Dubbele vreugde vir dieretuin se krokodille

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria is 14 Kaaiman-alligators ryker. Foto: NZG Facebook-blad.

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria is 14 Kaaiman-alligators ryker. Foto: NZG Facebookblad.

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria se reptielpark is 14 klein Kaaiman-alligators ryker en het boonop ʼn korporatiewe borg gekry wat voortaan sal help met die versorging van die krokodilspesie in die park.

ʼn Bruin Kaaiman-wyfie, ʼn alligator-subspesie inheems aan Suid-Amerika, het in Desember verlede jaar 25 eiers gelê en 14 het vroeër die maand uitgebroei. Sy het haar eiers in die water gelê alhoewel daar genoeg materiaal vir ʼn nes was. Dit het die natuurbewaarders genoop om die eiers te verwyder en in ʼn broeikas uit te broei. Die klein Kaaiman-alligatortjies word tans met die hand gevoer en behoort oor ʼn jaar by die volwasse alligators aan te sluit sodra hulle sterk en groot genoeg is om hulleself te verdedig.

Die dieretuin se reptielpark, die tuiste van die Kaaiman-alligators, spog ook met Nyl-krokodille en twee 41-jarige Amerikaanse alligatormannetjies, wat onderskeidelik 300kg en 280kg elk weeg.

“Ons is opgewonde en baie dankbaar vir die ruim borgskap, “ het Marcel Singh, bemarkingspesialis vir die Pretoriase Nasionale Dieretuin, tydens die amptelike bekendmaking van Bakwena Dagspa se aanneming van die alligators, gesê. Volgens Singh sal die borgskap hoofsaaklik aangewend word vir die opgradering en instandhouding van die dieretuin se krokodil-afdeling, asook vir die versorging van die drie krokodilspesies.

Bakwena beteken krokodil in Sesotho en volgens Marianne Swart, bemarkingsbestuurder van Bakwena Dagspa, was dit juis Antoinette Gmeiner, die medestigter van die spa, se liefde vir dié prehistoriese reptiele wat aanleiding gegee het tot die spa se naam en die aanneming van die krokodille en alligators.

Borgskapgeleenthede en aannemingsprogramme vul die Pretoriase Nasionale Dieretuin se inkomste aan en verskaf broodnodige bystand aan die instansie vir die versorging van die meer as 6 500 wilde diere wat hier ʼn tuiste het. Lede van die publiek kan ook ʼn dier borg vir so min as R100. Besoek http://www.nzg.ac.za/adopt/packages.php vir meer inligting oor die dieretuin se aannemingsprogramme.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.