Duduzane se regspan vra ontslag

Duduzane Zuma in die landdroshof in Randburg. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Die regspan van Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het Woensdag ’n aansoek om ontslag by die Randburgse landdroshof ingedien waar hy op aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur verskyn.

Oudpres. Jacob Zuma het tydens die hofverrigtinge sy opwagting gemaak om sy seun te ondersteun. Hy het ook in ’n ligte luim gesprekke met adv. Mike Hellens (SC) en die res van Duduzane se regspan gevoer.

Hellens het aangevoer dat die staat in gebreke gebly het om die klagte van strafbare manslag en nalatigheid te bewys. Volgens hom het die staat nie getuies of getuienis om op staat te maak om sy saak te bewys nie.

Hellens het ook die relevansie van sommige getuies se getuienis bevraagteken.

In sy aansoek om ontslag het hy gesê omdat die staat se saak swak is en daar nie gronde vir skuldigbevinding is nie, mag Duduzane nie opgeroep word om self te getuig nie. So ’n besluit sal volgens hom ongrondwetlik wees en ruimte skep dat Duduzane homself in die proses inkrimineer. “Die staat het niks en ons gaan nêrens met die saak nie,” het Hellens aangevoer.

Oudpres. Jacob Zuma het sy seun, Duduzane, in die landdroshof in Randburg kom ondersteun. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Voordat die verdediging vir ontslag gevra het, het die staat nog twee getuies opgeroep voordat hy sy saak gesluit het.

Die eerste getuie was Shylet Fikile Ndlangise, ’n passasier wat tydens die ongeluk op 1 Februarie 2014 beseer is nadat Duduzane se luukse Porsche 911 met die minibus-taxi gebots het waarin hulle gery het.

Sy het getuig dat daar ’n trefslag van agter was wat veroorsaak het dat die taxi omgeswaai en in die teenoorgestelde rigting gestaan het. Met die geweld van die botsing het die taxi amper ook op sy sy beland voordat dit terug op die wiele geland het.

Die botsing het tot gevolg gehad dat Phumzile Dube, wat langs haar gesit het, by die venster uitgehang het. Ndlangise het getuig sy het gesien dat sy dood is.

Ndlangise se hand is in die ongeluk beseer en nadat sy uit die taxi geklim het, het Duduzane aangebied dat sy in sy motor sit omdat dit steeds gereën het. Sy het getuig dat sy nie geweet het wie hy is nie en ook nie dat hy in die ongeluk betrokke was nie. Sy het gedink dit is net iemand wat wil help.

Sy het die volgende dag in die hospitaal verneem wie hy is.

Oudpres. Jacob Zuma het sy seun, Duduzane, in die landdroshof in Randburg kom ondersteun. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Johan van Loggerenberg was die tweede getuie. Hy was ten tyde van die ongeluk in diens van ’n prokureursfirma wat eise teen die Padongelukkefonds (POF) hanteer. Hy het meer as 40 jaar ondervinding in die polisie, waarvan baie jare ook in die verkeersafdeling was.

Hy het getuig dat hy foto’s op die toneel van die voertuie geneem en sketse van die toneel gemaak het.

Volgens Van Loggerenberg was daar geen stilstaande water op die padoppervlak toe hy op die toneel was nie. Hy kon egter ook nie van Duduzane se verduideliking verskil dat sy Porsche ’n waterpoel getref en gegly het nie. Dit het volgens Duduzane veroorsaak dat hy beheer oor die voertuig verloor het.

Van Loggerenberg het ook getuienis gelewer oor skade aan Zuma se voertuig en aan die minibus-taxi. Hy het aangevoer dat wit merke aan die voorkant van Zuma se voertuig daarop kan dui dat hy die taxi redelik hoog op aan die regterkant getref het. ’n Spesialisverslag van die verdediging trek dit in twyfel.

Van Loggerenberg se gevolgtrekking is dat die ongeluk moontlik deur ’n menslike fout veroorsaak is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Duduzane in verband met die ongeluk te vervolg nie, maar nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om hom privaat te vervolg, het die NVG sy aanvanklike besluit omgekeer.

Elias Maangwale, ondersoeker vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, was weer vandag by die hof om die Dube-familie te ondersteun.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Soos verwag kon word, probeer die verdediging om selfs die insittendes van die noodlottige taxi as leuenaars uit te maak. Die arme bloedjie se porsch was seker op flippen outomatiese “pilot” toe sy spoed deur die taxi gebreek is! Dis om van op te gooi! Lewens is verwoes, maar die vent en sy trawante is klaarblyklik voels van eenderse vere!!! Ek herhaal gister se versoek aan Maroela Media. Vind uit tov van bestuurderslisensie en of hy ooit vir alkoholvlakke getoets is na die dood van die in die ongeluk!!!

Genieve ·

Ek hoop nie Gerrie los dit hier nie dis om van naar word vir hulle

marous ·

Hy kan nie eers ‘n vraag stel of sy hand opsteek nie . Trouens , hy mag nie eers voor in die hof sit nie .Die nvg kan maak net wat hulle wil .

jakes ·

Lagwekkend is die verdediging se verweer. Het n spook in n Porche dan die ongeluk veroorsaak? Geen wonder ons regslui word deur eerstewereld lande maar power aangeslaan. Bv dat n prokureur met 10 jaar diens ook nou kwalifiseer om as n regter aangestel te word.

fred ·

dis nou die Porsche se fout…baie slegte publisiteit vir hierdie brand……let op sy span is vol blanke avokate?

Nugter ·

Die advokaat, Mike Hellins, daai Zuma laaitie, het twee mense dood gery, omdat hy onverskillig was. Zuma het groot hartseer aan families veroorsaak. Hellins, ek hoop jy slaap lekker in die nag omdat jy ‘n skuldige man onskuldig kry deur rond te speel met woorde.

Dries du Toit ·

Is daar enige twyfel dat die vent enigsins skuldig bevind sal word. Daai regter se broek bewe seker as hy vir Jacob in die gallery sien. Dalk is hy nog sy job te danke aan hom

KEELVOL ·

En so gaan nog ‘n moordenaar in die strate rondloop. Nee wat. BRIBERY AND CORRUPTION GETS YOU EVERYWHERE. Eks nou jammer om te sê maar ek is so keelvol vir land en sy dinge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.