Druk verkeer dié langnaweek verwag

Argieffoto

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het motoriste wat die langnaweek die langpad aanpak, gewaarsku om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan omdat baie druk verkeer die naweek op die N3 verwag word.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Donderdag tussen 12:00 en 18:00, Vrydag tussen 06:00 en 12:00, en Sondag tussen 06:00 en 18:00 verwag. Druk verkeer word Donderdag en Vrydag veral in ʼn suidelike rigting en Sondag in ʼn noordelike rigting verwag.

Tydens spitstye kan verkeer met tot meer as 1 500 voertuie per uur toeneem. Die meeste padwerkprojekte sal wel oor die naweek gestaak word om ekstra druk op die verkeer te verlig.

Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC, het motoriste egter steeds aangeraai om, indien dit enigsins moontlik is, buite spitstye te reis.

Nooddienste staan gereed

Nood- en wetstoepassingsdienste sal van Donderdag tot Sondag op gereedheidsgrondslag geplaas word.

“Reisigers moet sigbare polisiëring en streng wetstoepassing op die pad verwag. Die oortreding van verkeersreëls sal nie geduld word nie.”

Mediese dienste met lewensondersteuningseenhede sal op strategiese punte langs die roete gereed staan. Helikopterambulanse sal ook digby die N3 by hul basis op gereedheidsgrondslag geplaas word.

Wegsleepdienste sal tydens spitstye ingespan word om padgebruikers in nood te help.

Padwerk, weer, veldbrande

Volgens Dhoogra sal padwerk op die N3-roete gedurende die langnaweek gestaak en weer Maandag hervat word.

Bane by sekere konstruksieterreine tussen Villiers en Warden sal egter vir motoriste gesluit bly. Dit kan moontlike verkeersopeenhopings veroorsaak.

Hierdie baansluitings kan digby die Grootspruit- en die Holspruitbrug verwag word.

“Ons doen ʼn ernstige beroep op reisigers om deeglik vooruit te beplan en geduldig te wees wanneer hul reise vertraag word,” sê Dhoogra.

Al die noordelike en suidelike bane by die Van Reenenspas sal vir verkeer oopgestel word.

Volgens Dhoogra is die weervoorspelling vir die naweek vir die N3-roete gunstig.

“Weersomstandighede kan egter vinnig verander. Dele van die N3 is geneig tot skielike sterk rukwinde, mis, reën of donderstorms.”

Dhoogra waarsku dat die meeste plantasies langs die N3-roete baie droog is en maklik kan vlam vat. Dit kan weghol-veldbrande, dik rook en gevaarlike reisomstandighede teweegbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Heelwat jare terug het ons in Vanderbijlpark gewoon en so ‘n lang naweek was die regte geleentheid vir ‘n besoek aan KZN se Suidkus. Verkeer was minder, brandstof goedkoper en verblyf was billik. Gelukkig het ons nou nie meer kinders op skool en kan ons reisyd buite spitstyd reel. Vir die mense wat die naweek ry, onthou jou naweek begin sodra die voertuig se voorwiele uit die erf ry en tot jy weer terug in die erf ry. Gee om vir jou geliefdes en bring hulle veilig tuis.

Jaco ·

Wat dan nou van die ekonomiese resessie en die hoë petrolprys? Ek het ‘n goeie werk en ek is sonder skuld, maar ‘n langnaweek weg nou se dae is eenvoudig onmoontlik vir my. So ek wonder maar net, as so ‘n druk verkeer verwag word, is die ekonomiese resessie dan nou verby?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.