‘Dubbele seëning’ ná talle tragedies

Karen Swanepoel is in ekstase oor haar “twee geskenkies”. Foto: La’ane Photography

Haar lewe is ses jaar gelede tot stilstand geruk toe haar man en twee jong kinders in ʼn ongeluk dood is, maar nou op 43 verwag sy “twee geskenkies” en weet sy die Here het haar met ʼn doel gespaar.

Volgens Karen Swanepoel was dit “absoluut net bonatuurlike krag van Bo en baie genade” wat haar staande gehou het ná die dood van haar man en twee jong kinders. Dit was die ondersteuning van die mense om haar en vir dié wat sy nog iets beteken het wat haar die krag gegee het om aan te gaan. “Dit is nie jou eie krag nie. Jy besef daar moet ʼn rede wees hoekom jy gespaar is.”

Vandag, meer as ses jaar later, is sy weer getroud en verwag sy en haar tweede man, André (47), ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie. Hulle gaan Reynard en Desiré heet wat onderskeidelik “wyse beskermer” en “verlangende begeerte” beteken.

André en Karen Swanepoel is in ekstase oor hul dubbele seëning. Foto: La’ane Photography

Karen en haar oorlede man, Schalk (39), was op 10 Januarie 2012 saam met hul kinders, Jeanelle (5) en Juan (2), op pad Bloemfontein toe, toe hulle in ʼn botsing reg van voor op die N1-hoofweg tussen Ventersburg en Winburg betrokke was. Schalk en hul dogtertjie is op die toneel dood verklaar. Klein Juan is kort na sy aankoms by die hospitaal dood.

Die gesin het by familie in Johannesburg gekuier en was op pad na Karen se suster in Bloemfontein waar hulle sou oornag voordat hulle die volgende dag sou terugkeer na hul huis in Kathu.

Karen is met ernstige beserings in die Mediclinic Welkom opgeneem. Sy was aan ʼn ventilator gekoppel en onder verdowing gehou. Sy het eers tien dae later uitgevind haar man en kinders is dood. Sy was drie weke lank in die hospitaal. Eers twee weke nadat sy ontslaan is kon daar ʼn roudiens vir haar man en kinders gehou word.

André en Karen Swanepoel is in ekstase oor hul dubbele seëning. Foto: La’ane Photography

Karen het na Mosselbaai verhuis nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. “ʼn Mens kan in die verlies vaskyk, maar dan sal jy nooit vorentoe kan beweeg nie. Of jy kan uitvind hoekom jy nog hier is. Ek het wonderbaarlik herstel ná die ongeluk en geen skade oorgehou nie. Ek het net geweet die Here het my gespaar vir een of ander doel.”

Karen en André het in Februarie uitgevind sy verwag en tydens die eerste sonar op sewe weke het hulle uitgevind dis ʼn tweeling. “Ons was absoluut in ekstase. Op 16 Mei het ons uitgevind dis ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie. Dit was rêrig ons grootste en diepste hartsbegeerte wat vervul is. Dit is ʼn ongelooflike dubbele seëning.”

Karen en André het mekaar in Oktober 2014 ontmoet. “Ons ontmoeting is ʼn baie spesiale storie. André het in daardie stadium in George gewoon en ek in Mosselbaai. Hy was vir die dag in Mosselbaai vir werk. Ek en ʼn vriendin het ʼn koffiewinkel wat ons gereeld besoek en was die dag oudergewoonte weer op pad daarheen.”

André en Karen Swanepoel is in ekstase oor hul dubbele seëning. Foto: La’ane Photography

Die vriendin moes egter eers iets anders doen en het gesê Karen moet solank gaan. Die koffiewinkel het ʼn elektroniese apparaat op hul tafels met ʼn knoppie wat jy druk indien jy die kelner se aandag wil kry.

“André het gesit en rondkyk en ʼn mens kon sien hy weet nie hoe dit werk nie. Ek sê toe vir hom om die knoppie te druk en so begin ons toe gesels en drink saam koffie. Dit was net ʼn geval van op die regte tyd op die regte plek wees.”

