Druk lei glo tot uitstel van debat, stemmery oor NGV-wet

(Foto: Leonie Bezuidenhout)

Die debat oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is Woensdag ter elfder ure met ʼn week uitgestel.

Die debat is tot 6 Desember uitgestel en volgens Cathlene Labuschagne, DA-sweep in die NRP, is daar geen rede hiervoor gegee nie. Volgens Labuschagne is ʼn brief glo ontvang waarna die ANC-hoofsweep sy meerderheid gebruik het om die debat tot volgende week uit te stel.

Solidariteit het intussen gesê hy staan slaggereed om die hofstryd oor die NGV aan te pak. “Word die NGV-wetsontwerp in die NRP aanvaar, is dit nóg ʼn tree nader aan bekragtiging met net die goedkeuring van pres. Cyril Ramaphosa wat dan as die laaste stap in die wetgewende proses oorbly.”

Solidariteit verkies egter dat die NGV-stemmery nie net uitgestel word nie, maar afgestel word. “Solidariteit en verskeie ander groepe het reeds yslike leemtes in die NGV-planne blootgelê, wat genoeg rede behoort te gee om die planne te laat vaar. Tog sal Solidariteit aanhou om die geveg daarteen te lei en ʼn reusehofsaak wag indien die wetsontwerp onveranderd deurgevoer word.”

Volgens Labuschagne is daar geen verdere inligting oor die brief of uitstel verskaf nie. “Ons word daarom met geen ander keuse gelaat nie as om te spekuleer dat die debat en stemming uitgestel is weens die druk waaronder die ANC verkeer op politieke vlak, van die burgerlike samelewing en die sakesektor.”

Die DA was volgens Labuschagne gereed om tydens die debat die wetsontwerp op talle gronde te verwerp.

“Suid-Afrika is nie finansieel in staat om die NGV te finansier nie en dit sal ’n groot impak op lewenskoste hê deur belasting op ’n reeds oorbelaste bevolking te verhoog. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het bevestig dat die implementering van die NGV honderde dokters sal laat emigreer.”

Volgens Labuschagne sal die NGV die minister van gesondheid veels te veel magte en pligte gee.

“Die weiering van die ANC om oop kaarte met ander lede van die NRP te speel, kom as geen verrassing nie, want hulle het duidelik ’n wekroep gekry oor hoe nadelig en skadelik die NGV-wetsontwerp werklik is. Alhoewel die inhoud nie bekend is nie, word daar aanvaar dat die brief van sakegroepe afkomstig is waarin hulle hul misnoeë oor die wetsontwerp uitspreek.”

Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het Woensdagmiddag gesê Suid-Afrikaners kan gerus wees dat die president nie sommer net die omstrede NGV sal afteken sou die NRP dit ook goedkeur en die wetsontwerp op sy tafel beland nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

etienne ·

As hierdie wetgewing deurgevoer word , sal dit die laaste spyker in die kis van SA wees, die hele staatskas word gefinansier deur reeds sukkellende belastingbetalers, en besighede. die NVG sal natuurlik n voordeel wees vir die miljoene verbode immigrante en werkloses, maar die klein persentasie belestingpligtiges, gaan dit beslis nie kop bo water hou nie.

hpven ·

Sou dit deurgevoer word sal dit die grootste doodsakker vir die hele Suid Afrika se bevolking wees. Die pa van van alle ANC mislukkings! Ek hoop dat alle eise wat daaruit voortvloei direk teen Ramaphosa en die ANC ingestel word en nie weer teen die belastingbetaler nie. Die tyd om hierdie ANC hool te groet kom nou op spoed!

Heinrich ·

Dankie Vincent Magwenya, ek voel nou sommer soveel beter – YA RIGHT!!!

annie ·

As jy enige staatskliniek of -hospitaal besoek slaan die agteruitgang jou asem weg. Private entiteite sal gekonfiskeer word en ook hul fondse. Die verval van staatsinfrastruktuur is reeds te ver gevorder vir herstel. Sloping en herbou sal inderwaatheid dalk goedkoper wees. Apparaat is kaput of weg of afwesig. Suid-Afrika word soos ‘n skatryk eerstewêreldland regeer sonder dat dit ryk is en onderhou word. Ons is ‘n patiese vervalle gehug vol inwoners met groot verwagtinge en eise maar die vermoëns om daaraan te voldoen is nul en void.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.