Dudu Myeni toets Zondo-kommissie en regsbeginsel

Dudu Myeni het die week met ‘n videoskakel voor die Zondo-kommissie getuig. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Dudu Myeni het die week die grense van die Zondo-kommissie getoets, asook of die regsbeginsel wat selfinkriminering verhoed, suksesvol gebruik sou kon word om moontlike aanspreeklikheid vir kriminele dade te ontduik.

Myeni, voormalige SAL-voorsitter, het ook herhaaldelik die naam van ’n getuie wie se identiteit in belang van sy veiligheid deur die kommissie beskerm word, gebruik.

Die Right2Know-veldtog het in reaksie gesê dit was ’n kil berekende stap van Myeni om die korrupsie-fluitjieblaser se lewe in gevaar te stel en verdere aanmelding van korrupsie te ondermyn.

Suid-Afrikaners sal deeglik kennis neem van adjunkhoofregter Raymond Zondo se toekomstige optrede teen Myeni in hierdie verband, want dit word beskou as ’n duidelike, regstreekse en beplande oortreding van die Wet op Kommissies.

Die adjunkhoofregter het gesê hy sal eersdaags aankondig wat hy omtrent hierdie gedrag van haar sal doen.

Myeni, wat in ’n stadium tydens die hoogbloei van die Zuma-bewind voorsitter van sowel die Suid-Afrikaanse Lugdiens as die Jacob Zuma-stigting en die Umhlathuze-waterraad in Richardsbaai was, het beweer sy het die persoon, by die kommissie slegs bekend as mnr. X, per ongeluk herhaaldelik geïdentifiseer.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Myeni is reeds deur verskeie getuies uitgewys as ’n persoon wat groot bedrae geld namens oudpres. Jacob Zuma hanteer en ontvang het, en vergaderings met hom gereël het vir byvoorbeeld die Bosasa-base Gavin Watson en Angelo Agrizzi.

Maar toe sy deeglik daaroor uitgevra word deur die getuienisleier, adv. Kate Hofmeyr, het Myeni begin met ’n vurige toespraak waarin sy beweer het sy is ’n onskuldige vrou wat slegs geteiken word oor haar ras en haar verbinding met Zuma, en nogmaals ’n fassinerende blik gegee op die wêreldbeskouing van die voormalige president se binnekring.

“Ek moes nooit ingestem het om voorsitter van die Jacob G. Zuma-stigting te word nie. Ek is ’n vooraanstaande sakevrou van formaat; nie ’n politikus nie. Maar nou sit ek hier as iemand wat gesien word as ’n leuenaar, ’n krimineel en iemand met ’n misdadige minderwaardigheidskompleks.

“As jy in hierdie land, die land van my geboorte, swart is, word jy gesien as ’n misdadiger. As ek kon, sou ek een oggend wou wakker word as ’n mev. White of ’n mev. Smith of ’n mev. Van der Merwe… of ’n madam Venter,” het Myeni aangevoer.

“Hierdie kommissie is ’n poging om oudpres. Zuma tot ’n val te bring. Ek is hier omdat mense aangesê is om sekere bewerings voor hierdie kommissie te maak. Dit word reeds aanvaar dat ek skuldig is, en nou moet ek my onskuld bewys,” het Myeni aangevoer.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

Vir die duur van daardie toespraak was sy kortstondig weer die gevreesde magsmakelaar wat tydens haar magtige dae hooghartig op die parlement sou neerdaal en hooghartig sou besluit watter vrae sy wou beantwoord en watter vrae benede haar is – in haar gedrag gesterk deur ’n dienswillige ANC-koukus.

So naby was sy in daardie dae aan die destydse president dat die EFF herhaaldelik in die parlement na haar verwys het as mev. Dudu Myeni-Zuma, met alles wat dit impliseer.

Maar toe die Zondo-kommissie se adv. Hofmeyr met die kruisondervraging begin, was al Myeni se bravade weg. Op vraag na vraag – dosyne kere – het sy dieselfde sin kwytgeraak: “Ek verkies om daardie vraag nie te beantwoord nie ingeval ek myself inkrimineer.”

Sy het soms so lank gevat om vrae met hierdie sin te beantwoord dat dit byna voorgekom het asof sy voorgesê word wanneer om dit te doen. Sy was nie in dieselfde lokaal as die kommissie nie, maar het virtueel aan die verrigtinge deelgeneem.

Partykeer was daar ’n klein variasie op haar antwoord. Dan het sy geantwoord: “Ek verkies om daardie vraag nie te beantwoord nie want ek sal myself inkrimineer,” wat lees soos ’n onbewustelike skuldbekentenis.

