Druk op Helen Joseph-hospitaal ‘dreigende katastrofe’

‘n Pasiënt lê vasgemaak aan ‘n bed in die gange van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Die aantal pasiënte wat in die Helen Joseph-hospitaal se ongevalle-eenheid oornag, het eksponensieel toegeneem en pasiënte wag dae lank om hulp weens die voortgesette sluiting van dele van die naburige Charlotte Maxeke-hospitaal. Kenners waarsku dit stuur op ʼn gesondheidskrisis af, maar die Gautengse departement van gesondheid het skynbaar geen bykomende hulpbronne om aan die Helen Joseph-hospitaal beskikbaar te stel nie.

“Mense is aan’t sterf. Dit is ʼn verskriklike situasie vir personeel en pasiënte,” sê Jack Bloom, die DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, oor toenemende druk op die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg.

Die ongevalleafdeling en psigiatriese sale van die Charlotte Maxeke-hospitaal is ná ʼn brand in April verlede jaar gesluit.

Die hospitaal is tien maande later steeds nie ten volle in werking nie, met pasiënte wat die afgelope maande na ander hospitale, waaronder die Chris Hani Baragwanath- en Helen Joseph-hospitaal, herlei word. Laasgenoemde dra in hierdie stadium klaarblyklik die grootste las en is volgens Bloom die “grootste slagoffer” van die brand verlede jaar.

ʼn Bron het aan Maroela Media gesê die bestaande gebrek aan ruimte by die Helen Joseph-hospitaal het in ʼn “katastrofe” ontaard. Psigiatriese pasiënte word in enige kamer en beskikbare hoek ingebondel en hulle kan tot ʼn week lank op ʼn bed in ʼn saal wag. Dié bron wou nie sy naam noem nie, uit vrees vir vervolging.

Prof. Guy Richards, emeritus professor in kritieke sorg by die Wits-universiteit, het vroeër getwiet dat mense wat by die Helen Joseph-hospitaal se ongevalleafdeling oorslaap, met 500% toegeneem het sedert die Charlotte Maxeke-hospitaal sy deure gesluit het.

Waar die gemiddelde wagtydperk vir ʼn bed by die Helen Joseph-hospitaal gewoonlik sowat vier uur was, staan dit boonop nou op tussen een en twee dae.

Die gange in en om die Helen Joseph-hospitaal se ongevalle-eenheid is vol pasiënte wat wag om opgeneem te word. (Foto: Tania Heyns)

Volgens Maroela Media se bron is die hoësorgeenheid net so ʼn groot bron van kommer. Naastenby dubbel die getal pasiënte waarvoor die saal gebou is, word tans daar behandel.

“Die personeel is verstommend en ek kan nie glo hulle hou dit uit nie. Almal is egter uitgebrand en keelvol.”

ʼn Dokter in die ongevalleafdeling het aan GroundUp gesê daar is sowat agt dokters wat meer as 100 pasiënte per skof moet behandel. Die ongevalleafdeling moet nou alles van werklike noodgevalle tot voorskrifte hanteer, terwyl benodigdhede soos naalde en borsbuise dikwels opraak.

Maroela Media het Maandagmiddag die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal besoek en is deur ’n ontstellende toneel begroet.

Verskeie van die wagkamers was stampvol met nie ’n enkele oop bed beskikbaar nie. Minstens vyf pasiënte het op beddens – sonder enige linne – in ’n gang gelê. Een van die pasiënte, vermoedelik ’n psigiatriese pasiënt, was aan sy bed vasgebind.

Die reuk van urien het die gang vol gehang. “Dit stink,” het een pasiënt gekla.

Byna elke vertrek van die eenheid was tot oorlopens toe vol pasiënte en familielede, terwyl dokters en verpleegsters rondgeskarrel het om pasiënte te behandel.

Sommige pasiënte het in ’n vertrek in rolstoele gesit en wag – vermoedelik omdat daar nie ’n bed vir hulle beskikbaar is nie. Sommige van dié pasiënte was reeds aan ’n drup gekoppel of het ’n suurstofmasker aangehad. Ander het reeds in hul rolstoel aan die slaap geraak.

’n Vrou het laatmiddag buite een van die wagkamers vertel dat haar verloofde reeds vroegoggend by ongevalle aangemeld het nadat hy weens ’n vergroeisel in sy keel gesukkel het om asem te haal.  Teen laatmiddag was hy nog nie opgeneem nie.

Vordering by Charlotte Maxeke-hospitaal

Pasiënte in die Helen Joseph-hospitaal se ongevalle-eenheid wag soms dae lank in die hospitaal se gange om opgeneem te word. (Foto: Tania Heyns)

David Makhura, Gautengse premier, het reeds ʼn proklamasie onderteken om alle opknappingswerk aan die Charlotte Maxeke-hospitaal van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling na die departement van gesondheid oor te dra.

Dít nadat verskille oor die begroting en omvang van die werk tussen die twee departemente tot ʼn vertraging in herstelwerk gelei het. Altesame R68 miljoen is in Oktober verlede jaar beskikbaar gestel vir opknappingswerk aan die ongevalleafdeling en volgens die premier sal die eerste gedeelte van die projek teen die einde van die maand afgehandel wees.

“Die besluit om die departement van infrastruktuurontwikkeling as die inwerkingstellingsagent te verwyder is die gevolg van sy versuim om by spertye te hou en groot kommer oor duurder pryse vir die opknapping- en herstelwerk,” sê Makhura.

Die nasionale en provinsiale departement van gesondheid werk nou saam met die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika as die inwerkingstellingsagent.

“Ons sal verseker die werk word professioneel gedoen, betyds en teen kosprys.”

Maroela Media het die Gautengse departement van gesondheid gevra vir kommentaar op die toename in pasiënte by Helen Joseph-hospitaal en wag nog op terugvoer.

  • Bykomende verslaggewing deur Tania Heyns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Hulle het darem reg gekry om die naam te verander. Prioriteite, mense, prioriteite

annie

And so it goes… regoor die land. Die ANC-vryheidsmanifes in sterwende lywe… ‘n Rewolusie van katastrofiese formaat. Die ANC kán nie regeer nie en moet nie regeer nie, maar dit doen. Peste broei en dít binne-in hospitale. Wonder ons nog hoekom die ‘covid’sterftes so hoog is?

Henri

En dit is die voorland vir alle Suid Afrikaners indien die cANCer nie afsien van die NGV-plan nie.

“Maroela Media het die Gautengse departement van onderwys gevra vir kommentaar op die toename in pasiënte by Helen Joseph-hospitaal en wag nog op terugvoer.” Moet dit nie die departement van gesondheid wees nie? Lesufi kan nie pa staan vir al die probleme nie, of is dit ‘n wiskundige woordsom met ‘n sosiale wetenskappe agtergrond?

Judy

Wat het onderwys met die toename by Helen Joseph te doen?

Kobus

Wat het die departement van onderwys met die toename in gevalle te doen? Sou die gesondheids departement nie meer sinvolle antwoorde kan gee nie?