Dubbele tragedie tref Anene Booysen se familie

Anene Booysen

Anene Booysen

Anene Booysen, die 17-jarige meisie van Bredasdorp wat verlede jaar dood is nadat sy op ʼn konstruksiewerf in Bredasdorp verkrag en wreed vermink is, se biologiese pa is óók vermoor, en haar ma is moontlik op haar sterfbed.

Die Cape Argus het Vrydag berig haar pa, Klaasie Speelman, se liggaam is met veelvoudige steekwonde op ʼn ashoop aangetref.

Kol. Tembinkosi Kinana, ʼn polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het bevestig Speelman Is Dinsdagaand by sy huis aangeval deur ʼn man, wat naby Speelman woon. Dié man het glo van hom geld geëis. “Speelman was saam met sy vriendin in sy plakkershut in Bredasdorp en het na bewering vir die man R10 aangebied,” het Kinana gesê.

Die man wou glo meer geld gehad het, en het Speelman met ʼn mes aangeval toe hy nie meer geld vir hom kon gee nie. Speelman se vriendin het gaan wegkruip en het Woensdag die voorval by die polisie aangemeld. Die aanvaller is intussen in hegtenis geneem en gaan binnekort in die Bredasdorp-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.

Die koerant berig ook dat Anene se pleegma, Corlia Olivier, dieselfde dag as wat Speelman vermoor is, in die hospitaal opgeneem is. Olivier is met kanker gediagnoseer. Volgens Elsabie Sheldon, Olivier se suster, is sy baie siek, en verwag die familie die ergste.

Anene se moordenaar, Johannes Kana, is verlede jaar in November tot twee keer lewenslank gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan haar verkragting en moord. Lees meer hier.

Bron: Cape Argus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.