Drukgroep vra opskorting van afsondering

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die drukgroep Action Society vra dat die afsonderingstydperk ten volle geskrap word om die groeiende neiging van geslagsgebaseerde geweld wat daarmee gepaardgaan in sy spore te stuit.

Die groep meen hoe langer die inperkingstyd voortduur, hoe meer Suid-Afrikaners kan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld word.

Luidens ʼn verslag wat die polisie bekendgemaak het, het beamptes landwyd sowat 2 300 oproepe wat verband hou met dié soort geweld in die eerste week van die afsonderingstydperk verlede jaar ontvang.

Nadat die inperkingstyd in Maart verlede jaar in werking gestel is, was daar teen Junie reeds minstens 21 vroue en kinders wat deur ʼn lewensmaat of familielid vermoor is. Dit is ʼn styging van 30% sedert dieselfde tydperk in 2019.

“Hoewel Suid-Afrika nou op vlak 1 van die afsonderingstydperk is, is daar steeds regulasies wat die regstelsel onderdruk en beperk. Die regering moet die noodtoestand beëindig sodat vroue volle toegang tot skuilings, ondersteuningsdienste en polisiebeskerming het,” sê Ian Cameron, woordvoerder van Action Society.

Volgens die drukgroep kan mense nie ontsnap van hul huislike omstandighede gedurende die afsonderingstyd nie. Hulle is ook meer gespanne oor hul finansies en die ekonomie.

“Weens ʼn inperking op mense se bewegings word hulle beperk tot hul huise – en dit is dikwels die einste plek waar hulle mishandel word. Weens die afsondering word sommige maatskappye nie teen volle kapasiteit bedryf nie. Baie mense werk boonop van die huis af of op ʼn roteringsgrondslag en die meeste se salarisse is besnoei. Al hierdie omstandighede plaas enorme druk op gesinne,” sê Cameron.

Hy sê indien die inperking opgehef word, kan vroue meer gereeld werk toe gaan en van die mishandeling tuis ontsnap.

“Die inperking het ʼn uitwerking op die arbeidsmark en die inkomste van vroue. Dit moet nou eindig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

miavos ·

‘n Pandemie is die natuur se manier om balans te bring en die spreekwoord ‘survival of the fittest’ kry sy ware betekenis. Om mense kunsmatig en op skadelike wyse te ‘beskerm’ bring niks en niemand iets in die sak nie. Inteendeel.

Anel ·

Mense kan in elke geval nie vir ewig so lewe nie. Dit is vir my hartveskeurend om na mense se oë te kyk. Dis al wat mens bo die vervloekte maskers sien. Ek dra ‘n skerm. As ek so in die harseer oë kyk en ek glimlag, want mense kan SIEN ek glimlag vir hulle, verander die oë vir ‘n breukdeel van ‘n sekinde. Die kinders kyk mens met sulke dooie oë aan en as ek vir hulle glimlag kyk hulle skaam weg maar kyk weer en ek ook by hulle die klein verandering. Ons het nodig om mekaar weer te sien, te glimlag met mekaar, om ‘n geselsie met ‘n vreemdeling aan te knoop sonder enige vrese. Ons het mekaar nodig, oor mense grense heet. Stop die malligheid dat kinders weer kunders kan wees, dat mense mense kan wees, dat ons kinderstemmetjies kan hoor. Ons is moeg vir hierdie afgedwingde depressie!

Perdeby ·

Sover ek weet kan jy rond beweeg deur die dag tot en met middernag, so iemand hou hulle dan gevangene in hul eie huis, en die man het nie werk of werk van die huis af, so probeer ‘n ander verskoning. Van die vrouens wil so behandel word, want as jy nie wil vlug nie dan is dit jou eie skuld. Skuilings was nog altyd oop en so die Polisie en maatskaplik, so wat is die probleem???

VaalDonkie ·

Ek daag jou uit om in een van daai “skuilings” te loop bly. Of om die polisie te nader omdat jy mishandel word. Jy mag dalk anders dink daaroor.

Nici ·

Duidelik dra jy geen kennis van vroue wat in die nag vasgevang is in ‘n geweldadige huis nie. Dalk moet daai vroue vir hul mans vra om geweld te beperk tot ure wat pas?

VaalDonkie ·

My stiefpa het nie afsonderings nodig gehad om my en my ma aan te rand nie. Hy’t dit sommer gou na werk of op ‘n Saterdagmiddag gedoen nadat hy by die bottelstoor was. En hy’t partykeer sommer vooruit gekoop, so ‘n verbod op naweekverkope sou ook nie juis gehelp het nie.

battleaxe ·

Ek stem saam dat dit nou genoeg is met die Levels waarmee ons government ons gevange hou! Maak oop die ekonomie sodat ons kan werk kry en ‘n bestaan kan maak. Pilots kan nie werk nie want dank sy die korrupsie van sekere Mense het ons nie ‘n airline nie! Die toerisme is ook in Sy peetje. Meeste van ons is ingeënt en die ander moet maar Sien en kom klaar! Ons is nou gatvol!

Nici ·

Ja hel die nonsens moet nou ophou. Die regering is nie pappie wat vir ons moet sorg nie. Die lewe is risiko en dis tyd dat ons grootmense weer ons eie besluite neem. As die regering alle risiko wil stop moet hul motors verban en veral teksies, geen vlieg meer of selfs eet nie. Mens verstik dalk!

Francois Le Cochon ·

Nici, alle regerings bestuur die risikos wat jy noem dmv wetgewing. So ook word die risikos verbonde aan covid bestuur. Duisende padsterftes jaarliks in SA , ondanks padreels. Kan jou jou indink wat die padsterftes sou wees indien die risikos verbonde aan motorbestuur nie deur padreels bestuur was nie. Dieselfde geld vir Covid. Enige samelewing het verskeie reels, om die samelewing te beskerm teen risikos en teen hulself. Indien wetgewing (reels en regulasies) nie verstaan word nie, beteken dit nie dat dit verkeerd is nie.

Gerhard ·

Ek lees almal se kommentaar en ek stem onomdwonge saam met elkeen. Hierdie afsondering en die dat ons so geboelie word deur die regering wat in elkgeval die afsondering en ramptoestand gebruik absoluut vir hulle eie gewin. my innige meegevoel met die mense wat familie en vrinede verloor het agv die pandemie ek is self daar deur. Dit is regtig tyd dat die regering moet besef dat hulle ons in depressie gooi met die alewige regulasies. Mens kan niks regtig beplan nie, want wat is hulle moove volgende. Hulle het alreeds gese die 4de vlaag tref SA teen 5 Desember, hoe op aarde……ek het nie geweet dat hulle n siener in diens het nie en ek is van mening hulle manupileer syfers en “waves” soos dit hulle pas. Skielik, n maand voor die verkiesing, level 1, drank heel week oop en byeenkomste tot 2000 mense……ons is nie so stupid soos julle dink ons is nie….dan net weer om alles voor ons rustyd Desember toe te maak…..nee hel eks moeg vir die nonsens. Gee ons ons vryheid

Casper ·

So by my kool,nou is afsonderingstydperke die oorsaak van geslagsgebaseerde misdaad net soos alkohol die oorsaak was vir oorvol hospitale.Geslagsgebaseerde misdaad kom al van voor die pandemie af.

Swerwer ·

Of dit nou afsondering is of nie, die wat geweld wil pleeg gaan dit in elk geval doen, nou of later na die afsondering. Ongelukkig is dit deur die jare getoon, iewers sal daar ‘n rede opduik dat geweld gepleeg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.