Druk laai op oor Cyril-kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die naakte magspel binne die ANC is besig om die druk op pres. Cyril Ramaphosa te laat oplaai namate die uurglas uitloop vir hom om sy kabinet aan te kondig.

Ramaphosa bevind hom in die knyp slegs drie weke nadat hy die ANC gered het van ’n algehele ramp in die algemene verkiesing van 8 Mei.

Maar nou is hy vasgevang in die werklikhede en teenstrydighede van openlik strydende interne ANC-faksies wat geakkommodeer moet word, ’n verminderde aantal ANC-setels binne die parlement, sy beloftes van ’n verkleinde kabinet en sy onderneming om ’n skoon regering daar te stel.

Die kabinet sou al Maandag aangestel gewees het, maar dit is nou uitgestel na die einde van die week – ’n stukkie onprofessionele optrede uit die presidensie wat reeds die waarde van die rand negatief beïnvloed en buitelandse beleggers laat wonder.

Ter sprake is onder meer die kat‑en‑muis‑speletjies van die ANC-onderleier, David Mabuza, wat darem nou ingehuldig is en dus sonder omstredenheid vir ’n verdere termyn as adjunkpresident oorweeg kan word, asook die posisie van die minister van minerale hulpbronne (ook nasionale voorsitter van die ANC en sleutelvennoot van Ramaphosa), Gwede Mantashe, wat hom voor die ANC se integriteitskomitee bevind weens sy verbintenis met die omstrede maatskappy Bosassa, wat met staatskaping verbind word.

’n Verdere vertraging speel uit in die bevinding van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat nog ’n sleutelvennoot van Ramaphosa is. Dit handel oor die toestaan van aftreevoordele aan ’n voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay.

Sy probleme is vererger toe ’n ANC-lid van Roodepoort in Gauteng ’n klag teen Gordhan ingedien het by die ANC se integriteitskommissie op grond van die openbare beskermer se bevindings teen hom, en Gordhan se gevolglike kritiek op haar gedrag.

Hoewel Gordhan by die hooggeregshof appèl aangeteken het teen die openbare beskermer se bevindings, en daardie bevindings dus nou in die praktyk opgeskort is hangende die hofuitspraak, sal Ramaphosa bewus wees van die punt soos gemaak deur die EFF-leier, Julius Malema: As hy onder hierdie omstandighede vir Gordhan in sy kabinet opneem, sal hy nooit weer iemand anders onder soortgelyke omstandighede uit sy kabinet kan laat nie.

Benewens hierdie faksiegevegte en etiese probleme te midde van beloftes van ’n skoon kabinet, sit Ramaphosa ook met die uitdaging dat hy onderneem het om die kabinet te verklein, maar dat byna niemand in sy vorige kabinet uit die politiek getree het nie.

Dit is ’n resep vir ontevredenheid, want dit beteken hy gaan mense uit die kabinet moet laat – ’n verlaging in posisie en inkomste wat byna nooit met grasie hanteer word deur die betrokkenes nie, en wat vir hom probleme in sy party kan beteken in die tye wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Vonkprop ·

Dit is nou maar net weer ‘n bewys dat hy nie regtig die mag in die ANC het nie, maar die mense rondom hom. As hy regtig die mag gehad het sou hy al lankal die kabinet aangekondig het maar nou moet hy vrot appels gelukkig en stil hou. So ja dit sal nooit ‘n 100% skoon en eerlike kabinet wees nie.

Trol ·

Wha ha ha ha. As hy werklik n skoon kabinet wil hê, sal hy ver en wyd moet soek. Die feit dat mabuza reeds as lp ingehuldig is, is nou reeds n skadukol.

humor ·

Het lankal reeds die saak uitgemaak waarop dit op die oueinde gaan uitloop. Met die voortdurende gesleep van voete om die kriminele aan die kaak te stel weens politieke aspirasies beland die hele konkoksie nou in n drukgang – nagmerie. Dit voorspel steeds vir ons n uiters onstabiele regering vir die toekoms. Natuurlik saam met n ekonomie wat deurentyd onder druk gaan kom.

Regs! ·

Hy is net so skelm en korrup soos die ander kriminele in die kabinet!!

Aweregs ·

Gee die feite en gaan maak saak by SAP as jy so oortuig is daarvan. As hy skuldig is kan daar van hom ontlsae geraak word. Hoop nie jou stelling is basser op onkunde en onregmatige aantygings nie, dan is jy maar net soos een van ulle maak nie saak hoe regs jy is nie.

Willie ·

Nes mense voorspel het, daar gaan geen verandering plaasvind nie. Die ANC en hulle EFF vennote is in n korrupte web toe gespin…

Go figure ·

Veral met mense soos jy wat vryheud van spraak geniet. Leer asb iets anders sê

Werner ·

En almal het gedink deur te gaan stem gaan die land verander ????????????????????????????

Sophia ·

Ons kan altyd ‘n paar wit kabinetslede aanbeveel, soos byvoorbeeld Minister van Energie sal ek Mnr Ted Blom aanbeveel. Hy ken ESKOM deur en deur en sal dit sommer vinnig regruk! En dan verseker ‘n wit Minister van Gesondheid! Het iemand miskien iemand in gedagte? LoL

Sophia ·

Ja dink nou net daaraan… Mev Helen Zille sal ‘n puik Minister van Gesondheid uitmaak!!

marous ·

Daar is ‘n baie goeie Afrikaanse woord vir die stoffasie waarvan sekeres aanmekaar gesit
is ….

humor ·

Die probleem Gordon is nie tipies Afrikaan nie en bly vir sommiges n doring in die vlees. Die belastingbetaler kan hom hierdie jaar maar klaarmaak vir hosaak op hofsaak en apel op apel en so sal daar geen progressie wees nie.

Basjan ·

Hier is iets aan die broei. Die aanval op mnr Gordhan is net ‘n weerlig afleiding vir iets anders wat hule wil wegsteek.

jakes ·

CR se nuwe kabinet sal waarskynlik weer eweveel korruptes insluit as die vorige kabinet. Kom nou mense hoeveel van hierdie kaders is geskik vir ware leierskap op enige vlak?

skurweberg ·

Alles is op ‘n gereedheidsgrondslag vir 8 uur (20:00) vannaand, vir die aankondiging van die President wat vanaf die uniegebou gedoen gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.