Druk steeds op Apleni oor Gupta-saak selfs ná bedanking

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake (links) en Mkuseli Apleni (direkteur-generaal van binnelandse sake) tydens die perskonferensie (23 Julie 2018) Foto: ANA

Die Demokratiese Alliansie het Maandag gesê Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van binnelandse sake, se bedanking volg ná druk van die opposisie oor die burgerskap vir lede van die Gupta-familie.

“Die DA neem kennis van die bedanking, as ʼn gevolg van die DA se volgehoue druk en pogings om hom aanspreeklik te hou deur ʼn parlementêre ondersoek oor burgerskap vir vyf lede van die Gupta-familie,” het Haniff Hoosen, woordvoerder oor binnelandse sake vir die DA, gesê. “Apleni moet weet dat hy nie nou vrygespreek is vir sy rol in die saga nie.”

Die parlementêre komitee oor binnelandse sake stel ondersoek in hoe lede van die familie Suid-Afrikaanse burgerskap bekom het. Dit vorm deel van ʼn groter ondersoek deur die wetgewer oor die sogenaamde staatskapingskandaal, waar Gupta-maatskappye miljoene verdien het uit ooreenkomste met staatsmaatskappye.

Apleni en Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, ontken dat enige oortreding begaan is toe die Gupta-familie se aansoek vir vroeë burgerskap hanteer is.

Apleni het bedank ná byna tien jaar by die departement. Hy het sy bedanking Maandag tydens ʼn mediakonferensie saam met Gigaba bevestig. Hy het gesê hy gaan hom by die privaat sektor aansluit. Hy het na bewering ʼn pos by Discovery aanvaar. Sy bedanking tree teen die einde van Julie 2018 in werking.

Apleni is verlede jaar weer in sy pos aangestel nadat hy die destydse minister, Hlengiwe Mkhize, se besluit om hom te skors in die hof betwis het. Mkhize het destyds geen redes verskaf toe sy Apleni geskors het nie. Apleni het aangevoer die minister wou hom uit die pad gehad het sodat die departement ʼn hofsaak vir miljoene rande kon skik, en hy geweier het om dit te doen.

Gigaba het gesê dit is jammer dat die departement ʼn toegewyde staatsamptenaar verloor. “Dit is betreurenswaardig dat ons ʼn staatsamptenaar van sy gehalte verloor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Wat het geword van die ondersoek na die minister se vrou met haar uitspatige oorseese reis waarvoor die belastingbetaler moes opdok?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.