DStv gaan ANN7 se kontrak kanselleer

Multichoice het Woensdag aangekondig dat hy sy interne ondersoek oor sy sake met ANN7-televisiekanaal afgehandel het en het besluit om nie die kontrak te hernu wanneer dit in Augustus verstryk nie.

Multichoice het erken dat foute gemaak is in die manier hoe sy sake met die privaat nuuskanaal bedryf is, maar ontken dat enige korrupsie plaasgevind het.

Ireen Mmatlou Magwai, woordvoerder van die departement van kommunikasie, het gesê die regering neem kennis van die besluit deur Multichoice om ANN7 van sy DStv-boeket te verwyder.

“Soos vroeër genoem, benadruk Kubayi-Ngubane, die minister van kommunikasie, dat die regering nie betrokke sal raak by enige kontraktuele sake tussen twee privaat partye nie,” het Magwai gesê.

“Ek wil graag my teleurstelling uitspreek dat DStv-kykers nie toegang sal hê tot die diversiteit van stemme wat ANN7 tot die land se medialandskap bydra nie,” het die minister gesê. “Daar is wel ʼn les om te leer, in die pad vorentoe, dat die regering moet kyk hoe ons huidige beleide gestruktureer is wat betref ʼn diversiteit van media-eienaarskap.”

Kubayi-Ngubane het bygevoeg die regering is tevrede oor die progressiewe stappe wat Multichoice doen om ʼn nuwe nuuskanaal, met swart eienaarskap, te vind om die meerderheid van mense in Suid-Afrika te verteenwoordig. “Dit is noodsaaklik dat daar diversiteit in media-eienaarskap is om ʼn nuwe en vars perspektief te bring na die mense van Suid-Afrika.”

Phumzile Van Damme, DA-LP, het egter gesê ʼn perskonferensie, wat Multichoice Woensdag gehou het, het min antwoorde gebied en talle vrae bly onbeantwoord.

“Ons verwelkom Multichoice se poging om sy eie hersiening te doen van sy ooreenkoms met die Gupta-beheerde ANN7, maar dit is moeilik om objektief die bevindings te assesseer sonder om die volledige verslag te sien,” het Van Damme gesê.

“ʼn Persverklaring, met baie min besonderhede, waarin daar slegs vaagweg aangedui word dat ‘foute gemaak is’, en waar niemand aanspreeklik gehou word vir dié foute nie, is eenvoudig nie goed genoeg nie. Die publiek moet die volle waarheid weet oor die onderhandelings tussen Multichoice, ANN7 en die SAUK.”

Sy het gesê dit is nou duidelik dat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa)-ondersoek nou belangriker is as ooit om seker te maak dat al die feite aan die lig kom en dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

Buiten die versoek van die DA dat Okosa ʼn dagvaarding moet bekom vir die kontrakte van Multichoice, sal die DA ook versoek dat dieselfde vir ANN7 gedoen word.

“Die DA neem ook kennis van Multichoice se planne om sy kontrak met ANN7 vanjaar te kanselleer. Die DA ondersteun ʼn meervoudigheid van stemme in die media, en om nie diegene stil te maak met wie ons nie saamstem nie. Die saak is nie of ANN7 op die lug moet wees nie, maar dit gaan oor die uitruil van geld om, na bewering, regeringsbeleid te beïnvloed,” het Van Damme bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

zoom zoom ·

Daar is baie kanale op Dstv wat hulle kan verwyder wat regtig geld mors is. Dan kan die maandelikse befrag verminder word.

Casper Labuschagne ·

@Johanna, jy het verseker ‘n punt daar beet. Maar ANN7 het waarde vir my in dat dit vir my ‘n blik gee op die doen en late van die linkse groepe in die land. As iets gebeur, gaan kyk ek dikwels na hoe ANN7 daaroor berig gee en kan ek gevolglik vinnig die agenda en groepe agter die gebeure raaksien. Enige redelike mens wat na ANN7 kyk sal dit baie vinnig dit as totale bog afmaak. Duidelik is ons grootste krisis dat daar vandag ‘n ernstige gebrek aan redelike mense in ons land is, en ANN7 is ‘n barometer daarvan.

Afrikaanse Knaap ·

Ek moes kos en petrol koop, ek het nie geld vir DSTV nie.
Ek is net bly my TV Lisensie hou vir Bosveld Stereo aan die gang.

lvh ·

Hoekom nie die klient self laat besluit wat hy wil kyk nie, en daarvolgens betaal? Nou betaal ek vir 100e kanale wat ek nie eers bekyk/gebruik nie.

Boerseun ·

Kyknet volgende asb. Nie een van daai seepie akteurs het al opgestaan vir Afrikaans. In teen deel meerderheid van hulle praat nie Afrikaans by die huis nie

Ruby ·

My dstv is nou al vir meer as ‘n jaar terug gekanselleer en ek is nog nie een dag spyt.

Daar is so 3 of 4 kanale wat ek soms mis maar nie genoeg om weer aan te sluit.

Netflix is baaaiiiiieee beter.

Juppee ·

Sien vroegoggend hoe Black First Land First en ander haatgroepe op ANN7 galbraak oor die “ondemokratiese” verwydering van ANN7. Daar’s hulle spreekbuis ook nou daarmee heen. Wie befonds elk geval die BFLF napraters?

Showahed ·

Ek vra myself elk dag hoekom is ek nog by DSTV? Omdat ek stupid is! Maar DSTV is so skelm; hulle sal nie ‘n ordentlike pakket vir die man in die straat saamstel nie… dan sal almal oorloop daarna toe. Ek soek Kyknet, Rugby… geen sokker.. en nog so een of twee nuus kanale…. dis al!

Hettie ·

Ek is bly dat ons DSTV al lankal afgesny en besef spaar baie geld elke maand! Gebruik youtube, netflex en showbox

Casper Labuschagne ·

Kom ons wees eerlik, hierdie was ‘n strategiese besluit gewees heel bo aan Media24 se bestuur. Dit is logies dat DSTV die ANN7 kontrak sal kanselleer. Hul doel is reeds bereik om die regering se beleid oor enkripsie op dekodeerders 180 grade om te swaai. Boonop is ANN7 nie meer die Guptas se baba nie, en Mzwanele (don’t you racists ever dare call me Jimmy no more!) Manyi se invloed om regeringsbeleid te bepaal is netelig. En die skrif is in elk geval aan die muur vir die Zuptas se invloed op staatskaping.

En dit het alles ‘n ronde nul te doen met die kwaliteit (of gebrek daaraan) van ANN7 se programme. Ek moet Media24 (hierso verdien die meesterlike Koos Bekker al die eer) se geslaagde poging in hierdie dekodeerder saga bewonder vir hoe hulle die Guptas, die ANC en die regering aan hul neuse rondgelei het. Duidelik het Media24/Naspers 65 jaar meer ondervinding met suksesvolle staatskaping agter die blad as die Guptas.

ADRIAAN ·

Ek hoop nie AN7 word by Sabc ingewerk nie. Want as die heele land gratis na daardie propaganda en haadspraak moet kyk het ons moeilikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.