André wou by Karen weet of sy dalk ooit George besoek. “Dit was so toevallig want ek moes die week daarna George toe vir werk. Ons het mekaar toe weer gesien en toe het die dinge begin.” André is geskei en het ʼn seun uit sy vorige huwelik.

André en Karen Swanepoel is in ekstase oor hul dubbele seëning. Foto: La’ane Photography

“Hy het ʼn lysie gemaak na sy egskeiding. Die lysie het die karaktereienskappe bevat van die vrou wat hy wou hê. Hy het later vir my vertel dat hy die dag wat hy my by die koffiewinkel gesien het, geweet het ek is die een. Hy het die lysie vir my gelees en dit was ʼn presiese beskrywing van wie ek is.

“Een van die punte op die lysie was dat hy iemand gesoek het wat nie noodwendig kinders het nie, maar kinders kan kry en wil hê. Dit was vir ons albei ʼn baie groot behoefte en ons het aanvanklik gesukkel om swanger te raak.”

Karen het voor die noodlottige ongeluk wat haar gesin geëis het ook haar ouer suster in ʼn motorongeluk verloor. Sandra Schutte is in Mei 1995 in die ouderdom van 22 in ʼn motorongeluk in Walvisbaai dood. Karen se ma, Elsa Koorsen, is verlede jaar aan ovariale kanker oorlede.

Die tweeling sal na verwagting op 9 Oktober hul opwagting maak. “Ná al die verliese is hierdie twee geskenkies net soveel meer spesiaal,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dankie vir ‘n goeie nuus storie. Ons het dit nodig. Daar is te veel stories wat swaar op ons gemoed lê.

KG ·

Wanneer ek so iets lees besef ek my probleme is so nietig in vergelyking met so baie ander mense se pyn en hartseer daar buite. Ek is opreg dankbaar dat dinge als so mooi uitwerk vir Karen en Andre. Baie geluk!

Daan Erasmus ·

Waneer jy dink jou kinders se probleme raak te erg, luister gerus na jou vriende se stories. Dan kom jy agter jou probleme is nie so erg nie.

izette ·

Al die lof en eer aan die Here……Baie liefde en geluk vir julle 2….wat 4 gaan word…..

CK ·

Baie geluk julle. Ek onthou die dag en tyd toe ons geskakel is en daar vir ons gesê is julle was in ‘n ongeluk. Tragiese dag gewees, maar jy was so sterk na dit en het vas geglo God jou vir iets beter gespaar.

honourable member ·

Dis wonderlik. Sulke mooi goed laat my weer moed kry vir die lewe. Geniet julle kinders.

Thea ·

Die fotos is so so mooi, sag en vroulik, nie n oop maag nie, van die bekendes kan leer hier
In hierdie lewensverhaal kan n mens GOD SE HAND sien
alle EER aan GOD
Geniet die liefde en seen

Nettie ·

Dankie Maroela Media, vir dié stukkie positiewe beriggewing.

Ons word pap geslaan, van links na regs, boontoe en ondertoe met berigte van diefstal, korrupsie, moord, verkragting ………… daagliks, sodat hierdie berig soos ‘n vars (amper) lentebriesie ‘n mens se kop skoongewaai het ………..

Sterkte aan mnr, & mev. Swanepoel – mag hierdie tweetjies vir julle net seën en liefde bring!

leon pit ·

Mense daar is dit weer bewys wonderwerke gebeur daagliks.
Daar is n LEWENDE GOD.
GLO en jy sal sien HY is daar vir ons almal.
Alle eer aan Jesus Christus.

Auberine ·

Wow, wow, wow!!!!! Dit is awesome mense….baie geluk en alle eer aan ons God en Vader. Ons ken nie die toekoms maar Hy hou dit is Sy hand. Hul sal goed groot word in die geweste.

Belinda ·

Baie geluk Karin, ek kry sommer hoendervleis! Ek sal dai dag nooit vergeet nie, was baie traumaties vir ons in ongevalle ook! Mag ons Here jou gesin sèèn! Alles wat mooi Is, geluk en voorspoed

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.