Druk neem toe op DA in Kaapstad

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die DA se Patricia de Lille-nagmerrie vererger stelselmatig, met De Lille wat kliphard terugveg en die partyleier, Mmusi Maimane, wat die DA se Kaapse stadskoukus as ʼn spul amateurs uitgekryt het.

De Lille het Woensdag haar antwoord aan die DA se federale raad bekend gemaak, met die belangrike onthulling dat ʼn ondersoek haar glo vrygespreek het op ʼn belangrike klagte teen haar.

Die DA se federale bestuur vergader die komende naweek in Johannesburg, onder meer om te besluit of die party van De Lille, Rhenda Stephan (burgemeester van die Matzikama-stadsraad op Vredendal) en Donovan Joubert (speaker van die Stellenbosse stadsraad) ontslae moet raak kragtens die party se terugroep-klousule.

Die omstrede terugroep-klousule, wat verlede maand tydens die DA se kongres in Pretoria aanvaar is, bepaal dat ʼn DA-lid (of -lede) in ʼn uitvoerende posisie (soos premier, burgemeester of speaker) deur die federale bestuur teruggeroep kan word uit hul amp as hulle die steun en vertroue van die meerderheid van hul DA-koukus verloor het.

As die federale bestuur die DA-lid terugroep, moet hy binne 48 uur uit die pos bedank of hy verloor sy DA-lidmaatskap, wat kragtens Suid-Afrika se stelsel van proporsionele verteenwoordiging in elk geval sal beteken hy is die setel en sy inkomste kwyt.

De Lille het egter nou aangekondig sy gaan die wettigheid en grondwetlikheid van die DA se gedrag in die hof toets indien die federale bestuur sou probeer om die terugroep-klousule op haar toe te pas.

Dat dit ʼn lang en uitmergelende geveg gaan wees indien die DA daartoe oorgaan, blyk daaruit dat De Lille die kwessie tans suiwer op tegniese gebied takel, sonder veel fokus op die inhoud van die klagtes. Sy voer trouens aan die klagtes bevat nie juis veel inhoud nie.

Wat die mosie van wantroue in haar betref wat verlede week deur sowat tweederdes van die DA se Kaapse metro-koukus ondersteun is, voer sy aan daar is geen voorbeelde van die klagtes teen haar of die aard van haar beweerde oortredings nie. Die afwesigheid van detail soos datums van die beweerde oortredings is volgens haar nie onbenullig nie omdat, so voer sy aan, dit ʼn poging verteenwoordig om haar wederregtelik retrospektief aan te kla.

De Lille voer voorts aan die gebrek aan besonderhede oor watter regulasies of bepalings van die gedragskode vir stadsraadslede sy oortree het (in weerwil daarvan dat sy sulke besonderhede aangevra het), maak dit onmoontlik vir haar om haarself regverdig te verdedig.

Volgens De Lille is slegs een van die klagtes teen haar spesifiek, naamlik dat sy ingemeng het by die aanstelling van ʼn amptenaar van die stadsadministrasie, maar hieraan is sy reeds deur ʼn onafhanklike ondersoek onskuldig bevind, so sy weet nie wat maak dit nog op die klagstaat nie.

Sy word daarvan aangekla dat sy die DA in die media aangeval het, maar De Lille sê sy is heeltemal bereid om aan te toon dat haar mediaverklarings te alle tye in reaksie was op openbare DA-aanvalle teen haar.

Die blote feit dat die DA se openbare aanvalle teen haar voortduur terwyl hulle veronderstel is om haar saak volgens meriete op te weeg, toon volgens De Lille dat die proses geensins aan die eis van regverdigheid voldoen nie.

