Druk op George-burgemeester om te bedank

Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap. (Foto: Facebook)

Die DA sê die aard van die bewerings teen die burgemeester van George, Melvin Naik, is só ernstig dat hy nie vir die Valke se ondersoek, wat reeds langer as twee jaar duur, kan wag voor hy optree nie.

Geordin Hill-Lewis, die DA se kieshoof in George, het Dinsdag gereageer op ʼn forensiese ondersoek wat gedoen is na bewerings van bedrog, korrupsie, wanbestuur en ernstige wanpraktyke by die George-munisipaliteit.

Die ondersoek is gedoen in opdrag van die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell.

“Die bevindings word gestaaf deur ʼn hele aantal bekentenisse deur individue betrokke, asook dwingende omstandigheidsgetuienis. Daar is ook bewyse dat sekere relevante dokumente van die ondersoekers weerhou is,” het Hill-Lewis gesê.

Die DA sê hy is verbind tot ʼn regering wat beter is en meer verantwoordbaar is as enige ander party in Suid-Afrika. “Elke kieser en belastingbetaler moet vertroue hê dat waar die DA regeer, openbare geld slim bestee en nie wanaangewend gaan word nie.

Melvin Naik, burgemeester van George. (Foto: George-munisipaliteit)

“Wanneer die DA in dié verband tekort skiet, gaan ons optree om ons standaard hoog te hou en openbare vertroue te herstel. Niemand wat betrek word by korrupsie het ʼn plek in die DA-regering nie,” het Hill-Lewis gesê.

Die DA het onderneem om dadelik stappe te doen. Dit sluit in ʼn kennisgewing aan Naik van die DA se voorneme om hom te skors en aan hom die geleentheid te gee om redes te verskaf oor waarom dit nié gedoen moet word nie.

Die DA gaan Naik ook ingevolge die DA se grondwet aankla en ʼn verslag gaan volgende Donderdag oor die kwessie by ʼn raadsvergadering ter tafel gelê word.

Maroela Media verneem daar is groot druk op Naik om te bedank.

Die DA vergader intussen vanmiddag met hom om ʼn weg vorentoe te probeer uitpluis.

Hill-Lewis het gesê tronkstraf gaan opgelê word indien Naik aan sekere van die beskuldigings teen hom skuldig bevind word. “Burgemeester Naik ontken al die bewerings teen hom en dit is ook nie in ʼn hof bewys nie. Die bevindings gaan egter veel verder as blote bewerings of gerugte – dit is gedetailleerd en word gestaaf en in sommige gevalle weerspreek deur die beskikbare getuienis en die burgemeester se ontkennings,” het hy gesê.

Hill-Lewis het gesê die party kon gevolglik nie langer wag om op te tree nie.

“Ons kan nie langer wag vir die uitslag van enige strafregtelike verrigtinge nie, hoewel dit uit die aard van die saak ook moet voortgaan. Ons moet nóú beslissend optree om die integriteit van die DA-administrasie in George te herstel.”

Hill-Lewis het gesê die DA sal nie huiwer om op te tree om skoon regering te verseker nie, selfs al beteken dit dat daar teen kollegas opgetree moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna Botha ·

Gaan dit OOIT eindig met die mense wat so steeeel !

Karel ·

Maak my vir n paar maande wêreld diktator met absolute mag en ek laat dit binne weke verdwyn.

Marietjie Blignaut ·

Wonder net waarom dit so lank moes duur voordat hul tot hierdie besluit moes kom? Stories oor korrupsie loop al vir jare in die wandelgange rond….

Stofdonkie ·

Die da is maar net anc lite. Gee die George raad maar weer terug vir die vf+ sodat hulle die kaiings uit die vuur kan krap voor die munisipaliteit ook lyk soos Pretoria en Johannesburg.

jean ·

Nou wil die skelm spul ‘n weg vorentoe uitpluis?….dis nie van gister af dat hierdie dinge gebeur nie. Ons munisipaliteit is verrot van bo tot onder uit. Die DA is nutteloos…die dorp gaan elke dag meer en meer agteruit…daar is lankal nie meer”standaarde” in die DA….en so tjommel ons aan.

maans ·

Die da het ook gefaal in Pretoria. Die toestand van party teerstrate is verby om net plek plek regtemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.