Duduzane wou oudminister ‘dwing om Guptas te ontmoet’

Ngoako Ramatlhodi. Foto: ANA

Duduzane Zuma, ʼn sakevennoot van die voortvlugtige Gupta-familie, het maande lank probeer om ʼn vergadering tussen die Guptas en die destydse minister van mineralehulpbronne, Ngoako Ramatlhodi, te reël, het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Woensdag gehoor.

Ramatlhodi het getuig toe hy in 2014 as minister van minerale hulpbronne deur oudpres. Jacob Zuma aangestel is, het baie mense gebel om hom geluk te wens. Een van hulle was Zuma se seun, Duduzane.

“Hy het gesê hy wou my van aangesig tot aangesig gelukwens. Dit was ʼn baie moeilike tyd vir die [mynbou]bedryf; daarom het ek nie tyd gehad om enigeen te onthaal nie … dus het ek aanhou uitstel en uitstel.”

Hy het getuig hy het geweet Duduzane was ʼn jongeling van die oudae toe hy in ballingskap was. As deel van die ANC-span wat Zuma in sy 2015-bedrogverhoor in Pietermaritzburg ondersteun het, het Ramatlhodi weer met Duduzane en sy tweelingsuster, Duduzile, te doen gekry omdat hulle gereeld in die hof was om hul pa te ondersteun.

Ramatlhodi het getuig Duduzane het aanhoudend daarop aangedring dat hulle mekaar ontmoet. Ses maande nadat hy as minister aangestel is, het die twee mekaar ten tyde van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering in die St. George’s-hotel in Irene, suid van Pretoria, ontmoet.

“Hy het vir my gesê dis jammer dat ons mekaar onder sulke omstandighede moet ontmoet en toe gesê daar was gerugte uit minstens twee bronne dat ek sleg van hom en sy sakevennote die Guptas praat, en dat ek gesê het hulle is by misdaad betrokke. Hy het Ajay Gupta genoem,” het Ramatlhodi gesê.

“Ek het vir hom gesê: ‘Duduzane, jy is so goed soos my seun. Waarom sal ek rondhardloop en vir mense vertel jy pleeg ʼn misdaad? Ek sal nie eens jou pa vertel nie… Ek sal jou ontbied en jou vra hoekom jy by misdaad betrokke is.’ Hy het gesê hy het sy pa klaar ingelig. Ek het gesê: ‘Nou ja, ek sal jou pa vertel wat ek jou nounet gesê het.’”

Duduzane het toe voorgestel dat die minister vir Ajay ontmoet en verduidelik wat hy bedoel. Die oudminister het geweier.

Maande later, ná nog pogings om hom en die Guptas bymekaar te laat uitkom, het hy een Vrydagaand ʼn radelose oproep van Duduzane gekry toe dié daarop aangedring het om hom te spreek.

“Ek het gesê ek sou hom die Maandag ontmoet. Dit was nie ʼn vriendelike oproep nie; daarom moes ek versigtig wees. Ek het my amptenare gevra waarom dié seun my so graag sou wou sien. Hulle het my foto’s gewys van mense wat in ʼn Gupta-myn werk… Ek meen dit was ʼn uraanmyn.”

Duduzane wou die destydse minister spreek oor die gebeure by die uraanmyn. Ramatlhodi het bygevoeg hy het die mag om bedrywighede op te skort. Hy het toe op Duduzane se aandrang besluit om die oudpresident in die Uniegebou te spreek.

Hy het aan Zuma gesê niemand behoort hom soos sy seun te nader nie. “Sê hom asseblief hy moet die regte kanale volg en my deur my amptenare nader.” Volgens hom het Zuma in Zulu geantwoord: “Dis alles reg, my vriend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarheid ·

So ramapaddapot – waarom is niemand nog agter tralies nie?
Omdat jy kop in een mus is met hulle?

Ja Nee ·

Brothers kyk na mekaar, die anc sal altyd die anc eerste stel nooit die land nie. Die blankes sal altyd in die minderheid wees, jul sal moet aanpas of “ship out”!

humor ·

Die pot vir paddas het toe ontaard in n pot met integriteitlose rowerspelonk wat selfs die regeringsamptenare nie kan ontvlug nie. Wat gaan die werklike uiteinde wees kan ons maar net dink. Wie gaan uiteindelik hierdie mooi land regeer as ons lankal nie meer daar is nie. Hoeveel oorloe gaan nog oor hierdie aardbodem uitbreek?

Alida ·

As hierdie kommissie afgehandel is gaan die poppe dans. Wag maar julle sal sien. Ou Zuma moet nog getuig.

Dries du Toit ·

En toe. Wat toe. Maroela. Seker gaan die storie nog aan. Wanneer het Zuma toe vir Ramatlodi gefire

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.