Dubbele lewenslank vir Vandekeere

Chantelle Barnard

Jurgen Vandekeere is Maandag twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die wreedaardige moord op Chantelle Barnard. Sy vonnis kom byna ʼn dekade nadat die 21-jarige Barnard op 1 April 2011 in Vandekeere se huis op ʼn hoewe buite Benoni verkrag, vermoor en keelaf gesny is.

Vandekeere is vroeër vandag gedurende ʼn spesiale sitting van die hooggeregshof in Benoni lewenslange tronkstraf vir die moord, asook lewenslange tronkstraf vir verkragting opgelê.

Hy is ook tot ’n verdere vyf jaar gevonnis op ʼn aanklag van regsverydeling. Dié aanklag spruit uit bewyse dat Vandekeere destyds Barnard se liggaam gewas het om onder meer van sy DNS op haar liggaam ontslae te raak.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

“Dit gaan haar nie terugbring nie. Dit gaan ook nie die seer wegvat nie, maar dit gaan vir ons berusting bring dat hy eindelik boet vir wat hy aan haar gedoen het en dat sy lewe nie kan aangaan soos vantevore nie.

“Hy het ’n kosbare lewe geneem,” het Suzette Barnard, Chantelle se ma, ná die vonnisoplegging aan Maroela Media gesê.

Chantelle Barnard

Volgens Suzette het haar kind se moordenaar geen berou getoon nie.

Suzette het destyds ná die moord op haar dogter se liggaam in die huis afgekom.

Vandekeere is kort daarna op die toneel in hegtenis geneem en later in die Benoni-streekhof borgtog geweier. Hy was ongeveer twee maande in aanhouding, waarna hy ʼn suksesvolle aansoek om borgtog by die hooggeregshof ingedien het.

Hy moes op 9 September 2013 weer in die hof verskyn, maar het spoorloos verdwyn.

Vandekeere was vir bykans sewe jaar voortvlugtend voordat hy homself in Januarie vanjaar by die polisiestasie in Benoni oorgegee het.

Suzette sê sy is tevrede met die vonnis.

“Dit voel onwerklik. Ek het nie gedink hierdie dag gaan óóit aanbreek nie, maar ek is só verlig dat dit eindelik het.

“Ek kan weer opstaan in die oggend en lewe. Ek was voorheen nie lus vir die lewe nie. Nou kan ek aangaan en weer uitsien na more. Ek kan haar lewe celebrate hoewel ek nog steeds na haar gaan verlang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Vonisse word gelyklopend uitgedien.Is dit regverdig teenoor die slagoffer se familie.

ES ·

Stem saam Casper, maar ongelukkig is dit hoe ons wetgewing werk…

Pieter J ·

Ek hoop haar familie word ook soos die van wyle Chris Hani toegelaat om die oortreder na 25 jaar nog in die tronk te hou soos wat met Janus Walluz die geval is.

Renier ·

Die verlies van ‘n kind se lewe kan deur geen vonnis vervang word nie , maar ek is bly dat die ouers berusting kon vind…

Sarel ·

Die Terme ” Gelyklopend” krap azn my anatomie,so erg dat ek kramp kry want in SA beteken dit 1 x Lewenslank en dan Parool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.