Dudu Myeni ‘te siek’ om te getuig

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. Foto: ANA

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van SAL, het beweer sy is te siek om na Kaapstad te vlieg om voor die parlementêre kommissie van ondersoek na Eskom te getuig.

Zukiswa Rantho, voorsitter van die komitee wat die ondersoek behartig, het aan LP’s gesê Myeni het nie gereageer op ʼn versoek om ʼn doktersbrief in te dien om haar mediese toestand te verduidelik nie.

Nadat LP’s ten sterkste beswaar aangeteken het, het hulle besluit om Myeni nog ʼn week grasie te gee, maar dat daar aan haar gesê sal word dat sy geen ander keuse het as om haarself beskikbaar te maak vir ondervraging nie. Daar sal ook aan Myeni gevra word om ʼn siekbrief in te dien.

Die DA se Natascha Mazzone het gesê Myeni is besig om speletjies te speel. “Ek dink dit is baie duidelik dat hierdie ʼn kat-en-muis-speletjie is. Ek glo dit nie, ek dink ons word vir die gek gehou.”

Mazzone en ander LP’s het ʼn voorstel van die voorsitter dat die komitee na Johannesburg moet reis om daar met Myeni ʼn onderhoud te voer, verwerp. Hulle het gesê dit sal ʼn mors van belastingbetalers se geld wees.

Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van Eskom, het vroeër aan die komitee gesê dat Myeni verlede jaar, by ʼn vergadering by voormalige pres. Jacob Zuma se huis, hom opdrag gegee het om uitvoerende beamptes by die maatskappy te skors. Myeni het Tsotsi in ʼn geskrewe voorlegging aan die komitee daarvan beskuldig dat hy lieg.

Die komitee het besluit om gehoor te gee aan ʼn versoek van Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, om hom tien dae uitstel te gee om voor die komitee te verskyn. Dié versoek is verlede week ingedien.

Gigaba het gevra vir meer tyd om inligting bymekaar te maak om die vrae wat aan hom gestel word behoorlik te antwoord. Hy sal na verwagting gepols word oor korporatiewe bestuur-gebreke by semistaatsinstellings gedurende sy termyn as minister van openbare ondernemings, asook die aanstelling van raadslede en die verlenging van Eskom se kontrakte met maatskappye wat deel vorm van die Gupta-familie se sakeryk.

Die Gupta-broers is aangesê om volgende week voor die kommissie te verskyn.

ACDP-LP Steve Swart het gesê hy dink dit is egter hoogs onwaarskynlik dat hulle wel sal verskyn gegewe die feit dat die broers skynbaar probeer om die polisie te ontduik. “Hulle is oral oor die land en die Valke probeer hulle opspoor,” het hy gesê.

Die komitee het uitgebreide getuienis gehoor oor hoe die Guptas hul politieke verbindings gebruik het om twyfelagtige kontrakte met staatsinstansies aan te gaan en in die proses miljarde rande te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Michael ·

Tipies Snaaks sy was nooit te siek om die land vol te vlieg met kurupte sake nie. dis baie verdag.

PJC ·

Dudu sal nie sommer uit eie vrye wil by die komitee opdaag nie. Hulle sal haar maar moet dagvaar. Noudat Zumpie nie meer so baie invloed het nie het sy ń ernstige probleem.

Eish ·

Die parlemtêre komitee moet maar begin grom en n dagvaarding op die dame bestel…
Waarheidsfobie in alle waarskynlikheid.

GM ·

Hmm, en dis mos vreeslik moeilik om ‘n sieksertifikaat in die hande te kry.

honourable member ·

Daai dokters brief sal ook nie iets beteken nie. Gaan gekoop word.

Zelda ·

Dudu moet inhegtenis geneem word omdat sy nooit besikbaar is nie. En so ook moet n dr wat nie haar vriend is haar ondersoek om te sê wat se siekte het sy
Gigaba speel ook vir tyd. AS al sy filling in orde was en op datum . Sou dit nie nodig gewees het om uit te stel nie.

Toe daar die 1ste keer in die verslag gehoor was oor die guptas toe moes daar dadelik opgetree geword het. Het almal gedink dat guptas almal wat hull soek met koffie en tee gaan verwelkom .
Dit kan nou weke , maande selfs jare vat om guptas nou op te spoor. Omdat sekere mense te laat geslaap het.

Wat het terloops gebeur van die saak met die army tank wat by hulle huis was. GROOT BOHAAI GEMAAK OOR DIT. Maar niks gebeur nie.

Justice ·

Die Gupta broers sal beslis daar wees en sommer Myeni se doktersbrief saambring.

Casper Labuschagne ·

Duidelik is sy slimmer as wat ons is, sy weet waarskynlik iets van SAL wat ons die weet nie en sal om die dood nie op ‘n vliegtuig klim nie.

Elvira Bothma ·

Kyk hierdie is n regte kansvatter. Vertrou haar gladnie.

Alida ·

Sy kan saam met n onafhanklike Dr besigheidsklas vlieg en dit hoef nie SAL te wees nie. Daar is mos geld. Dit slaan my dronk dat hulle haar bollie stories glo.

Lerato ·

Ek dink nie sy is siek nie. Ek dink net sy is bang om SAA te vlieg. Inside information, miskien?

POLONY ·

LMGA so word hulle almal siek as hulle moet getuig, GIGABA is ook te siek om te getuig oor die Guptas . lekker land hierdie . volg SHABIR SHEIKH se voorbeeld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.