Haar aanwending van die regsbeginsel teen selfinkriminering laat die land sedertdien gons. Hoewel kenners en ’n baie groot deel van die publiek meen dit is duidelik ’n taamlik slap en deursigtige plan om aanspreeklikheid te vermy en die kommissie te rysmier, wonder baie mense of dit dalk ’n taktiek is wat kan werk en dan wyd deur beskuldigdes in howe aangewend sal kan word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Daar is dus baie aandag op hoe Zondo hierdie tameletjie gaan hanteer, en of Zuma dieselfde taktiek gaan volg wanneer hy weer voor die kommissie verskyn (hy is veronderstel om van 16 tot 20 November te verskyn, maar het aangedui hy gaan nie opdaag nie, wat ’n regsgeveg op sigself is).

Zondo het wel aan Myeni uitgewys dat haar verskyning voor die kommissie haar geleentheid is om die bewerings wat verskeie getuies teen haar gemaak het, te weerlê, en gewaarsku dat as sy hom geen keuse laat anders as om die spesifieke getuienis wat wel voor hom is en aan haar gestel word, as die waarheid te aanvaar as sy kies om dit nie spesifiek te weerlê nie – selfinkriminasie ten spyt.

Bitter min kere het Myeni afgewyk van die enkele sin oor selfinkriminering wat sy soveel keer herhaal het, maar een keer moes sy – maar toe sy afwyk, het sy dit behoorlik ontgeld.

Myeni het naamlik in Maart vanjaar ’n beëdigde verklaring van ’n paar bladsye by die kommissie ingedien waarin sy basies elke bewering wat tot in daardie stadium teen haar gemaak is, stel en dit dan ontken.

Toe Hofmeyr haar vra of dit haar handtekening is wat onderaan die verklaring voorkom, het Myeni bevestig dat sy dit onderteken het, en dit het ’n bars veroorsaak in die damwal van eensin-ontkennings met dieselfde sin oor selfinkriminering.

Angelo Agrizzi. (Foto: Simphiwe Mbokazi /ANA)

Want in daardie verklaring ontken sy ’n paar dinge wat absoluut skriftelik as korrek bewys kan word. Een hiervan is e-posse ingedien deur ’n vorige getuie, Lizelle Oberholzer, wat vir Bosasa gewerk het, en waarby Agrizzi en Watson ook betrek word.

Hierdie e-posse gaan oor ’n vergadering tussen die Bosasa-ringkoppe en Zuma wat by Nkandla plaasgevind het en deur Myeni gereël is, en dit sluit e-posse in wat gestuur is vanaf Myeni se persoonlike e-posadres, klaarblyklik deur Myeni self.

Toe Myeni herhaaldelik hieroor gevra is deur Hofmeyr, het sy (met daardie sin oor selfinkriminasie) herhaaldelik geweier om te erken of te ontken dat dit haar e-posadres is (hierdie joernalis kan uit eie gebruik daarvan indertyd bevestig dit was inderdaad so) of dat sy die e-posse geskryf het.

Voorts gee sy in die verklaring toe dat daar wel so ’n vergadering by Nkandla plaasgevind het, hoewel sy sommige besonderhede daarvan in die verklaring ontken. Voor die kommissie het sy egter net met haar teen daardie tyd welbekende eensin-antwoord volstaan.

Die handtekening het haar ook later weer in die pekel laat beland. Dieselfde handtekening wat sy as haar eie geëien het, kom voor op verskeie kontantstrokies van reusebedrae wat by die Jacob G. Zuma-stigting inbetaal is en wat in die kommissie se besit is, en wat grootliks ooreenkom met Agrizzi en Oberholzer se getuienis oor Myeni se beweerde betrokkenheid by korrupsie en staatskaping.

Benewens ’n beslissing oor haar ontmaskering van mnr. X en nog een oor Myeni se gebruik van haar antwoord oor selfinkriminering, bied die drie dae van Myeni se getuienis dus ryke stof vir die dag dat Zondo sy bevindings finaliseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Stefan ·

Tenminste durf sy erken dat sy eintlik graag blank wou gewees het, sy wil dus nie wees wat sy is nie.

MakersMark ·

Ha ha sien sy sê sy wil ‘n “madam Venter” wees. Dis juis omdat sy dink sy is ‘n madam dat sy doen wat sy doen.

Dup ·

Dit is hoe dinge in Afrika politiek werk.Bly naby en in die guns van die met die mag,en jy kom feitlik met alles weg.Skuldig of onskuldig speel glad nie ñ rol nie.Me Doedoe het eers nie geld gehad om vorige sittings by te woon maar nou is sy blykbaar ñ gesiene sakevrou met ñ span advokate aan haar kant….

koos10 ·

Sy het mooi by Zuma geleer, behalwe haar begeerte om wit te wees, dis nuut!

