Duduzane Zuma glo by lughawe aangehou

Duduzane Zuma. Foto: africa.widmi.com

Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, is volgens talle berigte Donderdag by sy aankoms op die OR Tambo-lughawe in Kempton Park vlugtig deur die Valke aangehou.

Zuma het dié week na Suid-Afrika gereis om Saterdag sy broer, Vusi Nhlakanipho, se begrafnis by te woon nadat hy Sondagaand aan lupus in die Milpark-hospitaal dood is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, wou nie op bewerings oor Zuma se aanhouding reageer nie. “Inligting met betrekking tot Duduzane sal Maandag bekend gemaak word. In dié stadium is daar geen verdere kommentaar nie,” het hy gesê.

Zuma, wat die land vroeër vanjaar verlaat het te midde van bewerings van staatkaping teen talle van sy sakevennote, waaronder die omstrede Gupta-familie, is onlangs gedagvaar om op 12 Julie in die landdroshof in Randburg te verskyn op aanklag van strafbare manslag.

Dít kom nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in April vanjaar bekend gemaak het dat hy Zuma gaan vervolg in verband met ʼn noodlottige motorongeluk in Februarie 2014 waarin een persoon dood is en twee ander kritieke beserings opgedoen het.

Die geregtelike ondersoek wat ná die ongeluk plaasgevind het, het bevind Zuma was nalatig en dat hy vir strafbare manslag vervolg kan word. Die NVG het egter daarna besluit om hom nie te vervolg nie, maar later weer besluit om hom wél te vervolg nadat die burgerregte organisasie AfriForum aansoek gedoen het vir ʼn nolle prosequi-sertifikaat om hom privaat te vervolg.

Vusi se begrafnisdiens sal Saterdag by die Rhema Bible Church in Randburg gehou word. Hy sal daarna in die Wespark-begraafplaas ter ruste gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

hendrik ·

Hy is n voortvlugtige en moet dadelik toegesluit word in n sel. Hy verloor ook sy reg om sy broer se begrafnis by te woon.

Anoniem ·

Konfiskeer asb sy paspoort. As hy eers die land verlaat het na die begrafnis, is dit neusie verby, dan sien SA hom nie weer nie.

wraggies ·

Lyk my daar is geen wil om iets daadwerklik te doen nie.

Helen ·

Lees die berig mooi “Inligting oor Duduzane sal eers Maandag bekend gemaak word” m.a.w. nadat hy reeds weer die land verlaat het. Dit is genoeg om jou naar te maak!

Die Verlore Skaap ·

Vlugtig deur die Valkies aangehou…….totdat hy hulle afbetaal het.
As you do ofcourse

Adam ·

Die Valke kon hom nie aanhou want hulle het nie n lasbrief gehad nie Nou wil ek graag weet waar is die een wat kamma vir die melk plaas korrupsie uitgereik is Valke het nie tande nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.