Dudu Myeni by SAL afgedank

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. Foto: ANA

Die kabinet het Woensdag radikale veranderinge aan die raad van SAL goedgekeur en volgens berigte vir Dudu Myeni as voorsitter afgedank.

Myeni sal glo vervang word deur die sakeman JB Magwaza. Tydens die vergadering vroeër die dag het die kabinet ʼn nuwe raad goedgekeur en Tryphosa Mmakeaya, Mzimkhulu Malunga, Siphile Buthelezi, Nazmeera Moola en Gugu Sipamla is glo saam met Myeni die deur gewys.

eNCA berig behalwe vir Magwaza is nuwe aanstellings op die raad Nolitha Fakude as adjunk-voorsitter, die sakemanne Geoff Rothschild en Martin Kingston, die lugvaartdeskundige Ahmed Bassa asook die rekenmeester Tinyiko Mhlari. Volgens die nuusagentskap het die kabinet besluit om Swazi Tshabalala, Peter Tshisevhe, Thandeka Mgoduso, Pieter Maluleka en Akhter Moosa op die raad te hou.

Volgens bronne het Myeni se afdanking gepaardgegaan met uitgebreide onderhandeling deur Malusi Gigaba, minister van finansies.

Die minister het SAL se krediteurs verseker dat hy Myeni sal vervang, iemand wat gesien word as ʼn getroue bondgenoot van Zuma en wie se termyn as raadsvoorsitter te midde van groot omstredenheid vroeër vanjaar verleng is.

Daar word verwag dat die formele aankondiging oor die veranderinge aan die raad na afloop van ʼn kabinetsinligtingsessie vandag bekendgemaak sal word.

Op 5 Oktober het die parlement se staande komitee oor finansies ʼn beroep op SAL gedoen om ʼn jaarlikse algemene vergadering in November te hou om ʼn plaasvervanger vir Myeni te vind. Myeni se termyn sou dan saam met die vergadering op 3 November tot ʼn einde gekom het.

“Mense met gepaste lugvaartervaring en -kennis moet op die raad aangestel word, die bestuur moet versterk word en bewerings van korrupsie moet onmiddellik aandag kry,” het Yunus Carrim, die voorsitter van die komitee, destyds gesê.

Vandeesweek het die komitee ʼn regsopinie ontvang dat die nasionale tesourie se reddingsboei van R3 miljard aan SAL moontlik onwettig kon gewees het. Die DA se Alf Lees het aangevoer Gigaba het dalk probeer om die parlement te ontduik met dié op-die-nipper-reddingsboei, wat gedoen is om te verhoed dat die lugredery agterstallig raak met die betaling van een van sy lenings.

Woensdag het die komitee gesê Gigaba was reg om nie toe te laat dat die lugredery agterstallig raak nie, maar hy moes ʼn spesiale kredietsontwerp by die parlement ingedien het, eerder as om op artikel 16 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur te steun.

Die reddingsboei was die tweede een vanjaar aan SAL om die lugredery toe te laat om sy leningsterugbetalings na te kom. Gigaba het in Junie ook goedgekeur dat geld van die nasionale inkomstefonds gebruik word om die lugredery in staat te stel om R2,2 miljard aan Standard Chartered Bank te betaal.

Lees het Woensdag die nuus dat Myeni afgedank is verwelkom. “Sy het ongekende skade by SAL aangerig en moes nooit op die raad aangestel gewees het nie en beslis nie as raadsvoorsitter nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Sarel Strydom ·

Almal word deesdae afgedank net Goue Handdruk. Hoeveel was sy netaal om te loop en gaan sy vervolg word.

Stormrider ·

Ja nee. Gee vir haar ‘n R100m skeidingspakket en jaag haar weg! Skandelik!

Piet ·

n “Reddingsboei” het net nog n woord geword vir verkwisting. Hoeveel “reddingsboeie’ moet die belastingbetaler nog finansier?

cc ·

…..en word sy enigsins vervolg vir die gemors wat sy daar aangejaag het……??????
Nee, kry vir jou ‘n goue handdruk en wag, ons kan jou elders ontplooi ons kader.

