Druk om laaste Afrikaanse skole te verengels

Die enigste twee oorblywende Afrikaansmediumskole in Kaapstad se suidelike voorstede sê hulle doen alles in hul vermoë om hul taalbeleid te handhaaf, ondanks druk van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) om te verengels.

Die Laerskole Paul Greyling in Vishoek en Simon van der Stel in Wynberg het minder as 200 leerders elk. Dis al wat oorgebly het van ’n eens florerende Afrikaanse skoolgemeenskap, waar nog tot enkele jare gelede hoërskole soos Groote Schuur, Voortrekker en Zwaanswyk asook agt laerskole moedertaalonderrig in Afrikaans gebied het.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sal verkies dat die Laerskool Simon van der Stel in Wynberg ook onderrig in Engels bied aangesien die minder as 200 leerders nie die skool se geriewe ten volle benut nie. Foto: Morné van Rooyen

Paul Greyling, wat sedert sy stigting in 1956 ʼn klein skool was, het vanjaar 158 leerders van gr. 1 tot 7. Maar die 90 jaar oue Simon van der Stel het in ʼn stadium twee klasse per graad gehad en het dus kapasiteit vir aansienlik meer leerders as die huidige 159 in dié grade en 27 in gr. R en RR.

Die waarnemende skoolhoof, Laurika Hefer, sê hulle bemark Simon van der Stel tans onder Afrikaanssprekende ouers van die omgewing so aggressief as wat hul beperkte hulpbronne toelaat. Wynberg het egter nie ʼn Afrikaanse kleuterskool nie; dus skryf heelparty ouers hul kinders aan Engelse kleuterskole in en gaan die kinders dan enduit in Engels skool.

Sy en Saneli van Niekerk, voorsitter van Paul Greyling se beheerliggaam, sê albei hul skole ervaar druk van die WKOD om hul taalbeleid te verander. Maar Jessica Shelver, woordvoerder van die onderwysdepartement, het by navraag gesê al het die kringbestuurders met die skole hieroor gepraat, bly enige verandering in die taalbeleid die beheerliggaam se besluit.

Van Niekerk sê dis duidelik die departement wil hê hulle moet verengels of parallelmediumonderrig invoer, “maar dis ons beleid dat ons ten sterkste ten gunste is van moedertaalonderrig, veral in die grondslag- en junior fase”.

Al die ander Afrikaanse skole in die suidelike voorstede het Engels naas Afrikaans as onderrigmedium ingevoer voor hulle eindelik heeltemal verengels het.

Gevra hoe die WKOD dié druk toepas, sê Van Niekerk verteenwoordigers van die departement besoek die skool af en toe en maak dit duidelik hulle wil hê klasse moet vol wees. “Onderwysposte kom ook in die gedrang omdat die getalle volgens hulle nie na wense is nie. Die departement verkies groot klasse.”

Shelver sê albei skole se getal onderwysposte is vanjaar op 164 leerders bereken, maar Paul Greyling het vyf departementele poste en Simon van der Stel net vier.

Omdat Paul Greyling volgens Van Niekerk “bitter min” geldelike bystand van die staat kry, ervaar hulle groot finansiële druk. “Ons het ook ongelukkig weens die aard van die omgewing baie kinders wie se ouers nie die skoolgeld kan bekostig nie en wat uit moeilike huislike omstandighede kom,” sê sy. “Die staat gebruik dit om nog druk op die skool te plaas om te verengels.”

Van Niekerk, wat twee kinders in Paul Greyling het, skat net 40% van die ouers van die skool se 176 leerders van gr. R tot 7  kan die skoolgeld bekostig, hoewel nie almal dit wel betaal nie.

“ʼn Maatskappy in Lakeside borg ʼn groot aantal kinders se skoolgeld en heelparty kry ook algehele vryskelding,” sê sy. “Tot 70% van ons kinders kom uit minderbevoorregte huise.”

Dat die naaste Afrikaanse hoërskool, Jan van Riebeeck in die stadskom, 25 km van hier is, is volgens Van Niekerk nog ammunisie vir die departement, want hulle meen dis geriefliker dat plaaslike kinders strykdeur in Engels onderrig word. Sy skat as ’n reël gaan sowat driekwart van die gr. 7’s na dié hoërskool en die res na die plaaslike Fish Hoek High School.

“Ons sou baie graag ʼn Afrikaanse hoërskool in die vallei wou gehad het, maar die departement gebruik ons getalle teen ons. Baie ouers stuur hul kinders van gr. 1 af na Engelse skole omdat hulle dink dit sal hulle help cope in ʼn Engelse hoërskool.”

Shelver sê daar was nog nooit sprake van ’n Afrikaanse hoërskool in dié omgewing nie omdat die behoefte daaraan dit nie regverdig nie, maar die Engelsmediumskole in Vishoek is vanjaar oorvol.

Van Niekerk vertel dit verg groot opofferings van plaaslike leerders om hul hele skoolloopbaan in Afrikaans skool te gaan. Die bus wat Vishoek en omstreke se hoërskoolleerders daagliks stad toe neem om aan Jan van Riebeeck skool te gaan, vertrek al voor ses soggens en kom smiddae eers ná vyf terug. Tog is moedertaalonderrig vir die leerders en ouers so belangrik dat sommige jare se gr. 7’s almal na Jan van Riebeeck gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

54 Kommentare

jongste oudste gewildste
ZAR

Dis onaanvaarbaar dat daar soveel druk op Afrikaanse skole geplaas word. Ons kinders het die reg om in hulle moedertaal skool te gaan.

B

Wie beheer die WKOD : DA Minister Debbie Schafer?

Albatros

Los ons Afrikaanse skole uit!

Lerato

Hoe jammer dat Afrikaans as akademiese taal gaan uit sterf.

Hoe sal die nageslag groot skrywers soos NP van Wyk Louw en Breyten Bruitenbach na regte waardeer?

Celtis Africana

Dapper stryders!
Mag hul soos die bokke teen alle menings in, tog Afrikaans bly in die vuilbakleistryd!