Druk op Ramaphosa om wette te bekragtig

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die parlement se onlangse aanvaarding van drie wetsontwerpe, gemik op die bekamping van geweld teen spesifiek vroue en kinders, word wyd verwelkom.

Daar word egter nou druk op pres. Cyril Ramaphosa geplaas om dit so gou moontlik te bekragtig.

“Ons hoop dat die president die wetgewing onmiddellik en onder enige verdere vertraging sal bekragtig omdat dit eintlik al lankal gedoen moes gewees het,” sê Nomfundo Jele, woordvoerder van die burgerregteorganisasie Action Society. “Geslagsgebaseerde geweld neem steeds toe en ons glo dat hierdie wetsontwerpe, indien dit onmiddellik en korrek geïmplementeer word, sal help om dié plaag te bekamp.”

Dit volg nadat Ramaphosa Sondagaand gesê het dat die aangepaste wysigingswet op huishoudelike geweld, die wysigingswet op die strafreg (seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede) en die wysigingswet op kriminele en verwante aangeleenthede die land se strafregstelsel sal versterk en strenger strawwe vir oortreders van geslagsbeheerde geweld sal inhou.

Dié drie wetsontwerpe is in 2018 by die parlement ingedien en eindelik vroeër vandeesmaand in die parlement deurgevoer.

Die wetgewing bepaal onder meer dat seksuele teistering voortaan ʼn oortreding is en dat seksuele oortreders se name langer as voorheen in die nasionale register van seksuele oortreders opgeteken bly. Die wetgewing maak ook die register vir die algemene publiek toeganklik.

Die wetgewing maak ook voorsiening daarvoor dat klaers in aansoeke vir borgtog of parool kan getuig.

Jele sê nou die wetgewing moet so gou as moontlik deur die polisie en regeringsinstansies geïmplementeer word “anders bly dit stukke papier wat niks doen vir die beveiliging en beskerming van die kwesbaarste burgers van ons land nie”.

Volgens Jele ly vroue en kinders nie weens ’n gebrek aan wetgewing wat hulle beskerm nie, maar weens die regering – veral Ramaphosa, die minister van polisie, Bheki Cele, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) – “wat nie die wetgewende instrumente tot hul beskikking doeltreffend implementeer nie”.

Die vakbond Uasa het intussen die parlement se aanvaarding van die drie wetsontwerpe verwelkom.

“Ons stem saam met die regering dat ʼn versterking van die wet teen geslagsgebaseerde geweldsmisdadigers in alle vorme ʼn noodsaaklikheid is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Tiptol ·

Wette maak beteken niks as dit nie toegepas word en misdadigers nie vasgevat word nie.

Gerhard ·

Dis ongelukkig dieselfde as met die padreels. Goeie reels wat nie toegepas word nie help niks.

pestilensie ·

Geslagsgebaseerde geweld is n 2 rigting straat . Sien mans moet nou tot cocktails drink

SlinkseKoljander ·

Baie misbruik die wet, en baie word onskuldig gestraf.
Die duiwel praat met `n vurk tong.

gpsa ·

Dis alom bekend dat polisie gereeld nie eers bereid is om ‘n saak oop te maak vir die gevalle nie, en vrouens uigelag en geignoreer word deur die polisie en haar saak dan net vererger. Begin eers by die polisie om hul werk te doen.

VaalDonkie ·

Presies dit. vroue in my nabye familie het so deurgeloop. Eers geslaan by die huis, en toe uitgelag by die polisiestasie.

Pieter ·

Geweld teen vroue, kinders, trouens enigiemand sal net toeneem in hierdie ANC veroorsaakte riool van sosio-ekonomiese toestande en politieke opportunisme. Kinders kry kinders slegs met die oog op SASSA kindertoelaag, dus geen liefde nie. Hierdie kinders word maklik misdadigers op ‘n jong leeftyd. Die ANC is deel van die probleem, hulle is nie deel van die oplossing nie.

Gerhard ·

Pieter ek verskil nie van wat jy se oor die ANC nie, maar geslagsgebaseerde geweld of soos ons hulle noem vroueslaners is nie net n ANC probleem nie. Dis soms baie nader as wat ons wil erken (ja ek bedoel onder afrikaanse mense) en ons hanteer hulle nie asof hulle misdadigers is nie. Ons kyk mos eerder anderpad en ignoreer dit. Ek kan my kop in skaamte sak vir hoe my kultuur se mans hul vrouens hanteer asof hulle slaansakke is. Trotse boerseuns in die openbaar en panelbeaters by die huis.

