Dubbele lewenslank vir oom wat susters verkrag

(Foto: pixabay)

ʼn 23-jarige man van Winterton is twee lewenslange vonnisse en 20 jaar tronkstraf in die Estcourt-streekhof opgelê vir die verkragting en aanranding van sy twee minderjarige susterskinders.

Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal, het gesê die twee meisies, onderskeidelik 13 en 14 jaar oud, het ná hul ma se dood by hul ouma gaan woon. Hul oom het hulle daarna herhaaldelik verkrag en mishandel.

In een voorval het hy een van die kinders aan ʼn tou vasgemaak en van die huis se dak laat hang terwyl hy haar met ʼn tang geknyp het.

Die misbruik het aan die lig gekom nadat een van die kinders swanger geraak en haar pa haar daaroor uitgevra het. Die oom se misbruik het daarna aan die lig gekom, het Kara gesê.

Adv. Zwelethu Mata, staatsaanklaer, het onder meer DNS-bewyse en die twee meisies se getuienis aan die hof voorgehou. Albei slagoffers het gesê die misbruik spook daagliks by hulle.

Hulle het hulle aan mense onttrek en is skrikkerig vir mans. Hul skoolwerk het ook geweldig agteruitgegaan.

Die beskuldigde het nie die seksuele omgang met die slagoffers ontken nie, maar volgehou dat hulle daartoe ingestem het.

“Die beskuldigde was in ʼn vertrouensposisie en dit was sy verantwoordelikheid om na die kinders om te sien, nie om hulle op so ʼn gruwelike manier te mishandel nie.

“Die vonnis is ʼn aanduiding dat die staat hard werk aan sake van dié aard,” het adv. Elaine Zungu, direkteur van openbare vervolging in die provinsie, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

2 x Lewenslank maar word aaneenlopend
Uitgedien… so net 1 xLewenslank. Hoe kan die staat beweer hulle is ernstig.

Porseleintjie ·

Dis reg. Hy het ook n bykomende 20 jaar gekry. Dus 45jaar as die lewenslange vonnisse gelyklopend uitgedien word.

Manda ·

Ek sien nie in die berig dat die vonnisse samelopend uitgedien word nie, Sarel? Kyk ek dit mis?

Robert ·

Al het die meisies kamma ” ingestem ” tot so ń daad bly hulle steeds minderjarig !!! Het die meisie dan ook ingestem om met ń tang geknyp te word terwyl sy aan ń tou opgehang was??? Nee wat ek dink hy praat snert. Hou hom agter tralies vir ewig dan kan hy nie weer sulke wrede dinge aanvang nie!!!

Erika ·

Daardie “mens” is laer as n hond deur n kind se lewe te ruineer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.