Druk op Ramaphosa om op te tree teen minister

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Die druk laai op teen pres. Cyril Ramaphosa om die minister van binnelandse sake, dr. Siyabonga Cwele, uit die kabinet te laat ná uiters afwysende bevindings teen die minister deur die Mufamadi-paneel van ondersoek na die land se intelligensiedienste.

Die bevindings is gemaak oor Cwele se gedrag toe hy minister van staatsveiligheid was. Ramaphosa het Cwele verlede jaar aangestel as minister van binnelandse sake.

Twee ander groot kanonne oor wie daar druk vir optrede op Ramaphosa sal wees, is die ANC-LP en voormalige minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, en die direkteur-generaal van korrektiewe dienste (soos aangestel deur Ramaphosa), Arthur Fraser.

Dit volg op die bekendmaking van die ondersoek na magsvergrype in die land se spioenasiedienste deur ʼn paneel onder leiding van dr. Sydney Mufamadi, oudminister en tans akademikus aan die Universiteit van Johannesburg.

Die verslag van 101 bladsye, wat volledig op die webblad van die presidensie gepubliseer is, maak vyf hoofbevindings.

Eerstens bevind dit die land se spioenasiedienste is erg verpolitiseer, en is gebruik om interne stryery en magsmededinging in die ANC ter wille te wees. Tweedens bevind die paneel dat die spioenasiedienste sedert 2009 strydig met die Grondwet opgetree het. Derdens word bevind die amalgamasie van die binnelandse en buitelandse spioenasiedienste was strategies én wetmatig ʼn fout. Vierdens word bevind daar is te veel geheimhouding in die spioenasiedienste en laastens dat grootskaalse korrupsie plaasgevind het.

Siyabonga Cwele. (Foto: Chantall Presence/ANA)

Die aanbevelings deur die paneel, wat in groot mate uit meelopers van oudpres. Thabo Mbeki bestaan het, kom grootliks daarop neer dat teruggekeer moet word na hoe die spioenasiedienste tydens die Mbeki-bewind (toe Mufamadi as groot Mbeki-dissipel ook in die kabinet gedien het – hy het trouens bedank toe Mbeki uitgeskop is) gefunksioneer het.

Die vier belangrikste aanbevelings behels eerstens dat ʼn nasionale sekuriteitstrategie ontwikkel word en tweedens dat ʼn inwerkingstellingtaakspan daargestel moet word. Die derde aanbeveling is dat strafregtelike vervolging en dissiplinêre optrede met ʼn voorsitterskap van buite die spioenasiediens moet volg (maar geen spesifieke aanduiding van wie waarvan aangekla moet word of dat dit ʼn openbare verhoor moet wees, word gegee nie). Laastens word daar aanbeveel dat strukturele veranderings aan die spioenasiedienste aangebring moet word, waaronder skeiding van binnelandse en buitelandse spioenasie, die skuif van die koördineringsfunksie van spioenasie na die presidensie, die herlewing van die Nasionale Sekuriteitsraad en die hersiening van die mandate van die spioenasie- en intelligensiedienste, waaronder militêre intelligensie en die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

Spesifieke bevindings is dat strafregtelike gedrag en by name die PAN-netwerk van parallelle intelligensie wat teen massiewe koste deur Fraser bedryf is, ondersoek word, dat die rol van die toesighoudende regter versterk word, dat die uitreik en uitvoer van onwettige opdragte strafbaar gemaak word, asook dat die inspekteur-generaal van intelligensie én die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie nie hul werk doen nie.

Die verslag bevind ook dat spioene reguit en wederregtelik opdragte ontvang en inligting verskaf het uit en aan die ANC-hoofkwartier, Luthuli Huis, maar gee geen aanduiding van watter ANC-amptenare aan hierdie onwettige gedrag deelgehad het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ander Annie ·

Die Minister se vrou is ook nie vlekkeloos nie. CR sal nou regtig moet begin optree.

Spike ·

Julle leef in ñ droomwerêld. Dit is cyril se comrade en kader pelle. As hy hulle laat val val hy saam.

Afrikaner ·

Noujatoe, nou is dit hierdie drie, maar die Zondo kommissie veroorsaak dat Cyril se kopsere nie minder raak nie. So daar is dan buiten die staatskaping ook nog die korruptes. Ek het nou al so uit die vuis uit probeer tel hoeveel mense van die ANC betrek is, maar dis ‘n onbegonne taak. En Cyril self het dalk geweet van ongerymdhede, hy was dan adjunkpresident tydens Zuma se termyn. En almal sit nog knus in hul poste.

Neels ·

Lees ek op ander media die huidige minister van staatsveiligheid se nie een van die klomp wat skuldig is sal wegkom nie. Hulle moet vervolg word meen sy . Die meninig is net vir oe verblindery . Die senior mense het n spreekwoord gehad “ Daar sal dadls van kom “ nou se ek ook so . Watter kader sal sy mede kader laat vervolg droom voort

Riaan ·

Kan nie glo daar is nog joernaliste en ander wat sulke ” wishful thinking” houding het nie?
Dink enige regdenkende persoon nou regtig cr en die CancER steur hulle aan die soort verslaggewing?

Alida ·

As CR enige murg in sy pype het moet hy 90% van sy minister afdank. Dan eers sal mens respek vir hom he. Arme ou Zondo weet ook nie meer watter kant toe nie.

Blits ·

Wel as ek so kyk na die nuus en veral die wat ou Motsoneng gese het weet ek dat daar net mooi niks van enige ondersoek sal kom nie, ou Motsoneng se dan hy is skuldig aan korrupsie maar dat dit n goeie korrupsie is en was, en dat daar baie was wat probeer het om hom te “capture” maar ongelukkig het hy homself gecapture.

As dit die mentaliteit is van mense dan kan n mens weet dat cr niks aan sy maats sal doen nie, en wat sal die kans wees dat hy geen kennis gedra het van wat onder zupta se demolition bewind plaas gevind het nie, hy het geweet van alles en hou hom nou self engeltjie, maar hy is n engeltjie met n baaaaaiiiiiieee veil gesiggie en geskrooide vlerkies

fred ·

ek stem saam met Blits..cr het vir jare by zuma gestaan en getoi getoi…as hy die intelligensie het om in n paar jaar van niks tot multi miljonére te vorder dan MOET hy geweet het met watter korrupsie zuma en die ganse ANC besig was..ek sal hom nie vertrou nie..met niks nie…en sy meelopers ook nie

jakes ·

Mense wat CR vertrou leef in n droomwereld. Sy nuutste gesegde is om liewer vorentoe te kyk as agter toe. Hy sal niemand laat aanklae nie want dan sal Zuma die blik wurms oopmaak wat almal in die ANC gaan betrek by ongerymdhede. Ek is manlike en het n groter kans om swanger te word as wat CR iets teen sy pellies sal doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.