Johann ·

En da ga Dudu uitEINDELIK. 2 litle 2 late. Wat van die chaos wat sy voor verandwoordelik is? Of is alle Zumaikies vrygeskeld van hul verwoesting? Of was dit dalk juis deel van die plan van anargie? Kry die land so onstabiel moontlik om n staatsgreep via die weermag af t dwing? ANC LEGACY!!!!!

John ·

Ongelukkig gaan diegene met goeie bedoelings ondergrawe word deur meer-van-dieselfde-maatjies. Die SAL sal uiteindelik verkwansel word aan maatjies van maatjies se beste vriende… soos onlangs in ons moederland, Indie….

e ·

Moes lankal gebeur het, dan was ons land nie nog meer in die gemors nie.

Cor ·

‘n Volgende minister of adjunk minister dalk ? of is dit dalk n provinsiale Premiers pos ? Hoe se hulle “watch this space” vir verdere nuus.

HPV ·

Daar is weer baie omte skep. Volgende een se beurt. As ons Afrikaners maar so vir mekaar kon sorg…

SjN ·

Sy moes in die eerste plek nie in die pos gewees het nie, Reddingsboei, wat n mooi naam vir onbevoegde korrupte wanbestuur, afrikaans jou lekker taal.

Johan ·

Sy het so baie skade aangerig daar……..gaan seker n helse uibetaling weer kry…..veral omdat daar nou weer geld inkom met die “reddings plan”……

E.K. ·

‘n Geval van “closing the stable door after the horse has bolted”, of te min te laat of watookal. SAL is in sy glory en ek is seker haar pensioen gaan die paar rand wat nog in die spaarvarkie is heeltemal stroop.

Rupert Ashford ·

Lyk na 6 nuwes en 5 oues, so hulle behoort darem besluite deurgevoer te kan kry behalwe as van die nuwes ook maar geplante kaders is…

snoefie ·

as uhm, hum, DIE SAKEMAN sy sout werd was in die sakewereld, het hy nie tyd gehad om die voorsitterskap oor te neem nie. KRY VERDOMP BEVOEGTE MENSE WAT DIE WERK KAN DOEN.

Eish ·

Ek wonder hoekom sukkel die regering so om Westerse terme soos kundigheid, kapasiteit, integriteit, waardigheid, beste praktyk, prosedures, reëls en regulasies en hul doel, onafhanklikheid, regverdigheid, diensbaarheid en opoffering se betekenis te begryp.

Beer ·

Dis vir hulle onverstaanbaar – soos korrupsie – volgens Zuma ‘n westerse konsep….

Deloris ·

Die volgende lot is aangestel om hulle sakke volg geld mahala te kry, sodra hulle genoeg aangejaag het word hulle afgedank en so word die vlg lot weer aangestel en so maak zuma seker sy vrinne en kennisse word ryk….en elke elke een hulle kry sakkke vol geld, dan word die vlg lotte aangestel….. nice quick way of making mahala money….

Swannie ·

Sy sou in elkgeval haar pos moes ontruim het op 03 November, maar deur haar nou af te dank, sal sy geregtig wees op `n “Goue Handdruk”.

So sorg die maatjies vir mekaar !!

Beer ·

Te min te laat. Die skuim aan die stuur het SAA so wanbestuur daar is nie regtig ‘n pad terug nie. Verkoop SAA so gou as moontlik hopelik aan Lufthansa of ‘n nuwe aandeelhouer wat kundigheid en verstand het.

Theresa ·

Doedoe my liefstetjie – so ‘n vakerigheidjie pas glad nie by ‘n amptenaar wat op-en-wakker besluite moet neem nie. Genugtig! Is al die SAL vliegtuie behoorlik en ordentlik op tegniese vlak veilig??? Hoe stel mens dit vas?? Scary om te hoor van reddingsboei, wanneer daar oor vliegtuie gepraat word…

Henry 59 ·

Puik kandidaat vir Minister van Finansies…………..vlieg SA agter SAA aan……………..

Martin ·

Nou kan mens net weer vra, hoékom is sy ooit aangestel en erger, hoé kon sy in haar pos bly?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.