit Den Haag terug te roep nadat hy voor die Zondo-kommissie na staatskaping erken het hy het onwettig opgetree en gelieg.

Die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge, Darren Bergman, het sy party se gewig op aandrang by Koloane se ontheffing gevoeg, en gesê as dit nie gebeur nie, is pres. Cyril Ramaphosa se ondernemings oor skoon regering ʼn klug.

Ter sprake is die skending van ʼn nasionale sleutelpunt in April 2013 toe ʼn passasierstraler met huweliksgaste van die omstrede en indertyd invloedryke Gupta-familie op die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria geland het.

Koloane was destyds Suid-Afrika se hoof van protokol en dit is hy wat aangedring het dat die vliegtuig daar land, al was dit onwettig.

Koloane het indertyd aangevoer die landing moet voortgaan omdat “Nommer Een” dit beveel het, met “Nommer Een” wat verwys het na oudpres. Jacob Zuma as destydse staatshoof. As dit waar was dat Zuma dit beveel het, het Zuma ook die wet oortree.

Destyds is die kwessie nie deurtastend ondersoek nie. Koloane het in daardie stadium verantwoordelikheid vir die debakel aanvaar. Hy het as hoof van protokol bedank, maar is nie vervolg vir sy onwettige gedrag nie.

Kort daarna het Zuma hom aangestel as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland. Dit het by baie mense die indruk gewek dat Zuma die ambassadeurspos aan Koloane gegee het uit waardering of selfs teenprestasie omdat Koloane deur die aanvaarding van verantwoordelikheid gesorg het dat Zuma nie aangekla word nie.

Hierdie week voor die Zondo-kommissie het Koloane weer gesê dat die hele Gupta-landing sy idee was en dat hy net Zuma se naam “ydellik rondgegooi het” omdat dit sou verseker dat die landing wel plaasvind. Hy beweer dus Zuma was heeltemal onbewus van die hele onwettige petalje. Zuma is trouens volgens Koloane die onskuld self.

Die druk op die Suid-Afrikaanse regering om Koloane terug te roep, berus op twee punte. Eerstens het Koloane erken hy het sy magsposisie misbruik om ʼn ernstige strafbare handeling te begaan. Tweedens is Koloane volgens sy eie getuienis ʼn blatante leuenaar – dis net nie duidelik wanneer hy wel gelieg het en wanneer hy vir ʼn slag nie gelieg het nie.

As hy gelieg het toe hy gesê het die landing is deur Zuma beveel, het hy met sy leuen die nasionale sekuriteit geskend en die land se president by daardie daad betrek terwyl hy die staatshoof valslik van ʼn ernstige strafbare misdryf beskuldig het.

As hy hierdie week gelieg het toe hy Zuma se onskuld beweer het, het hy meineed gepleeg en smeer hy ʼn ernstige strafbare oortreding toe.

Niemand sal ooit weet wanneer iemand soos Koloane die waarheid praat nie, maar oor die waarheid van twee dinge is daar geen twyfel nie: Koloane is ʼn leuenaar en hy het strafbaar opgetree.

Die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, het in reaksie gesê sy sal Koloane se voortgesette ambassadeurskap en moontlike terugroeping dringend met pres. Ramaphosa bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Hy gaan niks oorkom nie. Gaan bevorder word na ‘n beter pos met baie meer “pay”.

Gert van Wierdapark ·

Die Gupta “landings-ampte-naar” laat nie feite in die pad van ‘n goeie spinstorie staan nie. Hy moet maar die Ambassa-deur gewys word! Finish en Klaar!

jaco ·

As jy sê ja die vliegtuig mag land, oortree jy wette ivm nasionale sleutelpunte. As jy sê nee die vliegtuig mag nie land nie, is jy weer rassisties.

Alida ·

Hulle lieg almal. Sal graag wil sien wat met die spul liegbekke gaan gebeur.

Hanna Hoekom ·

Nou huil almal oor n dief en leuenaar in n top posisie in die regering. Liewe hemel 90% van regeringsamptenare is diewe en leuenaars! Dit is hoe hulle in die eerste plek hul posisies verkry het! Niks met meriete te doen nie. Bring eerder daardie rassistiese Mandela in Denemarke terug! Ja, daardie rassis wat so pas met nog 6 maande se “werk” beloon is. Pateties!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.