Sy vra voorts dat die volgende lede van die DA se federale bestuur nie toegelaat word om haar saak aan te hoor nie omdat, so voer De Lille aan, hulle reeds bewysbaar bevooroordeeld teen haar is:

* Mmusi Maimane, DA-leier, omdat hy in die openbaar beweer het sy ontduik verantwoordelikheid;
* die federale raad se ondervoorsitter, Natasha Mazzone, omdat sy op televisie gesê het De Lille het as burgemeester misluk;
* die DA se adjunkhoofsweep, Mike Waters, wat De Lille op sosiale media van korrupsie beskuldig het;
* die Wes-Kaapse DA-leier, Bonginkosi Madikizela, wat verklaar het dat De Lille nie regtens skuldig hoef te wees om afgedank te word nie omdat hy dit beskou as ʼn politieke besluit;
* die voorsitter van die federale bestuur, James Selfe, oor sy stellings dat De Lille net hunker na openbare simpatie.

De Lille wys uit dat die federale bestuur vroeër vanjaar besluit het teen ʼn mosie van wantroue in haar deur die koukus en ten gunste van ʼn normale dissiplinêre proses, wat sedertdien skipbreuk gely het. Sy vra wat sedertdien verander het.

De Lille maak dit laastens duidelik dat enige bevinding teen haar, asook die grondwetlikheid van die terugroep-klousule, in die hof betwis sal word.

In reaksie het Mazzone, namens die DA, gesê die party neem kennis dat De Lille gekies het om dié korrespondensie openbaar te maak, en dat die federale bestuur se besluit kragtens die terugroep-klousule te gelegener tyd bekend gemaak sal word.

Intussen het Maimane in ʼn streng brief toegeslaan op DA-koukuslede in die Kaapse metro, waar die situasie nou ontstaan het dat die DA-streeksbestuur die DA-stadsbegroting van R79 miljard opponeer.

Dis welbekend dat die DA-metroleier, Grant Twigg, ʼn teenstander van De Lille is. Hy is verlede jaar naelskraap tot metro-streekleier verkies teen ʼn vertroueling van De Lille, Shaun August.

In die e-pos aan die hele DA-koukus bestempel Maimane koukuslede se openbare uitlatings, spesifiek oor die De Lille-kwessie, as “amateuragtig”.

Die DA-stadsraadslede word dan deur Maimane verbied om enige opmerkings oor die aangeleentheid in die openbaar of deur sosiale media te maak tensy dit met die ander ondervoorsitter van die DA se federale raad, Thomas Walters, uitgeklaar is.

Intussen wag Kaapse kiesers en belastingbetalers in spanning op die volgende episode van die sepie waarin die Kaapse stadsraad nogmaals ontaard het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johann cb ·

Ek sou graag die WERKLIKE rede(s) wou weet hoekom die DA van haar wil ontslae raak! Persoonlik vermoed ek lankal vuil spel teen Me DeLille…soos ons sal sê, “the plot thickens”!

Casper Labuschagne ·

@Johann cb – Een woord: “tenders.” Ek het self gewonder hoekom die DA onlangs op hul kongres ‘n resolusie aanvaar het dat kwotas nie die oorwegende faktor sal wees vir hul eie munisipale aanstellings nie, en dit terwyl die DA self ‘n vet voorstaander van regstellende aksie is soos dit op die res van ons toegepas word. My eie gevolgtrekking is dat die DA nie nog ‘n aanstelling soos Patricia de Lille wil sien nie, waar de Lille ‘n lewenstyl het wat so ver bokant die vlak van haar amptelike inkomste is dat vergelykings met Nkandla gemaak word.

Na die volgende verduideliking deur ‘n DA veteraan, het die lig rakende Me de Lille toe ook vir my opgegaan: “The imposition of ‘cadres’ will always lead to incompetent persons being placed in positions in which they have little or no understanding as can be seen in the many incompetents in the ANC where even cabinet members abuse their departments by giving tenders to persons totally incapable of servicing those tenders until the department becomes insolvent.”

rollie ·

Dit maak nie saak wat die redes is nie. As die party voel sy voeg nie meer waarde toe nie of strem die vooruitgang van die party moet sy loop. Waar het jy al gehoor van ‘n politieke partylid (enige plek ter wereld) wat die besluite van die party oor wie waar moet dien, teengaan? Dis absurd. Kyk net hoe hire en fire Trump mense in sy regering.

chris ·

dis tyd dat die DA heroep word daar was nik verkeerd met Patrisia nie behalwe dan sy gevaar
is die groot meneer

jd ·

Mensig die DA is ook maar nes die ANC. Veg onder mekaar. As iemand sy/haar werk probeer reg doen dan wil hul van daai een ontslae raak. Maimane leer vinnig van sy EFF vriende en sy ANC buddies. Maar hulle sit op elke hoek v d strate en mense werf.
Asseblief!!!

