Drukgroep wil Kgetlengrivier se munisipale bestuurder agter tralies sien

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Uitspraak in die Mmabatho-hooggeregshof is voorbehou waar die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) en die aangestelde dienstemaatskappy Pionier versoek het om voort te gaan met die bestuur van die water- en rioolwerke op Koster en Swartruggens.

Dit kom nadat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit ʼn dringende aansoek gebring het om die bestuur van die water- en rioolwerke in die dorpe van die KBI terug te neem. Die LUR het Pionier by die aansoek gevoeg omdat die KBI hom aangestel het om die dienste te lewer.

Die aanhoor van dié aansoek is aanvanklik uitgestel tot Dinsdag sodat al die sake met betrekking tot die munisipaliteit aangehoor kan word. Dit sluit ʼn minagtingaansoek teen die munisipale bestuurder in.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het gevra dat Joseph Mogale, munisipale bestuurder van die munisipaliteit, weens minagting van ’n hofbevel vir 90 dae tronk toe gestuur word. Uitspraak in dié aansoek is voorbehou.

Daar is aangevoer hy het die bevel willens en wetens oortree en nie sy verantwoordelikheid nagekom nie.

AfriForum se tweede aansoek was suksesvol om as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat te word in die aansoek wat die LUR ingedien het.

Uitspraak in die saak is voorbehou. (Foto: AfriForum

Die LUR se regspan het aangevoer die aanstelling van Pionier deur die KBI was onwettig en dat die partye nie die reg het om voort te gaan met die bestuur van die water- en rioolwerke nie.

Adv. Danie Wijnbeek, die KBI se regsverteenwoordiger, het aangevoer die enigste manier hoe die inwoners van die streek steeds toegang tot water kan hê, was deur die aanstelling van Pionier as dienstemaatskappy.

Hy het ook aangevoer dat die KBI geen ander keuse gehad het as om die werke terug te neem nie om te verseker dat watervoorsiening voortgaan. Hy het voorts aangevoer dit is duidelik dat die staat nie water kan voorsien nie en dat Magalies Water al vir jare in gebreke gebly het om die werk te doen.

Wijnbeek het ook aangevoer dat die munisipaliteit met politiek besig is en nie die belange van inwoners op die hart dra nie.

“Die munisipaliteit het verbete rondgeskarrel om die bestuur van die werke terug te neem. Ons hou voet by stuk dat die werke nie aan die munisipaliteit teruggegee kan word as geen geskikte diensverskaffer aangestel is om die volhoubare funksionering van die water- en rioolwerke te verseker nie,” sê Johan Kruger, direkteur van Pionier Dienstemaatskappy.

Volgens Carel van Heerden, verteenwoordiger van die KBI, was die onlangse teruggee van die werke aan die munisipaliteit se diensverskaffer katastrofies. Die werke het in bykans ’n week só agteruitgegaan dat die terugkeer tot die benarde situasie wat tot die hofaansoek gelei het onvermydelik sou wees.

Van Heerden benadruk ook dat die inwoners geen ander keuse gehad het as om die werke terug te neem nie.

“Munisipale bestuurders en amptenare moet tot verantwoording geroep word vir wanbestuur. Besoedeling soos hierdie het verreikende sosiale en ekonomiese gevolge vir die hele streek, asook ’n uiters nadelige effek op die mense wat in die omgewing woon,” sê Corné Cronjé, bestuurder van AfriForum se gemeenskapstrukture.

“Ons kan eenvoudig nie meer toelaat dat ons dorpe weens die munisipaliteit se wanbestuur agteruitgaan nie. Ons het daarom besluit om self binne die raamwerk van die wet in te gryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

So gaan dit.Gee vir Gerrie Nel iets en dinge gebeur.Die LUR is so skelm en onbevoeg..maar wil steeds beheer oor die geldsak behou.So dit is wat dit vat om ‘n probleem op te los in enige munisipaliteit.

Samuel

Dit is weereens Afriforum wat moet ingryp. Alles waaraan die ANC raak is ‘n gemors. Wat is hierdie munisipale bestuurder se kwalifikasies?

Jakes

Groot vraag is, hoeveel van hierdie comrades het ooit skool bygewoon? Is daar enige taak wat hulle suksesvol kan voltooi?

Jacobus

Mens wonder wat in daai riool is wat Cogta en ander so gretig is om terug te kry! Woorde ontbreek.