Drywer vas wat kragstasie se brandstofolie verkoop

Die Camden-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

ʼn Vragmotorbestuurder is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy glo swaar brandstofolie wat vir ʼn kragstasie in Mpumalanga bestem was, gebuit en verkoop het.

Die brandstofolie was R500 000 werd, maar volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die 42-jarige verdagte dit vir R40 000 verkoop.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Phumlani Johan Hadebe is Maandag in hegtenis geneem en het reeds in die Bethal-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal.

Dit het aan die lig gekom dat Hadebe by ʼn maatskappy werksaam was wat deur Eskom gekontrakteer is om swaar brandstofolie na die Camden-kragstasie te vervoer.

“Hy het egter nooit die brandstofolie by die aanleg afgelewer nie, maar dit glo eerder na ʼn private fasiliteit geneem en verkoop,” sê Mathe.

Swaar brandstofolie word gebruik in aanlegte om onder meer krag op te wek.

Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) se prioriteitskomitee vir energieveiligheid het ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur en kort daarna Hadebe in Gauteng vasgetrek.

Hadebe sal na verwagting binnekort weer in die hof verskyn.

Die prioriteitskomitee vir energieveiligheid is op die been gebring om misdade te ondersoek wat Eskom keer om sy mandaat te vervul.

Volgens Mathe het hierdie eenheid al verskeie kere sukses behaal. Tussen April en Oktober vanjaar is 1 618 misdade by die eenheid aangemeld, en dit sluit gevalle in waar kritieke infrastruktuur beskadig is en brandstof en kabels gebuit is.

“Altesame 1 043 van hierdie sake word nog ondersoek, maar daar is reeds 207 verdagtes in hegtenis geneem op verskeie aanklagte wat met hierdie misdadighede verband hou,” sê sy.

Bedrywighede gelei deur NatJoints, insluitend die SAPD, die departement van bosbou, visserye en omgewing, die departement van binnelandse sake en die departement van minerale hulpbronne en energie, het tot dusver gelei tot die sluiting van 63 ongereguleerde steenkoolwerwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.