Rynhardt ·

Liberale DA het geen bewyse teen De Lille nie!Gee die DA hel,De Lille,want die party is uiters rassisties teenoor afrikaanssprekendes!Maimane en sy spul amateurs wil van haar ontslae raak,want sy pas nes die res nie in by die DA se nuwe grondwet van radikale transformasie nie!De Lille,jy sal weer n lekker pos kry by Anc of EFF,dan kan jou bankbalans weer lekker groei!!!????????????

wielie ·

Ten minste is die Kaap baie skoner en netjieser as Pretoria! Stuur maar hiernatoe dalk ruk sy die vieslike vuil Pretoria reg en raak ontslae van al die gemors!

Buitestander ·

Dit is maar vuil politiek. Elkeen wil maar sy sakke met belasting geld vul. Daar is geen sprake van dienslewering nie.
Dit is waarom ANC verjare teruur gepleeg om aan bewind tekom geld, geld en geld!!!

Jb ·

Dit lyk op die oog af baie soos ‘n persoonlike vendetta wat teen haar gevoer word. Dit is ook kommerwekend siende dat die DA, die amptelike opposie, nie vertroue inboesem met hierdie tipe gedrag en gebrek aan duidelike leierskap.

Mielie ·

Nog n rede hoekom hulle kiesers verloor. Nes die ANC…..Eens n betroubare party….maar dinge het verander. Die grootste amateur is die leier homself.

AJ ·

De Lille was / is SKELM! Net soos Zuma.

Daarom moet sy afgedank word.

Moenie die eenvoudige situasie probeer verpolitiseer nie.

Dis DOM

Oom Kalahari ·

Me de Lille is darem nie heeltemal so onskuldig nie en het ook maar ‘n paar geraamtes in die kas wat goed versteek word. Die strategie van ANC simbole is nog behoue. Sal ook dink Maimane is dalk bekommerd sy raak te sterk in die DA en werk hom uit. Magspel en geld is die groot trekpleister van alle euwel.

Koos ·

En Patty se maatjie Helen wie haar na die DA laat oorloop het is tjoepstil. Mense word wakker, waarom sal die DA met haar sukkel as sy so goeie burgemeester was? As hulle nie van haar ontslae raak nie gaan die verleentheid soveel groter wees. De Lille speel die spel baie slim, sy gaan die eerste of tweede rondes wen hier, selfs al het sy geraamtes in die kas.

LB S ·

Waaroor is sy die meeste gepla, haar eie eggo of haar sak? Mensig, wat soek sy dan nog in die DA?

Johann du Toit ·

Dit is nie net die waardes en geloofwaardigheid van de Lille wat onder die kollig geplaas word nie maar ook die geloofwaardigheid van die DA se verbintenis en toewyding tot eerlikheid, deursigtigheid, gelykheid en regverdigheid.
Die de Lille aangeleentheid het veroorsaak dat ‘n mens die motiewe en taktiek van die DA bevraagteken, Is die aantygings die waarheid. gaan dit oor magsbeheptheid of is gemene spel vanaf die DA se kant betrokke?. Indien dit sou uitkom dat dit wel ‘n smeertog teen de Lille was dui dit op die totale agteruitgaan van die DA se morale waardes.
Die DA het in die verlede strukture in plek gehad om die burgermeester se doen en late te bestuur. Daar is toegesien dat die burgermeester se administrasie en finansies volgens DA beleid en voorskrifte geskied. Bekwame mense was in beheer wat hulle nie gesteur het aan skinderpraatjies in die gange nie. Wat het van hierdie strukture en mense geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.