Drywer beboet oor skade aan historiese brug

Een van die ou brûe op die Sewe Passe-pad. (Foto ter illustrasie: visitknysna.co.za)

ʼn Vragmotorbestuurder wat ʼn historiese brug naby George in die Wes-Kaap beskadig het en versuim het om dit aan te meld, is ʼn opgeskorte vonnis van ses maande tronkstraf opgelê – mits hy R20 000 aan die departement van vervoer en openbare werke betaal vir die skade wat hy aangerig het.

Asisipho Maqwazima (22) het skuldig gepleit op die aanklag teen hom en die geld is reeds aan die departement oorbetaal.

Maqwazima het in Maart verlede jaar teen ʼn hoekpilaar van die Silwerrivier-brug op die Sewe Passe-pad gebots. Die pad loop tussen George en Knysna en is saam met die brûe tot nasionale monument verklaar.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het die botsing die hoekpilaar laat afbreek en dit het tot in die rivier getuimel. Maqwazima het egter nie die voorval aangemeld nie en eers ná ʼn klagte van die Valke se kantoor vir wildsmokkelary en kulturele erfenis aan hul eweknieë by georganiseerde misdaad, is die eienaar van die vragmotor opgespoor.

Hani sê die eienaar het erken dat een van sy bestuurders die skade aan die brug aangerig het. ʼn Lasbrief vir Maqwazima om in die hof te verskyn is daarna uitgereik.

Die algehele skade aan die brug beloop sowat R50 000.

George Herald berig sedert dié voorval het verskeie ander vragmotors ook op die ou brug vasgesit terwyl hulle vragte vervoer. Die koerant berig dat sommige dit van so ver as Gauteng of die Weskus maak, net om dag of nag op dié brug vas te steek. Die pad is egter nie ontwerp om swaar voertuie te hanteer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.