Duduzane Zuma in Zondo-soeklig

Duduzane Zuma. (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Duduzane Zuma het Maandag bewerings deur die voormalige minister van finansies Mcebisi Jonas – dat hy nooit ingelig is oor ʼn vergadering by die omstrede Gupta-familie se huis in Saxonwold nie – as onwaar afgemaak.

Oudpres. Jacob Zuma se seun het vandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek verskyn en het sý weergawe van gebeure gegee te midde van bewerings dat hy die sogenaamde Gupta-koppelaar was in bewerings van staatskaping wat teen politici en die Guptas gemaak word.

Jonas het verlede jaar getuig dat Duduzane, ʼn voormalige sakevennoot van die Guptas, hom na die familie se Saxonwold-herehuis geneem het, waar hy omkoopgeld van R600 miljoen aangebied is om as minister van finansies oor te neem, maar ook te doen wat die Guptas gebied.

Duduzane het gesê Jonas se weergawe – dat hy nie geweet het die vergadering, wat in 2016 gehou is, het van Rosebank na die Gupta-woning geskuif nie – is vals. “Hoekom sou hy in my motor spring sonder om te weet waarheen hy gaan? Ek het ʼn oproep ontvang terwyl ek saam met Jonas by die Park Hyatt-hotel was en daar is besluit om die vergadering in Saxonwold te hou.

“Ek het vir Jonas gesê ons moet vir privaatheid na Saxonwold gaan.”

Duduzane het voorheen al die vergadering met Jonas bevestig. Toe het hy gesê dit was om “sekere gerugte” tussen die oud-adjunkminister en die sakeman Fana Hlongwane, na wie Duduzane as “oom” verwys, uit te stryk.

Hy het gesê daar was gerugte dat Jonas beweer het Hlongwane het hom “afgepers” en dat hy dit nodig geag het om die twee te help versoen.

Adv. Phillip Moekoena, die getuienisleier, het Duduzane gevra waarom die vergadering nie eerder by sy eie Saxonwold-huis of by ʼn kantoor, eerder as die Gupta-woning, gehou is nie.

“Jy en mnr. Hlongwane was na aan mekaar. Die vergadering is nie in privaatheid by jou huis of kantoor gehou nie. Is dit só gedoen bloot omdat daar ʼn Gupta-broer sou wees,” het Mokoena dit aan Duduzane gestel.

Duduzane het gesê dit was nie die geval nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Duduzane weet hoekom hy, wat nog glad nie vir Jonas ontmoet het of selfs sy foonnommer gehad het nie, die vergadering tussen Jonas en Hlongwane sou fasiliteer.

Duduzane het getuig hy het dit uit sy eie gedoen omdat hy bekommerd was oor die moontlike negatiewe uitwerking van die gerugte.

Jonas het destyds getuig Duduzane het die vergadering deur oproepe en SMS’e gereël. Die twee het eindelik by die peperduur Hyatt-hotel ontmoet, waar Duduzane heeltyd gesê het dat sy pa baie van Jonas hou. Jonas het getuig hy is daarna na die Gupta-huis geneem om “meer mense” in privaatheid te ontmoet.

Hy het getuig Hlongwana was ook daar. Ajay Gupta het Jonas dáár die posisie van minister van finansies én R600 miljoen aangebied om in ʼn rekening enige plek ter wêreld te versteek.

Ajay het by Jonas gespog dat die familie ander mense ryk maak, ook vir Duduzane, wat volgens hom ʼn miljardêr geword het.

Jonas het getuig Hlongwana en Duduzane het nie ʼn woord gerep terwyl die aanbiedinge gemaak is nie.

Volgens Jonas se weergawe het Ajay hom daar en dan boonop R600 000 aangebied toe hy opgestaan het om te vertrek vir ʼn vlug na Kaapstad. Jonas het getuig hy het al twee aanbiedinge van die hand gewys en is weg by die Gupta-huis.

Duduzane word aangekla van oortredings wat verband met die R600 miljoen-omkoopgeld, maar ontken enige betrokkenheid daarby ten sterkste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Magda ·

Appel val nie ver van die boom af nie – Glo nie n woord wat hy se nie.

Pieter ·

Stem sy pa as dit sy pa is het hom geleer om te se ek weet niks

Sean ·

Die manne het mijoene in buitelandse rekening waarvan niemand niks weet en nooit sal weet nie

Arrie ·

As jy sukkel om net darem R600 se kos op die tafel te kry as n SASSA Pensioenares, dan kook jou bloed vir hierdie godeloosheid vir manne wat praat van R600 miljoene.

Willie ·

Die ou aanvalswapen, of ontkennend dan jy is rassisties! Pateet! Wat het julle anders verwag van sy verdediging!

Martie ·

Kyk as daar nou een ding is wat hulle goed kan doen is om spek te skiet.

Johann cb ·

Skielik sing DZ soos ‘n kanarie! Wie sit daaragter? Wié beskerm vir wié?

Hansie Slim ·

Hy is nog meer geslepe as sy pa!!
Praat van miljoene asof dit sente is!! Ek sukkel om te begryp hoe die manne dink!!!
Nee, hulle is nie manne nie!! Hulle is….nee los maar!!!

GP ·

Die kommissie is mors van geld. Watter doel dien dit anders om klomp regters net skatryk te maak en belasting geld te mors. Vervolg eers paar kriminele en ondersoek dan die ander duisende wat nog rondloop, anders bly dit net by praat.

Hartseer ·

Is daar al een skelm gevonnis of skuldig bevind of opgesluit as ‘n uitkoms van hierdie kommissie? Ek betwyfel dit sterk. Hierdie kommissie kos die belastingbetaler honderde miljoene en bereik niks. Net ‘n klug.

Cherokee ·

Zondo-kommissie van Ondersoek blyk niks anders as verdere werkskepping te wees.

JohanR ·

Die van “Zuma” is nou soos om aan iemand voorgestel te word met die van “Hitler”, en eerste naam “Adolf”. Kan jy enigeiets glo wat ek hulle bek uitkom?

Koos ·

Hierdie klein gladde jakkals hou homself vreeslik onskuldig, maar hy is ‘n groot skelm uit-en-uit !!!

Maak of hy niks weet van die Guptas en sy pa se skelmstreke nie, maar oes miljoene rande se staatsgeld in die tyd toe dit pap gereën het.

Trap hom vas, verkoop hy en sy pa se bates en dan sal jy vinnig hoor hoe sing hierdie kanaries al hul maatjies en dié se skelmstreke uit aan die Zondo kommissie.

Gert van Wierdapark ·

Wonder of hy met sy gladde and Porsche by die verrigtinge opgedaag het.? Kan M /Media asb vir ons uitvind of daar enige endossemente teen sy bestuurslisensie gemaak is na sy ongelukke waar n taxi-passasier dood is?

Ella ·

Lyk my hy het ook vooraf sy vrae gekry want hy LEES sy antwoorde van papier af in die derde persoon asof dit opgestel is om voorgelees te word.
Watter soort getuies is dit?
Die kommissie is n klug en geld mors.
Hulle praat van R0 000 000 soos ek van R6 praat want hulle kry dit verniet.

Heksie ·

Hierdie Zondo kommissie is ‘n mors van ons belastinggeld, hierdie lot lieg almal deur hul tande! en as jy die waarheid praat soos Watson, word jou draadjie kort geknip!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.