Duduzane, Guptas wil staatskaping-getuies ondervra

Voormalige ANC-LP Vytjie Mentor Maandag (27 Augustus 2018) by haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency

Die omstrede Gupta-familie en Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, het aangedui dat hulle die getuies wat in die verhore van Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping getuig, wil ondervra.

Die getuies wat hulle wil ondervra sluit in Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, Themba Maseko, voormalige woordvoerder vir die kabinet, en Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies.

Mentor, Maseko en Jonas het Zuma en die Guptas geïmpliseer in die beweerde plundering van staatshulpbronne asook die beïnvloeding van sleutelregeringsbesluite.

Mike Hellens, die Guptas se regsverteenwoordiger, het gesê Ajay Gupta het ʼn aansoekvorm voltooi in terme van die reëls van die kommissie om Maseko en Mentor te ondervra. “Hy het ook ʼn beëdigde verklaring afgelê met betrekking tot beide partye om sy weergawe van die gebeure te stel,” het Hellens gesê.

Duduzane en Rajesh “Tony” Gupta word deur Dawie Joubert verteenwoordig.

Ander regslui het óók namens hul kliënte aansoek gedoen om die getuies te ondervra. Dié sluit in sakeman Fana Hlongwane, Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings, en Mandla Mtolo en Zintle Mnonopi, hoofbeamptes van die Valke.

Jonas het aan die kommissie gesê Mnonopi het probeer om sy saak teen die Guptas en die vorige president te laat verdwyn toe hy laat hoor het dat hy R600 miljoen se omkoopgeld en ʼn bevordering tot minister van finansies deur die Guptas aangebied is.

Jonas het gesê Mnonopi het hom probeer dwing om ʼn verklaring te teken wat sy voorberei het wat die ondersoek na die Guptas en Zuma sou beëindig.

Mentor het tydens haar getuienis beweer dat adv. Mtolo van die Valke by haar huis in Durbanville opgedaag het vir ʼn vergadering oor die vordering van haar saak, en toe vir haar ʼn weergawe van haar verklaring aan die ondersoekers oorhandig het waaraan daar gepeuter was.

Volgens haar het die verklaring foute ingehad en het dit nie haar oorspronklike weergawe verteenwoordig nie.

Mentor het die Guptas daarvan beskuldig dat hulle vir haar die pos van minister van openbare ondernemings aangebied het terwyl Zuma in die kamer langsaan by die Saxonworld-herehuis was.

Zuma het steeds nie amptelik aangedui of hy die getuies wil kruisondervra of nie.

Die voorsitter van die kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo, het gesê Zuma se regsverteenwoordiger het vir die kommissie geskryf en met “ʼn sekere houding” aangedui dat hy die getuies wil kruisondervra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henk ·

Is zuma en die guptas, wat weier om voor die kommissie te getuig en die guptas wat selfs weier om SA toe te kom, werklik geregtig op eise stel?

marous ·

Nou laat hulle in persoon verskyn . Hulle kan sommer met die straler vlieg wat almal soek.

Thinus Erasmus ·

Laat dit net toe indien hul instem om self te getuig, in persoon en met volle samewerking: alle vrae duidelik en ondubbelsinnig. Eers daarna mag hul ander kruis ondervra en dan hul ook blootstel aan kruis ondervraging. Hoe’s daai vir gelyke regte????

raaiskoot ·

net nog intimidasie. veral in dsie lig dar daar wek n bierjie olie op die palms was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.