Drukgroep eis optrede teen Malema

(Foto: EFF/Twitter)

Die drukgroep Action Society het pres. Cyril Ramaphosa gevra om dadelik stappe te doen teen Julius Malema, leier van die EFF, ná sy vroeëre dreigement om polisiebeamptes en hul gesinne by hul huise aan te val.

Malema het einde verlede maand vir sy ondersteuners in die Mohokare-munisipaliteit (Zastron) tydens ʼn saamtrek gesê die polisie dink hul uniform gee aan hulle ʼn vorm van meerderwaardige mag. “Ons sal julle sien nadat julle die uniform uitgetrek het, snags in julle huise…,” het die EFF-leier gesê.

“Ons sal hulle op dieselfde manier behandel as wat ons in die 80’s gedoen het. Ons sal hulle nie net by protesoptogte die stryd aansê nie, ons sal na hulle huise toe gaan en hulle in hul eie huise saam met hul eie gesinne uitdaag. “Ons is nie bang vir die polisie nie… blêddie lafaards,” het Malema toe gesê.

Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society, sê byna 40%, ofte wel 69 653 polisielede, is vroue en veral om dié rede sien die drukgroep die bewerings in ʼn baie ernstige lig.

Hulle eis nou dat Ramaphosa ingryp.

“Ons president moet die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders afsluit deur Malema in hegtenis te neem en aanspreeklik te hou vir sy roekelose optrede,” sê Gouws.

Gouws sê Malema se woede teen die polisie spruit oënskynlik uit die sogenaamde behandeling van EFF-lede tydens onlangse betogings by Senekal en Brackenfell.

“Buiten dat dit ʼn strafregtelike oortreding is om iemand se veiligheid te bedreig, behoort hierdie gedrag deur ʼn parlementslid ook nie geduld te word nie. Ons hou asem op om te sien hoe ernstig Ramaphosa die situasie veroordeel en hoe hy gaan reageer.”

Ramaphosa het met die aanvang van die 16 dae-veldtog gesê daar is geen plek vir geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika nie en wetgewing moet verander word om hierdie sogenaamde tweede pandemie te pak.

Ramaphosa het gesê vroue het die reg om beskerm te voel teen teistering en geweld op straat, in skole en op kampusse, in busse, taxi’s en treine, by die werk- en aanbiddingsplekke, asook in hul huise.

“Daar is absoluut geen manier dat Ramaphosa kan toekyk hoe hierdie invloedryke man hierdie grens deur sy dreigemente oorsteek nie. Ons president moet in die beste belang van die vroue van hierdie land optree en aandag gee aan die voorval.”

Die vakbond Popcru het ook destyds uitgevaar oor Malema se uitlatings en dit as neerhalend bestempel teenoor die rol wat die polisie speel in die handhawing van openbare orde. Die burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit het reeds strafregtelike klagte teen Malema oor die opmerkings ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Anoniem ·

Ramaphosa se stilswye is ‘n indirekte goedkeuring aan Malema.

Samuel ·

Amen!! Hierdie drukgroep en Solidariteit en Afriforum mors hulle asems. Die Staatspresident se stilswye spreek boekdele (goedkeuring).

Persheks Adri ·

Sluit hulle toe die hele lot van hulle pffft hy dink mos hy’s bo die wet en orde in die land! Brand, breek, plunder, haatspraak en aanhitsing van geweld is al wat hulle ken. Dis tyd dat hulle gaan sit. In Senekal het ons egter gesien hy en Cele is hand om die blaas so ek persoonlik dink dis oor Brackenfell waar hulle lekker pak gekry het!

Dup ·

Wat gaan met my gebeur as ek dit sou waag om geweld teen EFF lede aan te moedig?…vra maar net.

Anoniem ·

Indien CR vir JM in hegtenis wou neem sou hy dit al lankal gedoen het. Moet nie jou asem inhou nie.

Johann ·

Die hoof rooi petter kry presies wat hy wil…AANDAG. En hys Ramaposa se persoonlike skootbrakkie wat als doen wat die ANC nie self wil doen nie.

JohanR ·

Soe doen iets Action Society en vat die EFF hof nie. Moenie net by praat hou nie!

Alta ·

Laat ons sien wat hieraan gedoen gaan word maar moenie asem ophou dat malema vervolg gaan word nie! Die president moet nou bewys dat hy teen geweld is deur malema vas te vat , so nie is hul maar een en dieselfde. Malema is n openbare opstoker en terroris maar hy loop vry rond en dreig tot die polisie? Ramaphosa het die mag om hom in die bek te ruk maar,………sien is glo!

Tanniepetoors ·

As Malema vir ‘n lang tyd uit ons wankelrige demokrasie verwyder word staan ons ‘n beter kans om vrede en voorspoed in hierdie land te hê.

LANA is ELANè ·

Asb. asof die president gehoor sal gee, die hele ANC is vol boelies, al verskil is Julius dra rooi klere.

Sarel ·

Hierdie man steur hom aan geen wet nie.
Die sake waarvoor hy aangekla word word telkens uitgestel terwyl ander Burgers vervolg word.
Die Regering en die Howe tree nie op teen die man nie, nie eers Bheki Ceke, nadat die Polisie en hulle gesinne openlik gedreig word.
Hoeveel sake is nou al vir jare hangende teen die man.
WIE BESKERM HOM?

Nozi ·

Sterkte vir julle. Wat het ramaphosa tot nou toe gedoen met malema. Absoluut niks, dis sy klein seuntjie daardie en hy sal hom met ‘n vader hart mooi oppas.

Androclus ·

CR is ‘n papbroek hy is een van die dae uit sy pos van lafhartigheid.

Veronika ·

Met ander woorde….. die man se ego is gekrenk omdat hy nie sy sin gekry het met die Brakenfell debakel nie… boo hooo hooo…..

Jakes ·

Die ANC regering en die EFF is groot maters. Malema kort n oranjepak en n sel wat nie n deur aan het nie.

Gert ·

C R is te bang om iets te doen. Koue pampoen is mos baas en kan maak wat hy wil, en as hy teenstand kry soos by Brackenfell word hy gou stil. Kan net van agteraf en in die donker amok maak

Baardman ·

Hy is Cyril en die ANC se puppet. hy doen als namens die anc. Hulle gebruik hom vir hulle vuilwerk in ruil vir niks, maar hys te onnosel om dit agter te kom. Natuurlik sal hulle anderpad kyk.

Ietsanders ·

Daardie man gee nie ‘n duit om vir die arm mense nie, hy wil die mag he om sy hand in die geldlaai te kry. As die ANC val, neem hy oor….daar is niemand anders wat tans sterk genoeg is nie. So jammer die massas sien nie deur hom nie. Op FB se hy die mooiste dinge vir sy onderdane…..dit klink soos ‘n engel wat praat. Sy onderdane slurp dit op. Selfs mense in ander Afrika lande hang aan sy lippe, Gaan kyk gerus, julle sal nie glo wat julle daar lees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.