Mariana ·

Gesiene sakevrou, regtig. Nee sy is skuldig en hoort in tronk…..saam met Zuma. Klomp leuenaars en bedrieërs van formaat

gatgogga ·

Sy het nie net die grense getoets nie, sy het die kommissie gesaboteer.
Dit hang af of Zondo kan optree, indien nie het sy die hele proses bespotlik gemaak.

Tanniepetoors ·

Soveel arrogansie lanklaas gesien. Zondo se skeempie van n glimlag elke nou en dan, spreek boekdele. Adv Hofmeyr verdien n medalje vir geduld! Puik ondervraging.

Karlahari ·

Tannie Dudu se naam verskyn nog steeds asceen van Centlec se direkteure. As sy wel mog op hulle raad dien minag sy ook n vorige hof uitspraak….

JM ·

Dudu se arrogansie en uitdagende houding gaan haar duur te staan kom. Sy is besig om regter Zondo se geduld te toets en weet sy is skuldig. Toe sy nie meer antwoorde oor gehad het nie, toe gryp sy na rassisme! Siestog! Mag geregtigheid geskied en die oranje uniform sommer gou vir haar aangetrek word, vir haar en haar ewe skelm vriend, Jacob Zuma.

Johann ·

Soveel van arrogante vermeteldheid! Dink sys nog onaantasbaar agv haar ZUMAIKI status.

Komaan ZONDO….WYS JYT MURG EN RUGRAAT! Sluit haar sumier toe vir kwaadwillige en doelbewuste blootstelling van n getuie se lewe

Frederik C ·

Julius wil ook graag Mnr Van der Merwe of Mnr Venter wees. Tot tyd en wyl die metamorfose plaasvind, haat hy hulle.

Tanniepetoors ·

Johann, ek hoop van harte dat die NVG sal optree teen Myeni vir die feit dat sy, volgens my ook, moedswillig, Mr X se identiteit bekend gemaak het. Andersyds, dat hy behoorlike beskerming geniet en dat ons nie ‘n herhaling van Kinnear se lot gaan sien. Dit sou egter net so sinneloos wees soos die moord op Kinnear. Die verdoemende getuienis is reeds gelewer. Die enigstes wat dit nie besef nie is die wat in die beskuldigdebank gaan staan.

Johanncb ·

Sy gebruik skaamteloos dieselfde wyse van verontskuldiging as JZ en Ace! En gaan nog daarmee wegkom ook!

annie ·

Hier vorm van boshowe dien geen doel nie. Wanneer verskyn die skarminkels eendag in die hof soos in ‘n regte hof waar jy vrae moet beantwoord en/of vir die speletjie betaal agter [|||].

Hennie J ·

Behalwe dat dit nou amptelik is dat sy eintlik wit en Afikaans wil wees, (maar ons wil haar nie he nie) is sy blatant arrogant en uitdagend. Aan Adv. Hofmeyer, jy het nou bewys hoe n absoluut professionele person moet optree. Jou huiswerk was gedoen en jy het koel en berekenend gebly! Regter Z jy is uitgedaag en Suid Afrika wag vir jou reaksie. As dit minder is as n summiere arrestasie (Hollywood styl deur die valke) sal ek uiters teleurgesteld wees en my skaar by diegene wat dink jou kommissie is net n klug.

Kobus ·

Liewe Dudu,wens eerder jy kan Kersvader of die ooievaar wees. As jy wit mev Venter was sou ju binne n dag spyt wees oor jou wens. n Wit mev Venter moet werk vir haar geld, en ssam met dit die werk van onbevoegde kollegas ook doen sonder om te kla. U aansoek om n wit mev Venter is ongelukkig onsuksesvol
U werksetiek is in ag geneem indien u sou wonder

Danie ·

Nou ja ek het altyd gewonder wie of wat is die coconuts waarvan gepraat word.
Die anti kolonialistiese eff bende verstik seker in hul duur drank ten aanhore hiervan.

Juffrou ·

Kom Zondo, wys nou vir die hele SA dat dié kommissie nie net ń klug is nie: Valke moet dié vroumens dadelik arresteer! Sy hoort in daai blou vroue-uniformpie so gou as moontlik. Saam Zuma én Ace.

Pieter J ·

Ek dink haar arrogante en astrante houding raak nou selfs vir die Zondo kommisie te veel wat hopelik gaan lei tot meer ferm optrede.

Dapper Patriot ·

Aii Dudu…as jy maar net kon besef dat as jy “mev. White” of “mev. van der Merwe” was sou jy nooit jou huidige pos of enige een van jou vorige poste ontvang het nie want jy het alles gekry danksy rassistiese wette soos SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) of beter bekend as BEE/BBBEE (Broad Based Black Economic Empowerment) .
Ai Dudu miskien as jy begin verantwoordelikheid vat vir jou aksies sal jy iewers kom in die lewe, want om blankes al die skuld te gee, gaan jou nêrens kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.