Druk op CR om Digital Vibes-verslag bekend te stel

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Dept. van gesondheid)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia), by die presidensie ingedien. Dit is om toegang tot die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se betrokkenheid by die Digital Vibes-korrupsieskandaal te kry.

Dié verslag is aan die begin van die maand aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig en die presidensie het ontvangs daarvan erken.

Maroela Media het vroeër berig Digital Vibes en Mkhize is in die spervuur weens ’n kontrak van R150 miljoen wat sy departement aan Digital Vibes toegeken het om kommunikasiedienste vir die departement te verrig.

Die DA het sedertdien ’n beroep op Ramaphosa gedoen om onmiddellik die volledige verslag sonder enige wysigings bekend te maak, sodat die saak dringend na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys kan word.

Die party het nog geen terugvoer oor dié versoek ontvang nie en hy sê dit lyk asof die president huiwerig is om die verslag aan lede van die publiek bekend te stel.

Intussen is Mkhize steeds met spesiale verlof hangende die SOE se ondersoek.

Siviwe Gwarube, woordvoerder van gesondheid vir die DA, sê volgens berigte het die SOE uitvoerende stappe teen Mkhize en dissiplinêre optrede teen die betrokke amptenare aanbeveel.

“Indien hierdie berigte waar is, is Ramaphosa besig om Mkhize se permanente afdanking uit te stel,” sê Gwarube.

“Ramaphosa se onvermoë om moeilike en etiese besluite te neem, sal ons land duur te staan kom. Só sit Suid-Afrika vir maande al sonder ’n minister van gesondheid terwyl Mkhize met spesiale verlof is. Die Covid-19-pandemie sal nie suksesvol oorkom kan word sonder ’n minister in die stoel nie. Die waarnemende minister moet rondskarrel om twee portefeuljes aan die gang te hou.”

Die National Freedom Party (NFP) het ook Maandag in ’n verklaring gesê dit is onaanvaarbaar dat meer as drie weke verloop het sedert die SOE sy verslag aan Ramaphosa oorhandig het, en nog geen aankondiging oor die inhoud daarvan gemaak is nie. Die NFP is ʼn betreklik klein party met twee setels in die parlement. Die party se grootste steun lê in KwaZulu-Natal.

“Suid-Afrikaners moet weet of hul belastinggeld bedrieglik bestee is en diegene daarby betrokke moet verantwoordelik gehou word,” sê Canaan Mdletshe, woordvoerder vir partyleier Zanele KaMagwaza-Msibi.

Twee van Digital Vibes se grootste rolspelers, Mather en Mitha, het albei noue bande met Mkhize. Mkhize het vroeër ten sterkste ontken dat hy enigsins ’n rol gespeel het in die toekenning van die tender, óf dat hy daarby gebaat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marius ·

Hy is te besig om rassisme te blameer vir die chaos in KZN .

Mariana ·

Ja die verslag sal nou so bietjie lank vat om bekend gemaak te word, dink seker nou aan manier om nog ‘n skelm te verontskuldig.pfft!

Willempie ·

Wees net gefuldig. Dit vat maar ń hele rukkie voordat hulle verstaan wat daar geskryf staan.

Persheks Adri ·

Wonder watter verskonings Cyril gaan hê… Onluste, Zuma, Covid eish die lys kan so lank wees vir verskonings. Ek persoonlik dink hy gaan vir hom “cover”

Jack ·

Die pres het dit sy beleid gemaak om korruptes te vervolg. So nou moet hy nie met presidensiele vryskelding kom om sy eie beleid te omseil nie. Ons hou dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.