Drukgroep wil hof toe oor DNS-databasis

(Foto: Unsplash)

Die drukgroep Action Society het sy regspan opdrag gegee om met regstappe teen die presidensie, die polisiekommissaris, die nasionale minister van polisie en die kommissaris van korrektiewe dienste te begin oor hul beweerde versuim om landsburgers te beskerm.

Die organisasie se prokureurs het in Augustus ’n brief aan die regering gestuur waarin hulle aandring op die dringende inwerkingstelling van wysigings – wat handel oor forensiese prosesse – aan die Strafproseswet. Dié wysiging vereis die instandhouding van ’n gevonnisde oortrederindeks in die Nasionale Forensiese DNS-databasis (NFDD) van Suid Afrika.

Die regering het 30 dae gehad om op die brief te reageer, maar het versuim om dit te doen.

“Al wat die president moes doen, was om die wetsontwerp op veroordeelde oortreders te onderteken sodat dit geïmplementeer kon word,” sê Elanie van der Walt, woordvoerder van Action Society.

“Sy versuim om dit te doen is net weereens ʼn bewys van die totale onwilligheid om Suid-Afrikaners te beskerm. Dit is tragies dat ons die regering hof toe moet neem om hom sover te kry om sy werk te doen.”

Die wysigingswet dwing gevonnisde skedule 8-oortreders (dit sluit moordenaars en verkragters in) om ʼn DNS-monster te verskaf wat op die NFDD gehou word.

Sedert die totstandkoming van die databasis in 2015 is die wysigingswet egter steeds nie afgehandel nie en wag dit steeds op pres. Cyril Ramaphosa se handtekening.

Dít terwyl die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, onlangs bevestig het dat 96 785 skedule 8-oortreders (geweldsmisdaad) sedert 2016 op parool vrygelaat is sonder om ʼn DNS-monster in te dien.

Action Society en Dear South Africa (DearSA), wat ʼn vennootskap oor die kwessie aangegaan het, vra nou die publiek se insae en steun.

“Ons kan eenvoudig nie aanvaar dat die president nie hierdie wysiging goedkeur nie en veroordeelde misdadigers vry rondloop sonder om ʼn DNS-monster in te dien en in die toekoms misgekyk word vir verkragting of moord,” sê Rob Hutchinson, direkteur van DearSA.

Hutchinson wys voorts daarop dat DNS die doeltreffendste hulpmiddel is om oortreders aan onopgeloste sake te koppel.

“In ʼn land waar 3 335 vroue verkrag word en 1 667 mense elke maand vermoor word, moet die president en die polisie aanspreeklik gehou word omdat hulle nie hierdie wet al lank gelede in werking gestel het nie,” sê Van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Daar sal ‘n rede wees hoekom hy dit nie geteken het nie, en ek dink ons almal weet hoekom maar mag dit nie sê nie.

Pieter ·

Ek wil net graag weet hoekom moet ons as landsburgers belasting betaal vir die sleg anc regering. Hoekom moet ons betaal vir dienste wat ons nie kry nie. Ons belasting betalers moet nou begin saam staan.

Stoffeltjie ·

Sal ‘n DNA databasis nie wonderlik wees nie. Nie net is dit tot hulp vir die SAPD teen verkragtingsake of liewer, alle sake nie, maar dink net hoeveel pappas hoef nie meer ander mans se kinders groot te maak nie. Daarom sal hulle nooit so ‘n wet goedkeur nie. Hulle moet elke mens se DNA op ‘n databasis vasstel vanaf geboorte. Dit is soos vingeafdrukke, net meer effektief.

Persheks Adri ·

Slapgat! Dit wys ons net hoe ernstig hulle is oor mishandeling, verkragting en moord! Alles word mos net veroordeel en almal is geskok en dan word huisbesoek gedoen. Pateties verby!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.