Dubbele tragedie vir Alberton-gesin

Anthea Jacobs. Foto: Verskaf

Anthea Jacobs. Foto: Verskaf

Die familie van Ané Jacobs, die tienermeisie van Alberton wie se liggaam in November in ʼn veld naby die plaaslike sokkerklub gevind is, is deur ʼn tweede tragedie getref toe Ané se ma, Anthea (46), Dinsdag skielik dood is.

Louwrens Jacobs (19), Ané se broer, het aan Maroela Media gesê sy ma is gisteroggend na ʼn hospitaal gehaas omdat sy skielik baie verswak het. Sy is enkele ure daarna in die hospitaal dood nadat haar hart en longe ingegee het.

“My ma is vroeër met hartversaking gediagnoseer en sy was siek, maar nooit so erg nie. Ná Ané se dood het haar gesondheid verskriklik agteruitgegaan. Dit was asof sy net al hoe sieker geword het. Sy het tot en met haar dood getreur,” het Louwrens gesê.

Maroela Media het vroeër berig Ané het die aand van 29 Oktober vermis geraak nadat sy saam met vriende uitgegaan het. ʼn Soektog na haar is van stapel gestuur en haar halfnaakte liggaam is die Dinsdagoggend ná haar verdwyning naby ʼn sokkerklub in Alberton gevind. Sy het kneuswonde aan haar gesig gehad en haar grimeersakkie is ʼn paar meter weg van haar liggaam gevind. Haar liggaam is vermoedelik geplaas daar waar dit gevind is.

Ané Jacobs. Foto: Facebook

Ané Jacobs. Foto: Facebook

Anthea het destyds aan Maroela Media gesê dat sy tydens die soektog aanhou glo het dat Ané lewend gevind sou word. Sy was gebroke nadat Ané se liggaam gevind is.

Louwrens het Woensdag gesê Anthea kon die drie dae voor haar dood byna nie slaap nie omdat sy so met haar hart en longe gesukkel het. “Toe ons haar Dinsdagoggend sien, het ons net geweet sy moet nou dadelik hospitaal toe, want sy het baie sleg gelyk. Sy het die laaste tyd baie pyn gehad en was regtig siek. Ek weet dat sy nou op ʼn plek is waar sy nie meer pyn het nie.”

Louwrens het gesê hy sal sy ma onthou as iemand wat altyd kans gesien het vir enigiets en altyd baklei het om die mense wat sy lief gehad het te beskerm. “Sy was ʼn goeie vrou en die beste ma waarvoor ons kon vra. Sy was lief vir almal om haar en het altyd omgegee hoe dit met almal anders gaan. Haar dood is vir ons almal baie swaar.”

Hy het gesê ʼn gedenkdiens vir Anthea sal volgende week in Alberton gehou word, voordat sy in ʼn begraafplaas in Boksburg bo-op Ané begrawe sal word.

Intussen is niemand nog in verband met Ané se moord in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Connie ·

Eina dis baie sleg. Sterkte aan die familie. Veral die tyd van die jaar is sulke gebeure baie sleg.

Ada ·

Enige ma sou haar dood getreur het, ek is so jammer om te hoor. Sterkte vorentoe aan almal betrokke.

Belinda ·

Rus in Vrede baie jammer vir die mense wat nog hier op aarde agter moet bly dink aan julle almal……………

Arizona ·

My hart gaan uit na die familie, maar ek glo julle moeder en haar dogter is nou weer saam. Rus in Vrede en sterkte vir die familie?

Jean ·

Dis baie tragies, sterkte aan die res van die gesin en familie. Baie mooi resume wat die seun van sy ma skryf. Pragtig om te sien. RIV.

clarian ·

AG TOG SO TRAGIES,,MAAR SY IS OP N BETER PLEK GEEN SEER GEEN PYN
VEILIG IN JESUS SE ARMS SAAM MET HAAR LIEFLING DOGTERJIE
MAG GOD DIE FAMILIE SE HARTE VERTROOS…..STERKTE

Ook n ma ·

Ek voel vir dié wat agterbly, maar sy wou beslis saam met haar dogter wees en nou is sy. Sterkte!

Rina Vermeulen ·

Alle sterkte aan die familie…wat pla waarom is daar nog geen persoon in hegtenis geneem nie.Daar moet vir die familie een of ander manier van regverdigheid wees in die ondersoek soos om die skuldiges of skuldige aan die pen te laat ry.Maar soos baie sake loop dit net dood of die polisie swyg net .Maroela hou aan om uit te vind hoe die saak vorder asook ander sake. Dit sal die families baie help om berusting te vind as hul weet dat die kriminele vir die daad sal boet.

Magda ·

Ek weet vir n feit ondersoeke was gedoen, leidrade opgevolg maar die bevoegdheid van die SAP word erg betwyfel. Ane se saak sal nie sommer opgelos word tensy privaat speurder genader word nie. Sterkte aan die familie wat agter bly.

Marinda ·

Ai dit is bitter hartseer dat Anthea ook oorlede is. Maar ek dink dat as mens weet jou kind is wreedaardig vermoor, kan ‘n ma nie anders as om te dink wat jou kind die laaste ure van haar lewe moes deurmaak nie. Dit is genoeg om mens van smart te laat beswyk. Ons is so jammer vir haar seun wat eensklaps feitlik sy hele gesin verloor het. Jy moet jou lewe so leef dat jou ma en sus trots op jou sal wees. Ook vir Anthea se broer Fred en sy familie wat in hierdie tyd ‘n steunpilaar vir hulle was , ons innige simpatie. Oom Jan en Tannie Marinda

Linda ·

Dis baie sleg vir die familie en vriende, sterkte aan almal van julle. My vraag is net waarom is nog niemand inhegternis geneem oor Ane se moord nie? Daar moet tog vingerafdrukke of DNA wees wat aan iemand behoort? As ouers van die dorp is dit regtig ‘n groot bekommernis dat ‘n kind koelbloedig vermoor is en niks word daaraan gedoen nie! Gaan of moet ons dit maar net aanvaar en ons koppe wegdraai en die skuldiges loop tussen ons rond tot die volgende slagoffer???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.