Nie Verbaas ·

Ek stem saam met jou maar as daar n hopelose ANC gedrewe polisiemag is wat nie bevoeg of lus is om hulle werk te doen nie sal geen wet help nie. Die ander probleem is die menseregte wat ernstige misdadigers geniet.

Wielspore ·

Die huidige stelsel beskerm eerder die oortreder as die slagoffer, die staat beskik nie oor die mannekrag en mense met die nodige kennis om sake suksesvol uit te voer.

Surfer ·

Hulle kan maar wil nie, want dan verloor hulle ANC stemme. Maar dan weer,, die mense in tronke kan ook stem, maar miskien stem hulle dan vir die kommunis Malema.

annie ·

…en nou moet die voorvegter vir vrouesake gedruk word om die wette te bekragtig. ‘n Al vreemder karakter ons geagte president. Dalk maar net ‘n goeie akteur.

jou gewete ·

dalk n uitstekende manteldraaier maar akteur nee en president of leier, nie eens amper nie

Simoné ·

Dit sou werk, die borg en parool, as die publiek toegelaat word om self met hierdie oortreders plan te sien. Dit sou baie meer effektief wees as die “Tronkstraf”

Casper ·

Honderd duisend misdadigers loop vandag skotvry rond omdat DNS nie betyds beskikbaar is nie.Oompie met die hoed is verantwoordelik daarvoor.Tekort aan chemikalieë is nie aanvaarbaar nie en onbevoegde personeel moet tsek.Hoekom nie swaarder strawwe vir plaasaanvallers nie.

Hoekom ·

In die ou dae was almal onderhewig onder dieselfde wette nou kry vroue spesiale wette. Baie interesant dat ons in die naam van gelykheid, ongelykheid afdwing. Hierdie is nie net van toepassing op vroue nie maar ook rasse, sexualiteit, taal, geloof en so meer….

Belinda ·

Asof die wette toegepas word… kyk net hoe lekker sit JZ nou op sy stoep, want die wet beteken niks in hierdie land. hulle vervolg jou en dan change hulle hul mind. wat gaan wette in hierdie land help? niemand steur hulle daaraan nie. vermoor iemand vandag, oor n paar maande word jy vrygelaat want die tronke is vol ens… alles is net n mors van tyd en belasting gelde…

Nie Verbaas ·

Die ANC is ten volle verantwoordelik vir die sosio-ekonomiese verval in die land wat ek glo ook gedrags veranderings veroorsaak. Dit is skokkend om te sien wat deesdae n daaglikse roetine word. Kyk maar net na statistiek van misdaad en suksesvolle vervolging. Dit is n skande.

JM ·

Volgens Ramaphosa bestaan plaasaanvalle nie. Daar word net eindeloos gepraat en NIKS word uitgevoer nie. Lamsakkigheid en traagheid is die oorsaak dat die land in so ‘n toestand is en wie gee om? Ons kry mos aan die einde van die maand ons salaris.

Di ·

Die Regering sing dieselfde storie al van laas jaar af. Met elke toespraak wat die President lewer word dieselfde rympie aangehaal en NIKS gebeur nie. Praat net om tog net iets te se en mense se monde toe te kry.

koos10 ·

Hierdie is weereens wat CR bedoel het toe hy gesê het die howe moet dinge uitsorteer.
Ek is geen SC Adv. nie maar ons het een wet die jaar gekry wat die POPI wet is. Die is die beskerming van persoonlike inligting, en nou kom ‘n ander wet wat almal insae gee nasionale register van seksuele oortreders gee. Is hierdie wette nou weerprekend? As twee wette weersprekend is, dan verval beide wette.
Nou ja, Die ANC is bitter goed om wette te skryf, maar om dit self na te kom of af te dwing is ‘n heeltemal ander storie! Dink maar aan onse vorige Minister van Gesondheid. Praat oor PPE’s en die kostes, terwyl sy bank rekening vol loop!

Frank John ·

Meeste wette wat ook in ander beskaafde lande bestaan is ook in ons land. Die verskil is dat daar word dit toegepas en hier nie. Daar is die gereg, reg en hulle hou by die reëls en is hulle betroubaar en neem nie deel in die dwarsbooming van dit wat reg is nie. As ons in die land intergiteit terug kry en doen wat reg is en ons pas die wette toe wat ons het en die geregs dienaars doen hul werk en neem nie deel aan wat verkeerd is nie sal ons ‘n wonderlike land hê soos God dit oorspronklik wou hê.
Kinders van God, keer terug na jul plek van gebed en kom ons bid dit weer terug.

Piet parys ·

Hang die skuldiges . Dit hoef net eenkeer gedoen te word en hy of sy sal nie dit weer doen nie Hulle sal nie nog n las op die belastingbetaler ook wees nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.